Lesse van die lewe

Saam met Johan Strasheim

Die lewe leer ons baie dinge, eintlik is dit een reeks lewenslesse. Een van die belangrikste lesse is om nie jou tyd te mors nie. Tyd is een van die belangrikste bates in elkeen se lewe. As dit verby is, is dit verby.

Soos ek altyd grappenderwys in ingenieursterme sê – dit het ’n zero raklewe.

Maar die lewe is sonder enige twyfel pret, alhoewel ons almal in stadiums deur baie moeilike tye gaan.

Die moeilike tye in die lewe leer ons soms die waardevolste lesse.

Een van die beste maniere om ’n effektiewe en lekker lewe te geniet, is om uit jou foute te leer. En almal maak maar foute! As jy uit jou foute leer, sal jy weet hoe jy ’n volgende keer in soortgelyke situasies moet reageer.

Mense met ’n filosofiese streep het die gawe om lewenslesse in min woor­de te kan verduidelik – die soort goed wat jy op jou yskas plak as motivering en jy bang is jy vergeet die wyse woorde.

Mens moet natuurlik nooit ophou lees nie en nooit ophou leer nie, ook nie oor ander se lewenslesse nie. As jy nie seker is oor wat jy in jou lewe wil doen nie, is dit beter om die advies van ervare mense te volg wat baie dinge in die lewe geleer het. Dit is die enigste manier om ’n lewe te leef wat in alle opsigte die moeite werd en bevredigend is.

So lees ek onlangs die volgende stukkie wysheid op ’n hotel se reklamebord op ’n paal langs die pad raak: You have never really lived until you have done something for someone that can never repay you.

My gedagtes skiet dadelik terug – eers vyf jaar en toe nog vyf jaar … na ’n WhatsApp-boodskap van my vriend Alberto Magai in Beira, Mosambiek. Alberto is ’n slim man wat net nooit die regte geleenthede gekry het nie en hy was ons steunpilaar tydens ons besigheid en operasies in Mosambiek. Ten spyte daarvan dat hy ’n arm man was, was hy totaal betroubaar en sy integriteit bo enige verdenking. In Mosambiek is dit bitter skaars!

Sy boodskap destyds met ’n foto van sy seun, penregop in ’n deftige swart pak en das, met ’n toga en die tipiese kepsie wat jy dra wanneer jy graad vang, lees verbatim soos volg:

Dr Strasheim, this photo is that boy that you and Gert sponsored to be operated on in Maputo. Today he has been licensed as civil engineer @ Jean Piaget University. I thank you for all the help. Muito obrigado.

Sowaar. Dit vang my half onkant. Die seun het erge probleme met sy bene gehad en moes redelike intensiewe korrektiewe chirurgie ondergaan by die staatshospitaal in Maputo. Sy pa kon beslis nie die ondersteuning be­kostig nie, veral nie vir die gereelde op en af reisery na Maputo en terug, verblyf en so aan nie. Dit was so ’n verdere vyf jaar vroeër as die boodskappie.

Ek onthou skielik al die detail van die gesprek in die lughawekantore op Beira. Gert en ek het destyds sonder om te veel te dink dit ge-“cover” en daarvan vergeet. (Die feit dat ons soos ge­woonlik baie haastig was en Alberto so baie verskuldig was, het natuurlik nie kwaad gedoen nie!) Wat ek nie presies kan onthou nie, is presies wanneer dit was of hoeveel geld betrokke was nie. Ek weet net ek was dankbaar dat ek nie in Alberto of sy seun se situasie was nie. Alberto sou dit nooit kon terugbetaal nie, maar het dit nogtans nie ver­geet nie. Is dit nie ’n mooi gebaar om so lank na die tyd weer dankie te sê nie?!

Die seun het sowaar reggekom, uit­ein­delik gaan studeer en klaargemaak as siviele ingenieur.
Dit laat ’n ou reg­tig nogal lekker voel en ek beveel dit aan. Help iemand wat jou nooit kan te­rug­betaal nie; en dit hoef nie net met geld te wees nie. “Pay it forward”… Probeer dit gerus.