“Jy weet, Ousus,” het Antie Meg Groenewald eendag vir my ma gesê: “Verkeerd is verkeerd – en die reg mag nooit toegesmeer word met ’n ander verkeerde daad nie.”
Ek het gemaak asof ek nie afgeluister het nie, maar tog het ek seker gemaak dat ek varkoor gooi.
“Jy weet, Ousus,” het tannie Meg voortborduur. “Kyk maar wat rondom jou aangaan, en kom ek sê sommer reguit waar daar met regverdigheid en billikheid gepeuter word, sal daar altyd ’n donker wolk oor daardie soort aksies hang.”
Ek sien hulle nog duidelik voor my geestesoog waar hulle onder die vyeboom in ons agterplaas gesit het. Die aard van hul gesprek was nie vir my so belangrik soos Antie Meg se beneuktheid daardie môre nie, en ek het by myself gedink, onheilswoorde, onheilswoorde.
Hierdie onheilswoorde het ek teëgekom toe ons betrokke geraak het by Suikerbult se mense en die onreg wat hulle aangedoen was toe hulle die slagoffers geword het van noodge-dwonge verskuiwings. Ek het as gevolg van my betrokkenheid in die Attakwa KhoiSan-organisasie bewus geword van die gedwonge verskuiwings van die geaffekteerde families.
Dié inwoners was vanaf hierdie genoemde nedersetting verskuif na die woonbuurt teen die kop in Bridgton, noord van Dassieweg. Vanaf hierdie huise kon hulle afkyk op die verlate vlak waar eens huise was.
Die enigste herinnering behalwe die versande fondasies en bourommel was die begraafplase waar hulle dierbares wat hulle reeds vooruitgegaan het, begrawe was.
In daardie stadium was ek die stamhoof van die Attakwa Stamhuis en saam met ’n groep entoesiastiese inwoners van Suikerbult en die stamraadslede het ons ons stemme laat hoor oor die onreg wat die mense aangedoen was.
Ons het ’n filmspan laat kom wat die storie gebeeldsend het. Ons het verskeie kere vergader oor die aangeleent-heid. Ons het ook die plaaslike koerante genader wat berigte oor Suikerbult die lig laat sien het.
Ons betrokkenheid en die storie oor Suikerbult se mense het die plaaslike owerhede laat inkoop, en met hulle hulp het ons ’n gedeelte van die grond bekom en met die belofte van finansies en kon ons ’n landmeter kry om die verkrygde grond af te pen, want ons, die Attawahuis, wou ’n museum daar oprig. Op ’n raadsvergadering is die grond aan die Attakwahuis toegeken.
Ons het die gebied begin skoonmaak. Die begraafplase is geïdentifiseer, want vir die eerste keer sou die Attakwavolk op ’n geskiedkundig historiese erfenisterrein,’n museum kon bou, waar die waarheid oor die onreg van die verlede uitgestel kon word met foto’s en teks.
Intussen het mense ook daarop aangedring dat ons ’n grondeis moes instel op die plek waar Suikerbult eens op ’n tyd was, en waar haar inwoners te na gekom was. Dit was ’n billike versoek en ons het dit eenparig ondersteun.
Al probleem wat ons gehad het, en hieroor het ek baie ongemaklik gevoel, was dat daar sprake was dat individuele lede – en ek sê dit sonder benadeling van regte – gevoel het dat die grafte opgegrawe moes word, want die munisipaliteit wou nog meer huise bou.
Ons was nie van plan om hierdie aksie teen te staan nie, want die nood na behuising was groot. Die Atta-kwahuis se lede het by verskeie vergaderings in pastoor Stuurman se kerk die munisipaliteit gewaarsku dan daar begraafplase op die “geoormerkte” grond was.
Die raad het egter voortgegaan en ten spyte van ons waarskuwings oor die begraafplase is daar met die bouwerk voortgegaan.
Intussen is daar by die munisipaliteit ’n aksie begin om die grafte op te grawe, en daarna sou hulle die beendere in een gesamentlike graf begrawe.
En sodoende sou ’n verkeerde daad met ’n ander verkeerde daad toegesmeer word.
Die woorde van Antie Meg het duidelik in my ore opgeklink en ek het my duidelik uitgespreek oor die aksie.
Die eerste vraag wat ek gevra het, was: Het julle oorleg gepleeg met die naasbestaandes van die oorledenes? Die antwoord het my nie tevrede gestel nie, en ek het soos volg gereageer: “As julle voortgaan met die opgraaf van die graftes met julle weet ek sal nooit deel wees van so ’n onmenslike aksie nie, want ek wil nie betrokke wees by grafskending nie.”
Ek het my woord gehou.
Die grafte is opgegrawe, met die goedkeuring van die Oudtshoorn Munisipaliteit.
Daar is koste aangegaan met die opgrawings. ’n Begrafnisondernemer is gehuur en die herbegrafnis is gehou. Die een graf met die name van sommige van die gestorwenes is vandag nog by die munisipale begraafplaas te sien – en ek vra myself die vraag af: Is al hierdie inoefeninge gedoen net om die gewete te sus?
Ek het die verslag oor die opgra-wings in my besit. Ek het daarvoor betaal by die munisipaliteit, want ek wou dit net hê, omdat ek vandag nog glo die opgrawing van die menslike reste was ’n onding. Dit sê ek sonder benadeling van regte.
Die een belangrike ding is: Ek is van die min mense wat net soos Antie Meg kan sê dat jy nie die een verkeerde daad met ’n ander daad kan regmaak nie.
Naskrif: Dié storie oor Suikerbult is ’n werklike storie. (Deur Poem Mooney)