Kortverhaal: Herhaal……

Dit is somer.

Dit is warm buite.

Dit is warm binne.

Hy draai die kraan van die kombuisopwasbak oop en wag tot die water afkoel.

Die louwarmwater bly louwarm.

Die water in die glas is geel.

Hy hou dit ’n oomblik in die lig voor hom op en sien die klein stukkies opdrifsels baljaar.

Hy gooi sy kop agteroor en sluk met sy oë toe.

Die water vloei sterk en hy sluk amper te stadig.

Klein druppels loop aan weerskante van die glas se opening teen sy wange af.

Dit vou om sy kake en ontmoet by sy adamsappel voordit dit teen sy keel na sy bors vloei.

Dit koel hom nie af nie.

Niks koel jou af in hierdie hitte nie.

Hy plak die glas langs die opwasbak neer.

Dit klingel, te hard na sy smaak. Hy kyk na sy horlosie wat om sy pols hang.

Hy sien die grond op sy hande en hy onthou dat sy besoeker amper oppad is.

Iewers is iemand oppad na hom toe.

Hy loer na die potplantjie op die vensterbank. Venus Flytrap.

Die plantjie lyk honger.

Hy druk druk op die klam grond rondom die plantjie.

Maar hy weet dat die plantjie nie water benodig nie…

Hy stap by die agterdeur uit en trek sy waterstewels aan.

Hulle is vol modder van die oggend se tuinwerk.

Sy tuinvurk hang halflyf teen die baksteenmuur toe hy dit optel.

Hy wil nog ‘n paar beddings skoonmaak voor sy besoeker arriveer.

Die tuin moet perfek wees!

Alles moet net perfek wees!

Hy’t al in die verlede geleer dat selfs ’n geringe afwyking van perfeksie dinge aansienlik kan bemoeilik.

Hy dink vir ’n oomblik aan Sasha, maar forseer homself terug die oomblik in.

Sy greep op die tuinvurk verstewig soos hy dit soos ’n kierie gebruik op pad na sy beddings.

Die randjies is reeds vanoggend vroeg netjies afgesteek.

Eweredig.

Lynreguit.

Presies uitgemeet.

2 300 mm in lengte, 900 mm in breedte.

Hy vee die stukkie verlore gras van sy hemp af.

Hier en daar steek hy ’n haarfyn spruit van ’n onkruid uit.

Hy lig dit stelselmatig op en bêre die opgeligte klont presies waar hy was.

Hy staan terug en bewonder sy bedding.

Pragtige rooi vruggies pryk deur die groen blare.

Hy sak op sy hurke en sit die naambordjie op die voorkant van die bedding weer mooi regop.

“Theresa, 4 Maart 1998.”

Netjies geskryf.

Perfek.

Reg vir inspeksie.

Hy staan terug en bewonder sy beddings.

Mooi afgebakende rye.

Sy oë streel oor die pragtige rooi vruggies wat oral begin kop uitsteek.

Sy voete volg die voetpaadjie wat presies volgens sy treë se afmetings uitgepak is.

“Dave, 2 Augustus 2013”

Die wit naambordjie staan trots in die grond. Etikettering.

’n Baie belangrike tentoonstelling van kennis.

Hy stap verder.

Nog ’n naambordjie staan skeef.

Hy hurk en skuif dit reg.

“Julian, 4 Junie 2014.”

Vanuit sy posisie sien hy elke naambordjie loodreg.

Hy stap verby Samantha, Juanite, Wilma, Herman… Hy staan vir ’n oomblik stil.

Kyk na die litteken op sy arm.

Dan stap hy verder verby Marais, Judy, Samual.

Die rooi vruggies bars met vreugde.

Sy toewyding en aandag sorg dat hul selfs in die snikhete hitte orent staan. Trots en vol lewe!

In die paadjie op. “Jamie, 28 September 2017” en dan vang sy oog die laaste naambordjie.

Dit is nog nuut.

Die plastiekoorblyfsels van waar die grootmaatmasjien die vorm van die naambordjie uitgepers het, sit nog stuk stuk aan die bordjie se steel.

“Sasha, 12 November 2021.”

Hy krap-krap liggies aan die stukkies plastiek aan die agterkant van die naambordjie.

Iewers in die agtergrond hoor hy ’n Kersfees advertensie op die draadloos.

Dit dryf hom terug na realiteit.

Hy staan op en kyk na die oop bedding, heel laaste in die ry.

Mooi uitgemeet, maar leeg.

Die grond is perfek voorberei.

Hy word opgewonde oor die potensiaal waarmee die leë bedding hom aanstaar. 2 300 mm in lengte, 900 mm in breedte…2 000 mm in diepte.

Die lui van die klokkie by die hek laat hom opkyk.

Sy besoeker is hier.

Uiteindelik.

Kinderlik opgewonde vind hy sy pad deur sy tuin terug na die tuinhekkie waar die besoeker staan en wag.

“Is ek by die regte plek?”

“Natuurlik, natuurlik. Kom gerus binne. Ek wys jou graag. Ek is so bly jy kon dit maak.”

“Aangename kennis, Ethan Fitzpatrick.” hy steek sy hand uit.

“Aangename kennis.” Hy haal ’n naambordjie uit sy broek se agtersak.

Die permanente koukie kom uit sy hemp se bo-sak.

Terwyl hy skuins na die besoeker loer skryf hy netjies op die naambordjie.

“Ethan, 23 Desember 2021.”