Kortverhaal: Afspraak

Hy kyk homself stip in die oë terwyl die wasem van die spieël verdwyn. Die water klou vir oulaas aan sy vel voor dit oor sy wang, teen sy nek afloop. Hy vryf sy hand oor sy voorkop en druk sy hare terug. Sy gesig is oop. Vars geskeer. Sy oë lyk vir hom blouer as normaalweg. Hy moes dit al lankal gedoen het. Hy lyk glad nie so dik soos wat hy gedink het nie.

In die spieël se weerkaatsing sien hy die splinternuwe knoophemp teen die kasdeur hang. Ko-ningsblou. Deur die tralies van die hanger loer ’n pikswartdas oor die randte van die hemp. Hy kan nie onthou wanneer laas hy ’n das gedra het nie, nog minder wanneer laas hy een gevou het.

’n Streep van opgewondenheid wil-wil deur sy bors rits, maar dit gebeur nie. Die klam handdoek hang hy chirurgies oor die reëling. Vir ’n oomblik ervaar hy vryheid. ’n Paar laaste druppels rol nog teen sy kuit af voor hy sy onderklere knus aantrek. Die splinternuwe broek se nate kraak toe hy die knoop om sy middel vaswoel. Met sy soeke na die lus om die splinternuwe belt deur te wikkel, vind sy hand die prys-etiket. Hy pluk ongemaklik daaraan, maar die astrante plastiese toutjie wil nie breek nie. Dit sny amper in sy vingers in. Hy voel hoe iets binne hom wil uitbars. Maar nie vandag nie. Nooit weer nie. Die nuwe hemp vou duur om sy skouers terwyl hy stelselmatig die knope vasknoop. Tot heel bo. Dit voel of die hemp hom effens wurg. Hy hunker terug na die vryheid wat hy kaal in die badkamer ervaar het. As hy maar net weer kon…

Hy trek homself orent voor die langwerpige spieël. Die das vou hy veel makliker as wat hy gedink het. ’n Onbedoelde trots vul sy borskas. Vir ’n oomblik wil dit vir hom voorkom of daar tog nog iemand of iets in sy borskas skuil. Iemand wat nog ’n kans verdien. Iemand wat hard sal werk as hy weer ’n kans gegun sal word. Maar hy wil nie nou aan tweede kanse dink nie. Daar is in elk geval nie tyd nie. Hy kyk na die Phillips klokradio op die bedkassie wat luidrigtig oggendnuus uitspoeg. 09:45. Digitale tyd! Hy sal moet wikkel.

Hy staan amper op aandag voor die spieël. Eerste indrukke maak ’n moerse verskil. In die weerkaatsing sien hy ’n weergawe van homself waarop hy trots kon wees. Waarop sy trots kon wees. “Dalk…, net dalk.” Hy laat homself nie toe om weer daardie deurtjies in die gange van sy brein oop te maak nie. Bly in die nou. Die hier en nou. Die gebou se groot deure sluk hom in. Die splinternuwe skoene druk sy voete terwyl dit oor die blinkgepolitoerde vloere skuifel. “Tel op jou voete.” Hoor hy ’n eggo binne sy skedel. Die stem dalk nes hy, vasgevang. Daar is te veel mense.

Heeltemal te veel mense. Tussen die reuke en gedruis wink ’n sweterige oorgewig man hom nader. Sy skoene is nie nuut nie. Sy baadjie ook nie, maar die bonkige goue horlosie om sy pols verraai sy fortuin. Hy beduie met sy hande. Links, weer links, tweede deur regs.

Die nuwe skoene voel nou heeltemal onnatuurlik terwyl hy in die bankie inskuif. Soos ’n krap. Hy sit. Die sweterige man plons langs hom neer. “Ontspan, hulle is nou hier.” Hy vroetel met sy horlosie. Die klein deurtjie voor hulle swaai vlugtig oop. Dan weer toe. Dan kom die stem. “Mr. Louw!?” Hy staan meteens op. Amper weer op aandag. Amper soos ’n jongeling wat die we-derkoms van die Here verwag en wil uitskree. “Hier is ek! Neem my, Here! Die stem weergalm oor die swakonderhoude klankstelsel.

“Mr. Louw, you have been formally charged with the following offenses: Second-Degree murder of Mrs Johlene Veronica Alberts. Before this court proceeds further, I need to hear your response.

Please tell the court, do you plead guilty, indicating that you admit to the charges, or do you plead not guilty, signifying that you contest these allegations and wish to contest them in a trial?”

Hy laat die stem in sy skedel vry. Laat hom afsak na sy stembande en voel die trilling daarvan soos dit sy mond verlaat.

“Guilty. Your Honour.”

Die sweterige man vroetel ongemaklik met sy polshorlosie. (Deur Johnny Malgas)