Deur Johan Strasheim
EK en Romana het al baie van die wêreld gesien en ervaar. Baie lande is fantasties om te besoek, mooi en dit is aangenaam daar. Toe gaan ons Egipte toe.
Dit is die jaar 2003 en ons land het ’n taamlike groot en bedrywige voertuigvervaardigingsbedryf met ’n aantal van die groot name wat al baie jare hier motors bou en uitvoer.
Ek was in daardie stadium by Tuk-kies en baie betrokke by voertuigvervaardiging – en veral die skakeling van die akademie met die bedryf. Navor-sing kos geld!
In die loop van my aktiwiteite is ek dié jaar genooi om ’n referaat te lewer by ’n internasionale voertuigvervaardigingskongres in Kairo, Egipte.
Die onderwerp moes handel oor hoe die akademie in Suid-Afrika met die motorbedryf saamwerk om navorsing en opleiding te stimuleer en befonds. Soos hulle sê… right down my alley.
Nou ja, ons is soontoe om die kongres by te woon, my referaat te lewer en dan natuurlik die plek bietjie te ervaar. Dit is after all ’n land met ’n baie ou en ryk geskiedenis. Wel, dit was ’n erva-ring en ’n half en elke hoogtepunt het ’n storie. Die piramides by
Giza was iets om te ervaar. ’n Selfaangewese gids by ’n deur het sy misnoeë te kenne ge-gee oor die klein bedrag wat ek vir hom as fooitjie gegee het. Toe vat ek dit maar terug en vertel hom in goeie Afrikaans wat hy kan gaan doen.
Alles kort woorde – en ’n lekker lawaai. Egiptenare oor die algemeen is intens verby en maak oral ’n oorlas van hulleself. Die
Kairo Museum was ook besonders en die geskiedenis bitterlik oud en baie boeiend en vol romanse en intrige met karakters soos Ramses, Cleopartra, Nefertiti, Tutenkamen en die mummies … te veel om op te noem. Die misterieuse verhale hoe die grafkelders gebou en ontdek is, kry voor jou oë gestalte. Romana met haar blonde hare het gedurig aandag getrek by die plaaslike klomp. Dit was baie oulik totdat een jongetjie haar so ewe aan die boud knyp en ek ewe verontwaardig met groot lawaai die spul laat spaander.
Die bootrit en aandete op die Nylri-vier – kompleet met belly dancers – was nogal iets om te onthou. Daarvoor het die omgekrapte maag die volgende dag gesorg. Jy kon letterlik niks eet of drink wat nie in ’n bottel of blik toe is nie – veral water.
Jy kan nie waag om daarheen te gaan sonder ’n gids of plaaslike kontakpersoon nie. Ons het so ’n persoon van die ambassade gehad wat alles gereël en ons bygestaan het. Dit het baie gehelp.
Wat onthou ek veral van Egipte? Hoe vuil dit was!
Kairo was verskriklik vuil. As jy dit ervaar het, kerm jy nie sommer oor ons land nie – en hier is ’n paar plekke wat erg is. Die groot strate was taamlik, maar sodra jy een blok wegbeweeg was dit net een vullishoop langs die pad. Daar word ook na willekeur bokke en hoenders sommer langs die pad geslag!
Die hoë geboue was byna almal onvoltooi aan die bokant en die inwoners het eenvoudig hul rommel daar uitgegooi sodat die son dit uitdroog en die wind alles wegwaai. (Skynbaar iets te doen met ’n belasting wat inskop sodra ’n gebou klaar gebou is.)
Elke oggend as die dik miswolk oor die stad opgelig het, kon jy dit duidelik uit die hotelkamer se venster van bo af sien. Aaklig.
Die verkeer in Egipte was ook erg. Daar was nêrens werklik enige strepe op die pad nie, geen verkeersligte nie en soveel toetende strome motors as wat langs mekaar kon inpas. Mense het ook op enige plek oor die pad geloop en ons gids het net telkemale gesê: “Walk like an Egyptian, walk like an Egyptian” – wat beteken het: “Hou net aan beweeg en moenie stop nie!”
Die aand op pad na die lughawe was werklik soos iets uit ’n rolprent… Ons twee in ’n stokou Fiat-karretjie (die toeter het natuurlik gewerk), sat vere, ’n sat, diep agtersitplek en ons tasse op die dak vasgemaak met ’n tou. Kan jy dink!
Die drywer het ewe kordaat al wippende in die verkeer ingeskiet en gou was ons in ’n rivier karre – ses strome voertuie op ’n pad wat vier bane moes hê! Almal natuurlik volspoed. Ons het maar vasgeklou en skietgebedjies het nuwe betekenis gekry.
Ons was so bly om die lughawe te haal! Ek sou die grond gesoen het as dit nie so vuil was nie!
O ja … die kongres. Ek is die dag voor die tyd laat weet ek moet nie meer kom aanbied nie aangesien my onderwerp vir hulle klink asof ek daar wil kom bemark. Dit, nadat ek genooi is. Dit is die reine waarheid en soos hulle sê: “OIA – Only in Africa”.
Ons is daar weg terug Johannesburg toe met EgyptAir, maar dít gaan ’n riller van ’n storie op sy eie wees!
Wat ek steeds nie verstaan nie, is hoe die piramides gebou is. Wat ek wel verstaan, is waarom die Israeliete destyds nie kon wag om daar weg te kom nie!
