Jy dink jy doen

Deur Tania Smit

My boetie het altyd gesê: “Jy dink jy doen, maar jy word gedoen.”

En al is hy huis toe voor ek sy calamari-resep kon kry, of saam met hom ’n sigaar kon rook, of nog ’n laaste lekker tjoppie saam met hom kon eet, is daai die woorde van hom wat ek die meeste onthou.

Want ons is tog so oë-op-die-grond-besig om met alle mag die stuurwiel te probeer dwing in die rigting van ons kop.
Ons wil. Ons ego. Ons planne. Ons desire.

Maar as die kar moet vasval, dan sal hy.

As die wiel moet pap raak, dan gaan hy.

As die Lig oor jou moet skyn, sal jy nêrens kan wegkruip om dit te ontsnap nie.

En as jy by die Atlantiese Ose­aan moet eindig terwyl jy op pad was na die Indiese Oseaan toe, dan gaan jy jou voete natmaak in Atlantiese waters, nie Indiese waters nie.

So, miskien kan ons net ophou probeer om te doen.

En vir ’n slag die stuurwiel los en die volmaakte wonderwerk aanskou om gedoen te word.

Amper soos vandag se outo­ma­tiese karre.

Net beter.