Die koperslang (Num 21:4-9)
Om by die gebied van Edom verby te kom, het die Israeliete van Horberg af in die rigting van die Rietsee getrek. Op pad daarheen het die volk ongeduldig geword en teen God en Moses uitgevaar: “Waarom het U ons uit Egipte laat trek net om in die woestyn te sterwe? Hier is nie brood en water nie, en ons is sat vir hierdie slegte kos.”
Die Here het toe giftige slange onder die volk ingestuur. Die slange het die mense gepik en baie Israeliete het gesterf. Toe kom die volk na Moses toe en bely: “Ons het teen die Here en teen U gesondig met wat ons gesê het. Bid tog tot die Here dat Hy die slange van ons af wegneem.”
Moses het toe vir die volk gebid, en die Here het vir Moses gesê: “Maak ‘n beeld van ’n giftige slang en sit dit op ’n paal. Elkeen wat gepik is en daarna opkyk, sal lewe.”
Moses het toe ’n koperslang gemaak en dit op ‘n paal gesit. As iemand wat deur ‘n slang gepik is, na die koperslang opkyk, het hy bly leef.
Kan jy jou voorstel dat jy in ’n land woon tydens ’n epidemie wat ten minste een derde van die bevolking doodgemaak het? Dit het nie net met een nasie gebeur nie, maar ’n hele kontinent. In die 14de eeu het die Swart plaag oor Europa getrek en na raming 75 miljoen mense doodgemaak. Sommige historici meen dat dit moontlik tot twee derdes van die bevolking uitgewis het. Daar word vertel dat seilskepe sou strand met al die bemanning wat dood is omdat hierdie plaag almal aan boord uitgewis het.
As daardie situasie sleg klink, is ons almal eintlik in ’n erger een. Ons is dalk net nie bewus daarvan nie. Ons is almal besmet met ’n dodelike siekte wat uiteindelik ons lewens sal neem. Hierdie siekte word sonde genoem. Hierdie pandemie sal nie net ons fisiese lewens eis nie, maar sal ons ook in die ewigheid verdoem as ons nie die genesing ontvang nie. Hierdie skrifgedeelte vertel van en skets ’n duidelike beeld van die siekte waarmee ons almal sukkel, en die middel om hierdie dodelike siekte uiteindelik te kan genees.
God oordeel alle sonde met die dood (Num. 21:4-9)
Terwyl die nasie Israel deur die woestyn gereis het tydens hulle uittog uit Egipte, het hulle ongeduldig geraak en teenoor God en Moses uitgevaar. “Waarom het God ons in die woestyn uitgebring om te sterf toe Hy vir ons gesê het Hy gaan ons red? Watter soort God gee nie vir Sy kinders kos of water nie?”
Hulle was moeg, seer en woedend. As gevolg van hulle gekla, het God hulle geoordeel deur vurige slange te stuur wat die mense gebyt het en baie doodgemaak het (21:6). Die teks sê ook dat die slange vurige slange is. Geskiedkundiges is nie heeltemal seker wat dit beteken nie. Vurig is dikwels ’n term wat in Bybelse taal gebruik word vir die oordeel van God, maar dit kan ook ’n tipe slang wees wat dalk die vermoëns van ’n ou “vuurspoegende draak” het. Dit maak egter nie so seer saak presies wat nie, maar ons sien dat dit ’n baie slegte dag vir God se mense was.
Die mense het hulle toe uiteindelik voor God verneder. Hulle het Moses gevra om vir hulle in te gryp. Moses het dus gebid en God het met ’n paar ongewone opdragte geantwoord. God het vir Moses gesê om ’n slang te maak en dit op ‘n paal te sit. Wie na die slang kyk, sou bly lewe.
Dink jy God se straf in hierdie gedeelte is onregverdig drasties? Adam en Eva het ’n vrug geneem wat God hulle verbied het om te eet. Deur dit te doen, het die hele wêreld in sonde geval. Het God dalk oorreageer? Sonde is nie net om iets sleg te doen nie, maar om in rebellie teenoor ons Skepper-God ongehoorsaam en ongelowig te wees. Sonde gaan nie net oor wat ons doen nie, maar teen Wie ons dit doen. Adam en Eva het in Satan in plaas van God geglo en hom gehoorsaam. Die Israeliete het aan God se goedheid getwyfel. Wat van jou sonde? Rebelleer jy in dit, minag jy dit miskien, verklein jy dit of verskoon jy dit? Ons moet verstaan dat God geen toleransie vir sonde en ongeregtigheid het nie, juis daarom dat Hy ’n wonderlike verlossingsplan gee.
God genees alle sonde met die evangelie (Johannes 3:14-18)
Moses het die slang in die woestyn hoog op ’n paal gesit; so moet die Seun van die mens verhoog word, sodat elkeen wat in Hom glo, die ewige lewe kan hê.
“God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word. Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie; wie nie glo nie, is reeds ver-oordeel omdat hy nie in die enigste Seun van God glo nie.”
Jesus het vir Nicodemus gesê: “En soos Moses die slang in die woestyn verhoog het, so moet die Seun van die mens verhoog word, sodat elkeen wat in Hom glo die ewige lewe kan hê”.
God het die Israeliete van slanggif genees terwyl hulle na die koperslang op die paal gekyk het. Op dieselfde manier, as ons glo in die dood van Christus soos Hy vir ons sonde aan die kruis opgehef is, sal ons geestelik genees word van die siekte van die dood. Jesus het letterlik die vloek vir ons geword” (Gal 3:13). Ons glo in Sy lewe, dood en opstanding vir ons redding. Ons kyk na Hom, ons volg Hom as ons Here en God red ons! Hierdie verhaal van God se mense in die woestyn en hulle verlossing, is die boodskap van die kruis!
Indien jy nog nie ’n volgeling van Jesus is nie, weet asseblief dat die enigste manier om jou sondeskuld te delg, van jou skaamte ontslae te raak en vergewe te word van al jou verkeerde dade is deur die evangelie en geloof in Jesus Christus. Die Bybel leer ons:
“Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie. Die wet van die Gees wat aan jou in Christus Jesus die lewe gee, het jou vrygemaak van die wet van sonde en dood. Wat die wet nie by magte was om te doen nie, omdat dit weens ons sondige natuur te swak was, dit het God gedoen. Hy het met die sonde afgereken deur sy eie Seun in dieselfde gestalte as die sondige mens te stuur; so het Hy die sonde in die sondige bestaan van die mens veroordeel. Nou kan ons aan die eise van die wet voldoen, óns wat ons lewe nie deur ons sondige natuur laat beheers nie, maar deur die Gees.” Rom 8:1-4
God het al die werk gedoen. Ons kyk eenvoudig na Jesus Christus wat vir al ons sonde gesterf het, wat uit die dood opgestaan het, en wat nou as Koning heers. Ons draai in bekering van ons ellendige sonde af, en draai ons in geloof na ons Here Jesus toe.
Indien jy reeds ’n gelowige is, maar ’n stryd teen sonde voer, is om na Jesus te kyk steeds die enigste uitweg. Jaag Jesus daagliks na sodat Hy des te meer dwingend word en sonde minder aanloklik word. Dieselfde manier waarop ons van ons sonde gered word, is ook die manier waarop ons geheilig word ten spyte van ons sonde: Die evangelie en geloof in Jesus Christus. Vestig jou in Sy Woord, bid in Sy krag en leef volgens sy waarheid.
In die jaar 1666 het die Groot Brand van Londen die huise van 70 000 burgers uitgewis. Daar word gesê dat die brand se intensiteit so warm en oorweldigend was dat dit alles verskroei het, selfs tot aan die buitewyke van die stad. Niks het oorgebly wat herkenbaar was nie.
Daar word egter geglo dat hierdie brand die Swart Plaag, wat ongeveer 300 jaar geduur het, gestop het deur die rotte en mense wat die plaag gedra het, dood te maak. Dit het ’n groter dood en opoffering van vuur geverg om die dood van die siekte uiteindelik te stop.
Dit het die groter dood van Jesus Christus geneem om die dood van sonde te oorkom. Jy sal aanhou worstel met sonde, maar die krag van die kruis van Jesus is veel groter as die krag van sonde self.
“Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie. Die wet van die Gees wat aan jou in Christus Jesus die lewe gee, het jou vrygemaak van die wet van sonde en dood. Wat die wet nie by magte was om te doen nie, omdat dit weens ons sondige natuur te swak was, dit het God gedoen. Hy het met die sonde afgereken deur sy eie Seun in dieselfde gestalte as die sondige mens te stuur; so het Hy die sonde in die sondige bestaan van die mens veroordeel. Nou kan ons aan die eise van die wet voldoen, óns wat ons lewe nie deur ons sondige natuur laat beheers nie, maar deur die Gees. Dié wat hulle deur hulle sondige natuur laat beheers, hou hulle besig met die dinge van die sondige natuur, maar dié wat hulle deur die Gees laat beheers, hou hulle besig met die dinge van die Gees. Die dinge waarmee die sondige natuur van die mens hom besig hou, loop uit op die dood, maar die dinge waarmee die Gees Hom besig hou, bring lewe en vrede.” Rom. 8:1-6. (Deur Pastoor Francois Mattheüs)
Kingdom News: God se verlossingsplan vir die mens
Deur Pastoor Francois Mattheüs