Eljada-atlete ontvang medaljes

Stehanie McKay (heel links) en Dave van der Walt (heel regs) saam met die atlete en personeellede van Eljada Nasorgsentrum. Foto: Hannes Visser

Stephanie McKay en Dave van der Walt, onderskeidelik voorsitter en operasionele bestuurder van Eden Tweekamp, het Dinsdagoggend nege goue medaljes aan atlete van Eljada nasorgsentrum vir volwassenes oorhandig.

Volgens Van der Walt, het Eden Tweekamp ʼn aantal jare gelede die besluit geneem om ook voorsiening te maak vir atlete met spesiale behoeftes. Dit het intussen na ander provinsies uitgebrei en tydens Saterdag se SA Tweekamp-byeenkoms was daar 24 atlete met spesiale behoeftes vanaf verskillende provinsies.

“Om aan so ʼn groot byeenkoms deel te neem is vir hierdie atlete nie net ʼn groot uitdaging nie, maar ook ʼn groot mylpaal om te bereik en daarom verdien elkeen ʼn medalje,” het hy Dinsdag gesê.
Eljada Nasorgsentrum het 100 permanente inwoners en 14 dagbesoekers wat versorg word. Met Dinsdag se oohandiging het al die inwoners in die eetsaal bymekaargekom om die nege atlete se prestasie met hulle te deel. (HANNES VISSER)