Daar is altyd Sabatsreise vir die gemoedsbekakte

Deur Poem Mooney

Soos wat dit die gewoonte was, het ek en Ousie Roeslyn op die agterstoep gesit en koffie drink. Ek was die afgelope twee weke op Prins Albert, en ek het nogal ons geselsies gemis.

Toe Ousie gisteraand gebel het om ons koffie-afspraak vandag te bevestig, het ek geweet, sy wou weet hoekom ek Prins Albert toe was.

Ek het vroeg vanmôre die koffiebekers met die bordjie Ouma-beskuit op die skinkbord gesit.
“Gert,” het sy die gesprek begin. “Ek weet jou nawelstring is op Prins Albert begrawe,” sy het behaaglik gedrink aan haar koffie. “Maar hoekom het jy eintlik vir ’n volle twee weke daar gaan kuier? Is daar dan nog van jou familie?”

“Ousie,” het ek my gesprek begin. “Jy is reg met die nawelstring-gedagte. Dit is my geboorteplek en my familiegeskiedenis is op daardie pragtige dorpie ingewortel, die Balies, die Mooneys, die Willemses en die Le Kays spruit almal uit my wortel-wêreld.”

“My sustertjie wie tussen my en my oudtste suster Marca Magdalenda Cecilia staan op die ranglys van die sewe kinders van Coenraad en Maria Magdalena Mooney (Neé Balie) is op Prins Albert begrawe. Ja, Ousie, ons was altesaam sewe kinders – 4 seuns en 3 dogters. Dit is die een rede hoekom ek gevoel het ek moes Prins Albert toe. Ek wou gaan kuier op Nuwerus, die nedersetting waar my nawelstring begrawe is.”

Ousie Roeslyn het nog ’n beker koffie voor my neergesit, dit was asof sy my wou aanpor om verder te vertel. Sy het die voorraad Ouma-beskuit aangevul. Die geur van die moerkoffie het in die lug bokant die stoep gehang. “Die tweede rede, Ousie, hoekom ek daar wou kuier: ek wou vir my gedroogde vye gaan koop op Weltevrede, waar die Esterhuizens, oom Ben Esterhuizen, se kinders gebore is. Hierdie mense is ook al op Prins Albert begrawe en hulle, Ousie, hulle is ook deel van die familie.”

“As ek van hulle praat, Ousie, dink ek ook aan Oom Barend en sy vrou, Ant Stien en hulle kroos – Weltevrede se mense.”

“Die derde rede hoekom ek Prins Albert toe is, Ousie,” het ek verder gepraat, “ek moes uit Oudts-hoorn uit wegkom, want ek was op vir die mense se politiekery en hulle niksseggende politieke praatjies.”

“Ek was verbitterd oor die mense wie ongevraag by my huis aandoen om stemme te werf. Ek wou ontsnap van die verstikkende gesprekke en die wit olifante wat ons in ons selfgeskepte ivoortorings vertroetel – al die voorgenome kandidate wat by my was, Ousie, het my verveel oor hoe graag hulle die gemeenskappe wou dien. Ek kon duidelik sien dit het eintlik gegaan vir die eie belang.”

Ek het die koffiebeker leeg gedrink: “Niemand, Ousie, niemand het met my gepraat oor grondverlies, oor armoede, oor gesinsgeweld, dwelmmisbruik, bendegeweld en behuisingsnood nie. Hulle oppervlakkige gesprekke het my gewalg.”

“Gert Mooney,” het Ousie my in die rede geval. “Is dit die rede waarom jy hierdie Sabatsreis onderneem het? ’n ‘Sabatsreis’ wat jou eintlik twee weke geneem het om te voltooi?”

“Ja, Ousie, my reis was eintlik aangenaam. Ek kon my kop skoon kry. Prins Albert, die Swartberg, die omliggende plase met die bevatlike name, het my buite die bereik van die oppervlakkige gesprekke weggeneem. Die Karoo het my met ope arms ontvang.”

“Ja, Gert,” het Ousie weer gepraat, “jy was gelukkig om weg te kom van die belaglike manifeste en mooipraatjies vir ’n beter lewe wat maar net weer op niks gaan uitloop nie. Jy het ryker en ryper teruggekom!” Ousie het met ’n veraf blik in haar oë na die Swartberge deur my stoepvenster gekyk. “Nee wat, Gert, hierdie mense dink net aan hulleself.”

“Daar stem ek heeltemal met jou saam, Ousie. Die eie belang skree, terwyl die stem van die gewete praat.”