Ek voel ernstig dat ons dringend ’n splinternuwe boek oor etiket en goeie maniere kort. Dit sal waarskynlik en ongelukkig ’n boek in videoformaat met kort sinnetjies en eenvoudige verduidelikings moet wees, want lees met insig en aandag is besig om net so vining soos gesonde manière te verdwyn.
As ek so ’n boek moet skryf, sal ek nie weet waar om te begin nie. Begin ek by die assistent wat eers haar chat op haar selfoon klaarmaak voordat sy opkyk om te sien wie kom pla vandag weer die baie besige baas wat haar salaris betaal?
Of sal ek begin by die outjie agter die toonbank van die hardeware- of onderdelewinkel wat my, wat reg voor hom staan, kortknip om eers die telefoon te beantwoord en iemand anders se bestelling te neem? Iewers moet iemand mos vir hom leer dat mense wat inbel ook in die ry moet staan en later teruggebel kan word.
Of wat van die ontvangsdame wat ten aanhore van die hele wagkamer kliphard vra, “Wat makeer, is dit dringend, want dokter is vreeeeslik besig?” Dan moet mens seker hard probeer om nie te antwoord nie: “Dis eintlik persoonlik, maar ek jeuk op ’n baie ongemaklike plek. Het dit al met jou ook gebeur?”
Daar sal beslis ’n hoofstuk moet wees vir belangrike mense. Ek sal daardie hoofstuk begin met Langenhoven se gesegde: “Behandel jou meerdere met beleefdheid omdat dit jou plig is, jou gelyke omdat dit jou plesier is en jou mindere omdat dit jou voorreg is.”
Moet my nie verkeerd verstaan nie, dis nie dat ek nie van belangrike mense hou nie – ek is eintlik gek oor hulle, want hulle verskaf soveel genot en vermaak. Hulle het ʼn spesiale manier van oproepe beantwoord en hou vreeslik daarvan om iemand oor die foon af te ransel as hulle ’n gehoor het.
Om belangrik te wees, is nie maklik nie, want jy moet leer om op ’n sekere manier so met jou neus langs te kyk, jy moet dramatiese pouses voor jou reaksie inwerk en jy moet beslis spraaklesse neem om woorde duidelik en met klem te vorm en dan moet jy natuurlik ook elke liewe verkleinwoordjie in die Afrikaanse taal ken, want die kanse is goed dat wanneer jy belangrik is, die meeste onderdane effens swaksinnig is en soos kindertjies aangespreek moet word.
Dan moet daar natuurlik ’n hele, nee twee, nee drie afdelings wees oor sosiale-media etiket. Met lessies oor dingetjies soos MENS STUUR NIE TWAALFUUR IN DIE NAG JOU SKIELIKE INSIG AAN DIE HELE WHATSAPPGROEP NIE. Mens bel ander mensies gedurende kantoorure as dit oor besigheid gaan. Jou makelaar gaan nie halfsewe in die aand onthou waar al jou beleggingtjies is en wat hulle werd is nie.
Daar is natuurlik uitsonderings – byvoorbeeld as jy ek is, wat geen begrip van tyd het nie, kan jy dalk teen halfses in die oggend wawyd wakker wees en gou vir iemand iets wil vra. MOENIE. Gelukkig het ek ’n wonderlike vrou wat my dikwels, as sy betyds is, keer net voordat ek op ongeleë tye wil bel. Dalk is daar al so ’n 2025 boek oor etiket – wie weet?
In die warmstoel: Ons kort weer ’n etiket-boek
Hannes Visser