Dis koud. Dit kon netsowel gesneeu het. Maar dit was te koud daarvoor. Die ruite van die motors wat buite moes deurnag, is kliphard gevries. Die punt van sy neus verklik gewoonlik eerste die aankomende pyn van die koue. Gewoonlik net voor die son opkom. So asof die heelal jou beloon met ’n sonstraal, omdat jy die koue oorleef het. Die duiwel wat van ver af wink. “Volgende keer…” Wakker word, opstaan. Dit is ongelukkig vandag nie onderhandelbaar nie.
“You snooze, you lose.” Hy hoes terwyl hy die jas oor sy skouers gooi. Hy was nog altyd mal oor geskenke oopmaak. Dis winter, en dis nog nie kersfees nie, maar dit voel so. Sewe koue nagte in ’n ry laat jou vinnig vergeet. Druk jou gedagtes blitsig in ’n doodloopstraat van oorlewing. Enige manier om die koue suurstof wat jou longe binnestroom te verhit totdat iets binne jou durf terugdink aan enige iets anders as die vastestof wat jou liggaam in hierdie koue word. Die skuur van kraakbeen soos jou spiere bibberend probeer hulp aanbied. Kort pouses tussen die rukbewegings en dan die inskop van die vloeistof, die liggaam wat rustig lam word en die brein wat terug yskaats, die donnerse verlede in.
Maar vanoggend is nie ’n oggend vir ou koeie nie. Op dae soos vandag dink hy minder aan die koue nag wat verby is. Minder aan al die koue nagte vantevore. Minder aan al die koue weke, maande, jare wat nie wou ontdooi en smelt vandat sy weg is nie. Die heelal kan maar sy belonings vir homself hou!
Op dae soos vandag het hy egter geen ander opsie as om die hede in te vaar nie. Dis oorlewing. Fisiese oorlewing, maar dis Kersfees. Geskenke tyd. Feesmaaltyd. Hy slaan sy kraag hoog op teen die koue wat aan sy ore kou. Sy hande druk hy diep in sy sakke. Maar die koue syfer te maklik in, knibbel aan sy vingers. Hy weet hulle sal effens verhit soos hy stap. Hy het nog ’n entjie om te gaan. Maar vir hierdie geleentheid stap hy met graagte.
Hy wens hy kon so agter haar aanstap. Haar dalk laat omkyk of terugdraai. Die moeë kyk in haar oë. Oë wat kliphard skree as jy bereid is om te luister. “Ek het nie ’n donnerse drankprobleem nie. Ek het ’n menseprobleem.” As hy maar net toe geweet het wat hy nou weet. Wat hy nou in sy borskas as die waarheid vasklem. As hy maar toe kon besef hoe maklik dit is om vir jouself te lieg. Jouself so oortuigend te verlei dat jou beloningstelsel jou brein vloed met ’n valse glimlag.
Die vermoë om jouself om die bos te lei. “Dis mos nie die waarheid nie. Dis net ’n speletjie. Man ek kon nie eers onthou nie… Jy weet nie waarvan jy praat nie.” So maklik om die pyn wat jy veroorsaak mis te kyk. Aspris miskyk. Die mense wat omgee, mis te kyk. Maar los nou die ou koeie. Hy kan môre weer daarmee wroeg.
Dis geskenke tyd. Gratis aflewering ingesluit. Hy moet net opdaag. Die koue wil hom nie vanoggend laat gaan nie. Dit trek agter sy nek in. Klem vas teen sy ruggraat. Dit is asof dit die laaste tyd moeiliker word om te loop, maar hy is vas oortuig dat hy hom verbeel. Sy longe pla hom ook. Sy hart ook. Maar hy is ’n meestermanipuleerder. Hy moet net iets kry om homself mee te oortuig. Dan is hy weer gesond. Daar is baie medisyne daarbuite.
Dan sien hy dit. Sy geskenk. Selfde plek, selfde tyd. Hy wil amper hardloop, maar hy kan nie. Sy voete pyn van die skelm koue wat te maklik deur die stukkende stewels en sokkies met gate woel.
Hy kan voel hoe die kind in hom wakker word.
Hy dink terug aan daardie warm somer Kersfees. Die eerste een sonder sy pa. Die oopruk van die geskenkpapier was toe makliker. Die geskenk groter as gewoonlik. Maar los nou die donnerse ou koeie.
Sy gedagtes tas-tas aan verwondering. Dink vir ’n oomblik wat in die geskenk versteek sal wees. Hy is versot op verrassings. Dit pla hom dat hy dit so goed kon regkry om van alle verrassings in sy lewe ontslae te kon raak. Hy’t sy antwoorde altyd haarfyn beplan. “Ek het nie ’n probleem nie… Julle het hulp nodig!” Hy kan nie meer wag nie. Hy sak langs sy geskenk neer. Hy woel sy vingers uit die geskeurde wolhandskoene. Blaas oor sy vingers. Die wasem bol in die lug.
Die eerste karre het nog nie eers begin werk toe ry nie. Die wit ryp lê nog ongesteurd op die sypaadjies. Sy vingers pyn soos hy die halsstarrige knopies probeer losmaak. Die drang om dit net oop te skeer druk teen sy lugpyp, maar hy weerhou hom.
Uiteindelik. Sy geskenk is oop. Hy begin uitpak. ’n Feesmaal. ’n Ou eierboksie met die oorblyfsels van ’n gebreekte eier wat vasgeklem in een van die kelkies. ’n Sakkie met twee, dalk twee en ’n halwe tamaties. Die muf sal hy afvryf. ’n Boksie melk is nooit leeg nie. Die laaste paar druppels sluk hy sommer net daar en dan af. ’n Verskeurde snytjie brood, nog nie heeltemal hard nie, hap hy dadelik. Hy is nie seker of dit gesmeer was nie. Dit maak nie saak nie. ’n Pakkie sigarette. Dis leeg. Hy sug. ’n Paar sigaretstompies kleef teen ’n nat teesakkie vas. Hy sal die bietjie tabak later uitwoel. Een of twee leë blikkies. Hy vryf sy wysvinger aan die binnekant, versigtig dat hy homself nie sny nie. Lek sy vingers af. Mmmm….gebakte boontjies.
“Hey! Wat maak jy!?” Die vroustem klap sy oë in haar rigting. “Trap! Maak dat jy hier wegkom!” Hy kyk haar diep in die oë. Hy sê niks. Hy sê nooit iets nie. Hy knoop die swartsak vinnig toe, gooi dit oor sy skouer.
Die twee blikkies, eierboksie en leë pakkie sigarette bly lê daar waar hy gekrap het. Sy handskoene ook. Sy vingers pyn. Maar hy voel dit nie… (Deur Johnny Malgas)