Moenie paddas gaan vetmaak vir slange nie…

Deur Poem Mooney

Dit was weer een van daardie snikhete dae op Oudtshoorn. Eintlik was ek deur die hitte gedwing stoep toe, om die oggendlug in te asem. Ek het koffie gemaak en ’n lekker kos-toebroodjie. Ek was besig om te eet, toe ek Ousie Roeslyn by die tuinhekkie gewaar. Sy het my luidkeels gegroet en ek het haar hartlik binne genooi, vir haar ’n heerlike, lekker koffie aangebied. “Môre, Gert,” het sy my vir die tweede keer gegroet. “Ek is so bly ek kry jou hier, want ek het die hele nag aan jou gedink.”

“Sal Ousie ’n kosbroodjie saam met my eet?”, het ek oor my skouer gevra, terwyl ek heimlik gewonder het waaroor sy aan my gedink het. “Waar is tannie Kate, as Ousie so vroeg alleen kom kuier,” het ek gevra toe ek die kosbroodjie voor haar neersit, “en waaroor het Ousie vannag aan my gelê en dink?” Ousie Roeslyn het behaaglik aan die koffie geteug en toe begin sy praat: “Jong, sy is weer saam met die klomp ‘Civies mense’ na ’n vergadering toe by die munisipaliteit oor huise.

Hulle het hierdie ding al van verlede week af beplan. Ek het vanmôre besluit ek gaan nêrens heen nie. Ek het hard met haar gepraat toe sy vanmôre by my kom inloer het, gevra het of ek saamgaan, maar toe ek sien wie is die voorbokke, toe sê ek reguit vir haar dat ek nooit weer in die toekoms ‘paddas gaan vetmaak vir slange’ nie.”

“Ek het vannag nie ’n oog toegemaak nie, want ek het gedink aan baie optogte oor huise en hoe ons uit ons vorige woonbuurte uitverstoot was, en strate toe geforseer was, en hoe ons deur drukgroepe uitverkoop was, nadat dié mense, wie die optogte gelei het, ons misbuik het, en hoe die munisipaliteite, en dit sê ek sonder benadeling van regte, die polisie ingeroep het en ons geinterdik het”.

“Ousie,” het ek haar stortvloed woorde gestop. “Is dit hierdie goed wat jou wakker gehou het? Dit is mos nie nodig om jou so op te werk nie?” Ek het vir haar ’n tweede koppie ingeskink en sommer baie suiker ingegooi, want ek kon sien sy was diep ontsteld.

“Gert, ek dink hierdie klein opstootjies gaan ons nêrens bring nie. Kyk hoe het ons mense oor die jare verstrooid geraak, Karoo toe, Boland toe, Kaap toe. Hulle het hulleself net verarm. Hulle het harteloos geraak en wie het vorentoe gegaan? Die mense wie hulle eie ego gestreel het, en dit is toe dat ek aan jou Oupa gedink het. Hoe hulle moes trek uit ’n familiehuis as gevolg van die gedwonge verskuiwings. Hoe hy huis en haard verlaat het, vir ’n ander staanplek in die Boland, waar hy vir hom ’n tweede huis moes bou, en hoe hy dit ook verloor het, ten koste van plakkers, vreemde mense uit Buurdorpe en elders. Dit is hoekom ek vannag aan jou gedink het.” Ousie het dringend na my gekyk asof sy wou hê ek moet saamgesels.

Ek was sprakeloos, ek wou nie hê sy moes haar so opwerk nie. En tog het ek diep in sy binneste geweet, sy praat die waarheid. Mense gebruik jou vir hulle eie persoonlike voordele en as hulle hul doel bereik het, laat hulle jou aan jou eie lot oor.

Ek het aan my oupa gedink – die huis wat hy op Nuwerus netso gelos het, toe hulle daar uitgesit is.
Die huis wat hy op De Doorns gebou het…

Ek was daar vir ’n familiebegrafnis. Die plek was toegebou deur die plakkers. Oral was sinkhokke opgeslaan. Ek het gaan kyk of ek die plek kon sien waar die hoofhuis gestaan het en die wooneenhede wat hy gebou het vir sy kinders. Sy seuns en hulle huisgesinne. Daar was niks – net die peperboom, wat die enigste baken was, wat ek kon uitken. Ek kan onthou hoe teleurgesteld ek was oor die verval. Hoe ek in my binneste gerou het oor ’n familiegeskiedenis wat was en nie meer is. Ek het tussen die grafte deurgestap, gesoek na my ouma se graf en tussen die ander vervalle grafte het die lei gesien. Die leie waarop ons in Sub-A geskryf het. My oupa het met ’n spyker op die lei geskryf: “Haar son het ondergegaan, terwyl dit nog dag was.”

Tannie Kate se geroep van die tuinhekkie af het my teruggeroep na die hede. Sy was stukkend en onder trane. “Wat sê die mense?” Kate het ousie dringend gevra. Die mense het ons uitmekaar uitgejaag. Hulle het dié ingeroep en ons geinterdik. Ons mag nooit weer ’n optog hê nie!” Ek moes na jou geluister het, Roeslyn, ons kan nie ‘paddas vetmaak vir slange nie’. Ek het opgestaan en oor my dorpie uitgekyk, die huise, die strate en die lane; die winkeltjies in die woonerwe en die baie vreemdelinge.

Ek het gedink aan die woorde: “Jerusalem, Jerusalem, hoe dikwels wou ek julle bymekaarmaak, soos ’n hen haar kuikens…”