Deur Johan Strasheim
Dit is iewers in November 2016. Romana en ek is op pad dorp toe een Saterdagoggend toe my selfoon lui. Dit is Derick.
“Hallo Derick, hoe lyk dinge?” “More oom Johan, nee, dit gaan goed. Waar is oom?” “Op pad dorp toe.
Hoekom vra jy?”
“Wil oom ’n klein Elandjie hê?” Hy weet ek het maar ’n sagte plek vir wild – en natuurlik ’n wildkamp!
“Natuurlik Derick! Hoe oud is hy?”
“Sopas gebore oom Johan. En dit is ’n sy – ’n versie.”
Ons ry verder in ’n kort oomblik se stilte. Ek het die telefoon teen my oor en ek dink. Hard. Dit was nou nie heeltemal wat ek verwag het nie.
“Derick, het julle biesmelk?”, vra ek ewe intelligent. Biesmelk vir ’n pasgebore kalfie is baie belangrik vir die oordrag van immuniteit van die ma af omdat die pasgebore kalf self omtrent geen teenliggaampies het nie. Dis nou hoe dit by beeste werk in elk geval. Ek raai maar dat dieselfde by Elande van toepassing is.
“Nee oom Johan, ons het nie.”
“Hmmm … OK Derick, ons kom. Waar is jy?”
Hy verduidelik waar hulle is en gee so bietjie agtergrond oor die kalfie. Die manne was besig om diere uit te dun op die plaas want hulle word te veel en die veld sou skade kry. Dit is natuurlik normale praktyk op ’n wildplaas. In die proses is ’n volwasse elandkoei geskiet. Toe hulle naderstap om te kom laai, sien hulle daar is ’n ongebore kalf wat asulke knoppe op die pensvel na buite toe druk. Hulle dink vining en doen ’n “nood keisersnit”, pluk die kalf uit en sny die naelstring af. Na ‘n paar drukke en bietjie vryfwerk haal die kalfie asem maar is nog heeltemal pap. Dit is toe net daar waar ek gebel word.
Ons kom vol verwagtig so ’n halfuur later op die toneel aan. En daar lê die tingerige, nat klein perfek geskape elandkalfie met sulke sagte donker ogies op ’n groen seiltjie. Haar hoefies was nog sag, wit en amper jellierig. Ek het geraai sy was seker so ’n week prematuur gebore want sy kon nog nie self staan nie. Die manne bespreek die spul en ek kry raad oor die voeding; Beesmelk met eiergeel en vitamienpoeier in ’n Cokebottel met ’n rubbertiet vir kallers wat ek by die Koöperasie kan kry. Elke twee ure vir eers. Dit kan ’n probleem wees.
Daar gaan ons toe. Ek bestuur en Romana sit met die pasgebore elandjie met haar groot donker oë en nat naelstringetjie op haar skoot, in haar arms. Die pragtige bokkie is piepklein en lyk heeltemal weerloos.
Ons aandag is natuurlik op die reuseverpligting wat ons so pas op onsself geneem het. Ons praat weer deur die melkresep met al die aanbevole “slanggiffies en goedjies” wat daarby moet kom. Ons besluit toe, nee wat, dit gaan te erg wees en daar moet iets makliker en meer effektief wees. Toe ons die dorp inry, besluit ek om te gaan hoor wat die Koöperasie ons kan bied om dalk te help.
Ek spring by die voerstoor uit en draf by die kantoor in.
“Ralph, het jy poeiermelk vir kallers?”
“Ja meneer” Hier is dit.” Hy beduie oor sy skouer na die klomp emmertjies. Hy draai half om en haal ’n emmertjie van die netjiese stapel langs die muur agter hom af. Ek koop een en is daar uit, ten minste nou gewapen met ’n paar kilogram “formule” vir baba Elande!
Nou ja, die Elandkalfie kry summier die naam “Ella” nog voor ons op die plaas kom en vir eers haar intrek in die waskamer op ’n kombers neem. Die eerste paar dae was sy nog te swak om te staan en die ou dun beentjies het vanself uitmekaar gegly wanneer sy probeer. Gelukkig het sy dadelik die rubbertiet met aanmaakmelk aanvaar en van die begin af goed gedrink. Dankie tog! Ek en Romana neem maar albei deel met die bottelgee, en Ella vat die bottel geredelik by albei van ons. Ons klein swart springbok weeskind – Manie – was meer vol streke en wou niks van ’n bottie by my weet nie.
En so gaan die dae verby. Dae word weke, weke word maande en die maande word jare. Ella groei mooi en bly baie mak en vriendelik. Die leë emmetjies word meer en later is dié fase ook verby, maar sy was maar ’n lekkerbek en het die bottels nog baie geniet tot sy al skouerhoogte gedrink het. Sy trek eers in ’n klein draadkampie onder in die erf in, toe na ’n groter kampie, toe na nog ’n groter kamp en uiteindelik wildkamp toe. Elke keer word sy eenvoudig gelok met iets lekker sodat sy saamstap na die volgende kamp in die pad af, sonder enige drama. Tot vandag toe kom sy steeds elke keer aangehardloop draad toe wanneer sy ons hoor of sien.
Ella, ons Elandkind. Wat ’n plesier is sy nie. Hoe kan mens ooit so ’n ervaring vergeet?
Ons Ellakind
Deur Johan Strasheim