Deur Liesel le Roux
Die meeste inwoners van die Groter Oudtshoorn sal waarskynlik nie hul oë en ore kan glo oor die graad van chaos wat soms by raadsvergaderings uitbreek nie. Dinsdag se raadsvergadering was geen uitsondering nie.
Maar moenie te vinnig vinger wys nie, want inwoners van die dorp is self die oorsak van ’n groot deel van dié chaos. Inwoners in die openbare galery sit deesdae en skree luidkeels opmerkings en selfs beledigings – veral gemik op DA-raadslede – duidelik min gepla oor respek vir die raadsproses. Dinsdag was drie oud-raadslede – Angeline Lekay, Ben Pannas en Elaine September – ook in die raserige galery en het Pannas luidkeels meegedoen.
Inwoners in die openbare galery het hul nie gesteur aan versoeke van die speaker, Julia le Roux, tot stilte nie. Van die mense het openlik gesê hulle sal nie die raadsaal verlaat as hulle gevra word nie. Die media was verstom toe ’n sekuriteitsbeampte boonop op versoek van inwoners aangesê is om die raadsaal te verlaat.
Waar rumoerige lede van die publiek onder vorige raadsbeheer dikwels gevra is om die raadsaal te verlaat, fisiek verwyder is of selfs die raadsaal belet is, is die huidige speaker se hande klaarblyklik afgekap om op te tree behalwe om ’n versoek tot orde te rig. Die waarnemende munisipale bestuurder, Reginald Smit, het aan die vryskutjoernalis Garnett Wicomb gesê die speaker kan nie wetstoepassingsbeamptes opdrag gee om lede van die publiek te verwyder nie omdat die ordereëls van die munisipaliteit nie daarvoor voorsiening maak nie. Die Hoorn ondersoek dié aangeleentheid verder.
Dit is egter net regverdig om daarop te wys dat enkele raadslede se optrede ook tot onmin en ’n opsweping van emosies lei. Een voorbeeld: Raadslid Vlancio Donson (Icosa) wat tydens een van die talle kere wat hy op sy voete was (en nadat hy herhaaldelik deur die speaker tot orde gemaan is), gedreig het dat “ons die raadsaal onregeerbaar gaan maak”. ’n Navraag aan die munisipaliteit oor dié stelling van Donson is teen druktyd nie beantwoord nie. Die Hoorn volg dit ook met Icosa op om te probeer vasstel wat Donson daarmee bedoel het.