Bottega-uitstalling ’n reuse sukses

Bo: Johan Coetzer saam met sy vrou, Alet, by van die skilderye in sy retrospektiewe uitstalling wat tydens die Kunstefees gehou is. Foto: Lindi Brill

Tydens die Kunstefees het Johan Coetzer ’n retrospektiewe uitstalling van 90 kunswerke by die Bottega Kunsgalery in Oudtshoorn aangebied.

Hierdie kunswerke is oor ’n tydperk van 45 jaar deur Coetzer geskilder. Coetzer is ’n afgetrede kunsonderwyser van Hoërskool Oudtshoorn en mede-eienaar van Bottega Kunsgalery en Ramers. Bottega vier vanjaar hul 30ste bestaansjaar.

Alet, sy vrou, het genoem dat dit ’n uitdaging was om al die kunswerke van regoor die land na Oudtshoorn te kry vir die uitstalling.

Sy het aan Die Hoorn gesê dat die proses groot en uitdagend was, maar dat dit uiters bevredigend was om 45 jaar se werke saam te sien.

Die uitstalling het ’n belangrike mylpaal in Coetzer se loopbaan as kunstenaar verteenwoordig en het ’n groot sukses by die publiek geniet wat die geleentheid gehad het om die evolusie van Coetzer se kuns oor die dekades te bewonder en te waardeer.

Sy werk is omvattend en sluit figure, blomstudies, seeskappe en geboue in.

Die uitstalling het ’n waar-dering vir Coetzer se talent en toewyding by die gemeenskap versterk. (Deur Lindi Brill)