’n Klein stukkie van die meestal ongerepte 2,500km Mosambiekse kuslyn. ’n Vlug al langs die kus af is ’n spesiale ervaring. Foto: Johan Strasheim
Mosambiek was die laaste tyd baie in die nuus, ongelukkig vir die verkeerde redes. Die moeilikheid daar is darem meesal in die verre noorde van die land in die Cabo Delgado-provinsie.
As ek die nuusberigte lees, sien ek die name van plekke wat ek soms tydens my tyd in Mosambiek besoek het. Die Mosambiekse kus kan ek maar net beskryf as “oorspronklike Afrika”.
Dié ongelooflike lang kuslyn is beeldskoon en ek sidder as ek die aaklige beelde sien van die geweld wat daar onlangs gepleeg is. Ongelukkig is soldate met ammunisie-stringe oor hul skouers en hande vol outomatiese wapens en kapmesse ook op ’n manier deel van Afrika.
Ek word gereeld uitgevra oor die tyd wat ek in Mosambiek besigheid gedoen het. Dit was ’n uitsonderlike ervaring wat selfs op ’n uitsonderlike manier weggespring het. Ek is letterlik binne ’n kwessie van weke uit die beskaafde en baie geordende omgewing van die akademie met lesingsale by ’n universiteit en die raadsale van die motorbedryf reguit na die wildernis van Mosambiek as grootwildjagondernemer.
Weg was die formele titel en pakke klere. Dit was ’n taamlik radikale verandering, maar as bedryfsingenieur was dit maar net nog ’n nuwe stelsel om te analiseer, te ontdek en te verbeter!
Om ’n jagkonsessie diep in die Zambesi-delta te bedryf, het sy eie unieke uitdagings. Wanneer jy in die “beskawing” woon, aanvaar jy baie dinge as vanselfsprekend. Alles is maklik en binne bereik – veral plekke soos vulstasies en kruidenierswarewinkels. Die lewe werk op ’n ander vlak in plekke soos Mosambiek en dit lei soms tot erge logistieke uitdagings.
Ons het probeer om meeste van die kos en ander verbruiksitems in te vlieg en kon taamlik byhou met propvol, gereeld oorlaaide vliegtuie. Die doeane-oefening by die lughawe waar jy die land verlaat – Nelspruit of Polokwane – was telkens ’n spesiale karaktertoets.
Ek sal nooit vergeet nie hoe die amptenare na die vliegtuig kyk met groot oë – veral wanneer daar ’n nuwe persoon in die lughawespan begin werk het.
Dit was alledaags om die land te verlaat met ’n nuwe platskerm-TV of drie in die vliegtuig. Hierdie TV’s was in daardie stadium nie beskikbaar in Mosambiek nie en al wat amptenaar by die lughawe was, het in die tou gestaan vir een. Ek het die goed hier gekoop en aan die doeane- en immigrasiemense by Beira Lughawe verkoop. Eintlik gefinansier. Die manne het dit met rukke en stote darem afbetaal.
Op dié manier (maw as hulle ons geld skuld) kon ons reken op die beste prioriteitsbehandeling denkbaar en is daar nie vir ’n oomblik ’n wenkbrou gelig nie oor die groot klomp proviand – hopeloos meer as die toegelate beperkings – wat ons ingevlieg het jagkamp toe. Veral wyn en hardehout was ’n potensiële pro-bleem. Die plaaslike wyn en sterk drank in Mosambiek is ongelooflik sleg en ons wou darem nie die gaste wegjaag nie!
In die jagkamp was my plek aan die kop van die lang eetkamertafel, met Marius, my senior beroepsjagter, aan my regterkant. Agter my was die opskeptafel waar almal hulleself kon help – buffetstyl – met deurentyd te veel kos. Regs agter my was daar twee manne op diens om die tafel te diens – gewoonlik Fransisco en Antonio. (Antonio se bynaam was Galinha – wat “hoender” beteken in Portugees.) Die manne se name weerspieël steeds die sterk koloniale Portugese invloed. Ons plaaslike werkers daar, was ’n klomp werklik goeie ouens. Brandarm volgens ons standaarde, maar steeds 100% betroubaar en altyd vriendelik. Dit was so lekker om met sulke eerlike mense te werk en ons het ’n groot span in diens gehad.
Ek onthou een aand in die kamp baie goed. Toe ek aansit om te eet, merk ek op dat die kleinbordjies nie servette op het nie, maar elke bordjie het ’n netjies gevoude twee velletjies “two-ply” toiletpapier in plaas van ’n servet op. ’n Vinnige kyk reg om die tafel … en, ja, elke bord het toiletpapier op. Ek tik Marius op die skouer en wys dit uit. Soos een man draai ons om na die twee manne skuins agter ons.
Die skuldige gesiggies sal ek nie gou vergeet nie. Hulle verduidelik dadelik gelyktydig in brabbelende Portugese Fanakalo dat daar nie meer servette oor was nie en hoe jammer hulle is dat hulle vergeet het om te sê dit raak op. ’n Vinnige verduideliking aan die gaste ineengevleg met ’n grappie oor dinge wat maar anders in Afrika is, en alles was wel. Wat kan jy tog nou doen?!
Hulle het maar ’n plan gemaak. So iets klein word ’n probleem wanneer die naaste Shoprite ’n 850 km “round trip” Chimoio toe is – waarvan so 130 km op ’n tweespoor-bospaadjie in die donkerste donker nag is. Dit was ’n 18 uur-trippie soontoe en terug. Ry uit die kamp uit so teen drieuur die oggend om hopelik vanaand teen negeuur, heeltemal pootuit, terug te wees as daar niks verkeerd gaan langs die pad nie. Dit was ook waar ons brandstof vir die bakkies in drom-me moes koop om terug te neem kamp toe. Daai Landcruisers en die manne het maar hard gewerk.
Wanneer ek terugdink aan die tye daar, dink ek aan die verbetering in die dierepopulasies wat ons teweeg-gebring het, die verruklike mooi natuurskoon, die afgeleë, fantastiese groot, oop strande, die stilte en die sigbare tekens dat tyd oënskynlik daar stilstaan. En die goeie manne wat al die jare vir ons gewerk het en wie ons summier moes agterlaat.
Ek wonder nog gereeld hoe dit met die manne daar in die bos gaan nadat ons daar weg is.
