Augustus is vrouemaand, met Vrouedag wat vanjaar op Donderdag 8 Augustus gevier word.
Die Hoorn wou die week eer bring aan verskeie dames wat nie skroom om die voortou te neem, hande vuil te maak en onbaatsugtig bydra by hul besighede, plekke waar hul werk en ook terug te ploeg in die gemeenskap nie.
Een so dame wat ons graag wil uitlig is Helen Butler. Sy is die ystervrou agter die Oudtshoorn Besigheidskamer en Klein Karoo Agri !
Hierdie dinamiese dame bestuur albei entiteite en nog vele meer vir die afgelope 16 jaar, maar strek haar rol en werk veel verder en is sy ’n hoeksteun van beide hierdie instansies.
Helen het werklik ’n passie vir beide die Oudtshoorn Besigheidskamer en Klein Karoo Agri en mens kan dit sien in haar bereidwilligheid om altyd te help en die geduld waarmee sy haar werk verrig. Volgens Joey Potgieter is boere en admin nie pasmaats nie, maar verstaan Helen hierdie uitdaging.
“Op haar rustige en kalm manier kry sy al die inligting wat sy nodig het. Dit is juis hierdie eienskap en haar diep kennis van die wese van landbou wat haar so geliefd maak onder die boere en kliënte. Ons as Landbouers salueer haar vir wie sy is as mens en wat sy vir landbou beteken.”
Haar liefde vir Oudtshoorn en die gemeenskap is duidelik sigbaar in die manier waarop sy beide hier-die instansies dien – niks is ooit te veel moeite nie en is sy ook by elke funksie, vergadering en aangeleentheid teenwoordig.
Volgens Abri Ferreira, die voorsitter van die Oudtshoorn Besigheidskamer, is Helen al vir jare van onmeetbare waarde vir die Oudtshoorn Besigheidskamer.
“Die wyse waarop Helen elke versoek, maak nie saak hoe groot of klein met entoesiasme aanpak, word opreg deur die Oudtshoorn Besigheidskamer waardeer. En ons is dankbaar vir haar bydrae tot die sukses van die Besigheidskamer.”
Sy is werklik ’n ystervrou, sonder wie die Oudtshoorn Besigheidskamer en Klein Karoo Agri nie wil klaarkom nie, en ook by menige geleenthede Die Hoorn, wanneer daar verskeie funksies gereël word, foto’s geneem word en elke persoon se naam en pos noukeurig en korrek week na week deurgegee word. Sy is een van vele vroue, aan wie in hierdie uitgawe spesiaal erkenning gegee word deur werkgewers en besigheideienaars.
Dankie vir elkeen se opofferings, liefde en omgee waarmee julle dag na dag toegewyd jul beste gee, en ook aan jul huisgesinne. Gelukkige vrouedag en vrouemaand aan ieder en elkeen! Julle word werklik waardeer!