
Deur Tania Smit
HEKELWOORDE VAN MY HART (2)
Onse reënboogland se mense hekel toevoukomberse vir ons nageslag met ons woorde en ons dade en ons gedagtes van elke dag.
En vir my het ons nasie net vier kleure mense – en dis nie die kleur van ons mense se velle nie, dis die kleur van die komberse wat ons vir ons kinders hekel.
Die blou span is die mense wat vir almal ’n plek in die son gun. Hulle herken mekaar, kyk uit vir mekaar, en help mekaar.
Die blou span huil ook saam en bekommer oor ons land, maar bedags bou ons brûe na al die reënboogmense se harte toe, en snags sit ons saam met ons mense voor die vuur, en hekel ons nageslag se komberse met drade van geloof, hoop en liefde. Hierdie span se mense praat in al elf tale, hul velle is al die kleure van die reënboog, en hulle nageslag se komberse is blou, en warm en sterk.
Die rooi span is die mense wat meestal altyd kwaad is. Hulle skree op mekaar in restaurante, swaai vuis in die strate en moan altyd op sosiale media. Hulle hou van twee keer praat en een keer luister, hulle stemme klink soos aardbewings, en hul woorde soos tsoenamis.
Hulle koppe skakel nooit af nie, want hul stemme is nie hard genoeg dat almal kan hoor wat hulle wil sê nie. En hulle arms te kort om al hulle kwaad uit te deel vir die wat dit toekom. Bedags val hulle hekelpenne uit hulle sakke uit terwyl hulle baklei, hulle wol lê verstrooi oor die strate, en snags as hulle wakker lê van kwaad, knoop hulle gatkomberse met vloekvingers aanmekaar vir hulle nageslag.
Die span se mense praat ook elf tale, en hulle velle is ook al die kleure van die reënboog, maar hulle nageslag se komberse is rooi.
Bloedrooi.
En dan kom ons by die groen span. Dis die span wat sy buurman se hekelwerk uittrek om hulle wol te steel, omdat ander se wol altyd mooier lyk as hul eie. Ook die mense wat ’n hekelkomitee wil stig, wette wil opstel om hekelwerk te reguleer, maar self nooit ’n steek gewerk het in hul lewe nie.
Hulle nageslag se komberse kom nooit klaar nie, want snags, as hulle saam met hul mense voor die vuur moet sit en komberse maak, snork hulle grootbek en lui onder sylakens en droom van vet varke en goue lepels. Die span se mensvelle is alle kleure van die reënboog, hulle praat ook elf tale. Hulle komberse is bont, gemaak van al die lap wat by ander gesteel is, en word met groen wol aanmekaar gewerk met lomp uitrafelsteke waardeur die wind kindertjies koudwaai.
En laastens is daar die onhekelaars, die wat nooit leer hekel nie. Want hulle arms leer nooit optel nie. Want snags kom daar ’n voëltjie en hekel twee steke vir elke kind se kombers.
En bedags rafel die onhekelaars daai hekelwerk uit, en verkoop die wol aan die groen, blou en rooi spanne vir kos.
Ons land is ’n lappieskombers, gehekel en saamgewerk deur elkeen in ons reënboognasie se beste probeer. En saam hekel ons die toevoukomberse wat ons nageslag eendag moet warm hou en beskerm teen die winde van ver-andering wat nooit ophou waai nie. En teen moeder Afrika se son, wat soel maar ongenaakbaar haar lig altyd oor die kinders van Afrika sal laat skyn.
Ek is ’n kind van Afrika, en my trop herken ek nie aan die kleur van hulle velle nie, maar aan die kleur van die hekelkomberse wat by die nate van hulle harte uitsteek.