Kingdom News: Raak soms net stil by Hom!

Generiese foto

Die duiwel is listig, is ’n gesegde wat so gereeld gebruik word wanneer mense teëspoed ervaar. Dis makliker om hom te blameer vir wanneer dinge sleg gaan, as om die gevolge van ons dade en besluite self te aanvaar. Want wie wil nou verkeerd wees of erken dis eintlik maar deur ons eie toedoen.

Die afgelope twee weke voel dit beslis of die duiwel listig is in my lewe. Kyk, wanneer daar slegte tyding kom, of nog iets skeefloop verbaas dit my nou glad nie meer nie, want êrens gaan ’n punt kom wanneer mens “rock bottom” slaan en dan kan dit net beter en boontoe.

En ja – ek bid en glo en vertrou en vra die Here om my te help, maar hier in my agterkop maak ek plannetjies, en “back up” planne, vir net “in case”.

Dinsdagaand woon ek ’n gebedsessie by. Ek gaan nie baie gereeld nie want aande is mens mos maar moeg en daar is goed by die huis wat ook gedoen moet word. Ek het toevallig die oggend ’n boodskap vir ’n vriendin gestuur en gevra sy moet asseblief saam met my bid, en toe nooi sy my om saam te kom.

Dit is so skemer, lekker koel op die koppie en die uitsig oor Oudtshoorn is altyd pragtig so omring deur berge.

“Vanaand gaan ons dinge anders doen, ons gaan nie vra vir goed nie, ons gaan net tyd saam met die Here spandeer,” sê oom Gert, wat in beheer is daardie aand.

Daar is niks daarmee fout om vir spesifieke goed te vra nie, maar die idee is om net tyd saam met Hom te spandeer vir ’n slag, verduidelik hy. Ek kan my nogal indink hoe God moet voel wanneer sy kinders elke dag in Sy ore neul. Myne doen dit gereeld, soos kinders maar doen en dan sê ek vir hulle, ek het julle die eerste keer gehoor. Ek lag sommer lekker hier in my mou toe ek daaroor dink. Vader het darem baie geduld met ons, meer as wat ek met my eie kinders het vir wie ek baie lief is.
Ek het toevallig die aand my oorfone ook ingepak wat alle klanke kanselleer, want my aandag word sommer vinnig afgetrek, en ek maak my tuis op die bakkie se klap.

Ek luister na die liedjie “Stand in Awe” gesing deur Bethel Music, en Jesus wys vir my die volgende.
Ek sit op sy skoot, met my kop teen sy bors. Dis donker om my en daar is donker stormwolke bo my kop, my hele gemoed is donker en ek is moeg en terneergedruk. Stadig loop daar ’n traan of twee by my wang af, want die emosie is baie oorweldigend.

Soos wat die liedjie aangaan, vorm daar krake op my gesig en lyf, en stukkies begin afval. Op die plekke waar die stukkies afval kom daar ’n helder warm gloed uit wat die donker verlig. Die stukkies dryf boontoe na die wolke, en in die donker wolke begin daar ’n opening vorm waar lig deurkom. En hoe meer die doppies afval, hoe ligter word my gemoed en ’n swaar gewig verdwyn van my skouers af.

Ek het nie gebid nie, ek het niks gevra nie, ek het net gefokus daarop om tyd saam met Jesus te spandeer in sy teenwoordigheid, dit was so maklik en eenvoudig. Ons maak dinge heeltemal te ingewikkeld met tradisies en hoe ons geleer is van kleins af, dat ons God eintlik in ’n boksie plaas en beperk.

Ek kom ook tot die besef dis maklik om te sê ek laat die probleem of situasie in die Here se hande oor, maar dis moeilik om die beheer oor te gee. Dis makliker om nog steeds aan ’n plan te klou vir ingeval Hy nie deurkom wanneer ons dink Hy moet nie. God is nooit laat nie, en nooit verkeerd nie.

So, ek sit hier vanaand, met geen planne nie, my planne is op en ek het geen ander keuse as om heeltemal te moet oorgee en vertrou nie. Die afgelope tyd het Hy betyds en op die regte tyd letterlik wonder-werke oor my pad gestuur. So hoekom sal Hy nie nou weer Sy hand uitsteek en my help nie. Is die probleme en bekommernisse nog daar? Natuurlik, en more is nog ’n dag, maar na daardie aand op die koppie is daar ’n rustigheid in my hart, inteendeel my gemoed is lig, want ek weet God is ten volle in beheer.

Spreuke 3: 5-6 van Die Boodskap sê die volgende: “Moenie dink jy weet altyd die beste nie. Begin eerder elke dag weer van voor af om die Here lief te hê, En los tog al die slegte en verkeerde dinge. Vertel die Here alles waaroor jy dink, alles wat jy wil doen. Dan sal jy sien hoe Hy jou help. So ’n lewenshouding sal jou baie gelukkig maak.”

God wil ’n persoonlike, nabye, lewendige verhouding met ons hê vol liefde sonder voorwaardes. Hy wil hê jy moet Hom so liefhê soos wat jy jou kinders, ouers, of lewensmaat lief het. En dit is so maklik en eenvoudig soos om net in stilte in sy teenwoordigheid tyd te spandeer. (DEUR ANGELIQUE ERASMUS)