Kingdom News: Ons Kersgeskenk – Die lam van God

Pastoor Francois Mattheüs, AGS Klein Karoo Gemeente. Foto verskaf

Jesaja 53: Wie sal ons glo as ons hiervan vertel? Wie sal die mag van die Here hierin kan raaksien? Die dienaar was soos ‘n loot wat voor die Here uitspruit, soos ‘n plant wat wortel skiet in droë grond. Hy het nie skoonheid of prag gehad dat ons na hom sou kyk nie, nie die voorkoms dat ons van hom sou hou nie. Hy was verag en deur die mense verstoot, ‘n man van lyding wat pyn geken het, iemand vir wie die mense die gesig wegdraai.

Hy was verag, ons het hom nie gereken nie. Tog het hy óns lyding op hom geneem, óns siektes het hy gedra. Maar ons het hom beskou as een wat gestraf word, wat deur God geslaan en gepynig word. Oor óns oortredings is hy deurboor, oor óns sondes is hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom, deur sý wonde het daar vir ons genesing gekom. Ons het almal gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop, maar die Here het ons almal se sonde op hom laat afkom.

Hy is mishandel, maar hy het geduldig gebly, hy het nie gekla nie. Soos ‘n lam wat na die slagplek toe gelei word en soos ‘n skaap wat stil is as hy geskeer word, het hy nie gekla nie. Terwyl hy gely het en gestraf is, is hy weggeneem, en wie van sy mense het dit ter harte geneem dat hy afgesny is uit die land van die lewendes?

Hy is gestraf oor die sonde van my volk. Hy het ‘n graf gekry by goddeloses, hy was by sondaars in sy dood al het hy geen misdaad gepleeg nie en al was hy nooit vals nie. Dit was die wil van die Here om hom te verbrysel, om hom die pyn te laat ly.

Ons vier binnekort Kersfees. Vir baie Christene regoor die wêreld is hierdie die besondere tyd wanneer ons Christus Jesus se koms na die aarde vier met eerbied en dankbaarheid. Ons weet dat Jesus beslis nie op die 25ste Desember gebore is nie, maar dit is die tyd van die jaar wat Christene onthou en vier en dit is reg so en aanvaarbaar want ons mag terugdink, ons mag onthou en ons mag bly wees! Vir ons is die Heiland gebore, Emmanuel, God met ons!

Reeds 700 jaar voor Jesus se geboorte het die profeet Jesaja oor Hom geskryf. Die prentjie wat Jesaja egter hier vir ons skilder, is nie noodwendig die tipe prentjie waarmee ons kerstyd sal assosieer nie. Ons gedagtes gaan terug na ’n kriptoneel daar in die dorpie Bethlehem, waar die Christus-kind in doeke toegdraai is en vreedsaam teen die bors van sy moeder rus. Ons dink aan wyse manne, skaapwagters en geskenke. Ons dink aan ’n luidrugtige aankondiging deur ’n engelekoor wat sing tot eer van God.

Ons dink ook aan ’n stille nag, ’n heilige nag, die Jesus-kind lank verwag. Lig uit die Vader se ryk, God word aan mense gelyk, loof die hemelse kind!

Jesaja dink egter nie aan ’n krip nie, maar sien eerder ’n kruis op ’n heuwel buite Jerusalem. Jesaja sien Hom weggeruk van Sy moeder af en daardie selfde moeder wat huil en treur terwyl die bloed van haar seun voor haar op die grond drup vir die wêreld. Jesaja sien geen wyse manne nie, maar eerder Romeinse soldate wat hom deurboor met hulle spiese.

Van skaapwagters is daar geen teken nie, eerder net toeskouers wat spottend toekyk. Onder Jesus se voete is geen goud, wierook en mirre neergelê nie, maar eerder twee moordenaars wat saam met Hom aan kruise vasgespyker is. Jesaja sien geen lig nie, maar ’n donkerte wat oor die hele aarde neerdaal. Niks is vreedsaam nie, niks is heilig nie…

Tog is dit… Jy sien, Jesaja het die openbaring van Kersfees ontvang. Jesaja besef waarom daar eendag ’n Kersfees sal wees. Jesaja verstaan waarom die Verlosser vir die sonde van hierdie wêreld gebore sal word en dan uiteindelik verbrysel sal word aan Golgota se kruishout. Jesaja vertel ons van die probleem en die oplossing, hy vertel ons van die rede vir Kersfees en ook die noodsaaklikheid van Paasfees: “Ons het almal gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop, maar die Here het ons almal se sonde op hom laat afkom.”

Toe die profeet Jesaja gesê het almal van ons is soos skape, het hy nie gesê: “Sjoe, jy is ongelooflik, nie. Hy het gesê: “Jy het baie hulp nodig, “want jy is geneig om weg te gaan van God se pad” en jy is geneig om jou eie pad te kies.” Tog het die Here op Hom, die lydende dienskneg, al ons sonde en ongeregtigheid gelê, die een wat Jesus genoem sou word. Die Here het die sondes van ons almal op Hom gelê. Hy is soos ‘n lam na die slagting gelei.

Is jy al ooit seergemaak, mishandel, verwerp, oor die hoof gesien, onregverdig gekritiseer, of verkeerd verstaan? Jesus verstaan dit. Daar is van Hom geprofeteer dat hy verag en verwerp sou word, ‘n man van smarte, bekend met die diepste pyn en lyding. Ons het ons rug gedraai en ons het anderpad gekyk, tog was dit ons swakhede wat Hy gedra het. Jesus, ons verlosser, die lydende dienaar, is deurboor vir ons rebellie. Hy was verpletter vir ons sondes. Hy is geslaan sodat ons heel kon wees. Hy is geslaan sodat ons gesond kon word. Dit is wat Jesus vir ons sou doen.

Dit wil voorkom asof mense kyk na ‘n baba wat in ‘n krip lê en soms lyk dit asof mense sê: “Dit was ‘n heilige gebeurtenis wat lank terug gebeur het, maar wat beteken dit tog vandag vir my?” Jesus het aan ‘n kruis gesterf, hy het opgestaan maar wat beteken dit regtig? Hoekom moet ek Jesus volg? Hoekom moet ek my lewe aan hom wy?

Wanneer jy egter die omvang van sy lyding verstaan, en die dieptes van sy liefde vir jou, sal jy nie net terloops sê: “Ek is ‘n Christen”, nie. Wanneer jy werklik verstaan wat Hy vir ons gedoen het, die verklaring van Goddelike liefde, is die enigste redelike reaksie daarop dat jy Hom geheel en al sal wil volg en ken as jou Verlosser.

Die tuin van Getsemane. Dit was die plek waar Jesus met God geworstel het toe Hy werklik besef van die lyding wat sou kom en toe val hy op die grond, en bloed drup uit Sy voorkop – Dit is iets wat jy ervaar onder uiterste trauma, wanneer jou klein bloedvate bars en bloed met jou sweet gemeng word, en Hy val teen die grond en sê: “My siel is oorweldig met droefheid tot die dood toe.” Dit is hoe erg dit was. Vader, kan ons dit op ‘n ander manier doen? En dan verklaar Hy getrou, “Vader, nie My wil geskied nie, maar slegs u wil.” Toe een van sy eie, Judas, Hom met ‘n soen verraai, word Hy gearresteer, valslik beskuldig, onregverdig verhoor en gevonnis tot die dood deur kruisiging.

Hy sou kaal uitgetrek word, in die openbaar ontbloot word, verneder voel en skaam. Hulle sou die doringkroon op sy kop sit, die do-rings wat in Sy voorkop pennetreer. Hy sou baie hard geslaan word met ’n sweep todat die vel en vleis van Sy bors en rug afgeskeur is.

Hulle het stokke gevat, en dit oor sy kop geslaan, en die dorings op hierdie manier nog dieper begrawe in sy voorkop. Jesaja impliseer dat hulle sy baard sou uittrek, en dat hy nie eens as ‘n mens herkenbaar sou wees nie. In sy gebroke en swak, lydende, toestand, sou hulle vir hom die dwarsbalk, laat dra op pad na Golgota se heuwel via die Dolorosa, ’n 650 meter pad bekend as “Die Weg van Smart”, om op gekruisig te word. Lang spykers sou deur die tendons van sy gewrigte en enkels gekap word sodat Hy daarmee teen die kruishout sou vassit. Die enigste manier waarop Hy sou kon asemhaal sou wees wanneer Hy homself opdruk teen die kruishout terwyl die splinters in sy oopgevlekte rug steek.

Uiteindelik sou Hy stadig maar seker begin versmoor aangesien die krag om voortdurend op hierdie manier asem te probeer haal, sy tol sou begin eis op Sy uitgemergelde liggaam.

Daar het Hy gebly hang onder die hitte van die dag en die donkerte wat sou volg, skandelik, naak, ontbloot, soos die skepping met die Seun van God, die Skepper, spot. En dit was net die begin. Die seerste deel was toe die onskuldige een, wat nog nooit gesondig het nie, die sondes van die ganse wêreld op Hom gedra het.

Nie net het Hy alles op Hom gedra nie, maar Hy het dit geword. In hierdie oomblik sou Sy vader, Sy aangesig wegdraai en gemeenskap met Sy seun verbreek aangesien Hy nie hierdie wêreld se sonde en ongeregtigheid op Sy seun sou kon aanskou nie. En dan hoor elkeen teenwoordig nie die gelukkige tevrede geluidjies van ’n babatjie in ’n krippie in Betlehem se stal nie, maar ’n Verlosser wat met ’n harde weeklank uitroep en vra: “My God, my God, waarom het U my verlaat?” In hierdie oomblik verlaat God Sy eie seun, maar Hy bly nog steeds, Emmanuel, God met ons…

En dan, met ’n laaste asemteug, verklaar die Verlosser: “Dit is volbring”, en blaas Sy laaste asem uit.

Dis wat Hy vir ons gedoen het. Dink daaroor na vir ’n oomblik. Wat is dit wat Christendom van alle ander wêreldgodsdienste onderskei? Dit is die bloedige dood van ’n onskuldige slagoffer, dit is wat dit onderskei. Die bloed van ’n onskuldige lam. Net soos die bloed van ’n lam aan die houtraam van elke Israeliet se deur in Egipte gesmeer was, word die bloed van die vlekkelose Lam, Jesus Christus aan die kruishout gesmeer vir jou en vir my.

Dit is hoekom dit die evangelie genoem word. Dit is die goeie nuus. Dit is ook die goeie nuus van Kersfees vir jou en vir my en dit is hoekom ons dankbaar is vir hierdie jaarlikse geleentheid, hier-die jaarlikse herinnering van God wat aarde toe gekom het vir jou en vir my want Hy het gekom met een missie: Om vir jou en my te sterf. Mag die baba in die krippie vir jou ook die Paaslam wees aan Golgota se kruishout en mag Hy ook vir jou die Koning van die konings wees wat die dood oorwin het en weer terugkom as Regter en die een wat vir ewig sal regeer oor alles en almal.

Dit is ons Kersfees-hoop. Dit is ons Kersfeesgeskenk. (Deur Pastoor Francois Mattheüs)