Bikers brul Sondag vir die Oudtshoorn Diereskut

Motorfietsryers verlede jaar by die Oudtshoorn Diereskut tydens 'n uitreikaksie.

Motorfietsryers verlede jaar by die Oudtshoorn Diereskut tydens ‘n uitreikaksie.

Deur Ilze-Mari Gründling
INWONERS van die Suid-Kaap kan uitsien na en betrokke raak by ‘n groot insamelingsprojek Sondag vir die Oudtshoorn Diereskut.

Die jaarlikse Paws in Need Run – ’n inisiatef om komberse en kos vir die Oudtshoorn Diereskut in te samel – vind dié dag plaas. Fondse sal aangewend word vir die betaling van veeartsrekenings.

Dié fondsinsamelingsaksie word deur die Bikers vir Liefda­digheid-Faceboekgroep van George en die Free Bikers Allegiance-klub van Oudtshoorn gereël. Sowat 100 motorfietsryers en passasiers het verlede jaar deelgeneem.

Hierdie jaar sal die Renegades, Hell’s Angels, die BMW-klub en Guns & Roses-klubs deelneem asook plaaslike en private motorfietsryers.

Die Paws in Need Run begin om 11:00 by die Engen Garage (oorkant Virgin Active) in George. Motorfietsryers vertrek van daar na die parkeer­terrein by Pick n Pay in Oudtshoorn waar kaartjies teen R50 te koop sal wees. Die kaartjies sluit ’n sakwapen (badge), koffie of tee asook ’n inskrywing vir ’n gelukkige prystrekking by die skut in. Pryse is onder meer R1 000 kontant, toere van die Kango Grotte en die Safari Volstruisplaas, ontbyt by Kleinplaas, ’n knipmes en naweekverblyf by die Ou Tol. Kaartjies sal vanaf 10:30 by Pick n Pay en vanaf 12:00 by die skut beskikbaar wees (jy moet teenwoordig wees om ’n prys te kan wen).

Komberse en kos kan by die Pick n Pay-parkeerterrein of die diereskut afgelewer word. Koffie en tee sal by die skut beskikbaar wees.

Alle diereliefhebbers – ook sonder motorfietse – is welkom om met hul motors van Pick n Pay na die skut te ry.

Navrae: die Free Bikers Allegiance Klub (Oudts­­hoorn, 071 411 5098) of Bikers vir Liefda­digheid (George en Mosselbaai) by 083 382 4510.