Ingenieur Jack Joseph van O’hoorn

• Eerste wêreldoorlogverhale – 100 jaar later (31)

Deur Reindered Visser

Deur Reindered Visser

In een van my eerste artikels in hierdie reeks het ek vertel van lang tonnels wat die Geallieërdes tussen 1916 en 1917 tot onder Duitse loopgrawe gegrawe het; van kamers aan die einde van die ton­nels wat hulle met dinamiet gepak het en wat hulle uiteindelik een oggend vroeg, gelyktydig, laat ontplof het.
Daar was 19 sulke ontploffings oor ’n afstand van 15 kilometer, met ’n totaal van ongeveer 500 000 ton dina­miet wat tonne grond die lug in geblaas het!

Kraters so diep as 27 meter en met ’n omtrek van meer as 130 meter is in die landskap geruk, met ongeveer tiendui­send Duitse soldate wat binne sekondes gesterf het. En dié reeks ontploffings het vandeesmaand presies 100 jaar ge­lede gebeur, op 7 Junie 1917 om pre­sies te wees. Min het ek geweet dat ’n Oudtshoorniet ook betrok­ke was by die bou van sulke tonnels.

Dit was beslis nie die enigste tonnels wat tydens die oorlog gegrawe is nie. Daar is sedert 1914 honderde gegrawe. Behalwe vir die tonnels wat so dood gesaai het, moes ook ander ondergrond­se gange gegrawe word – sommige wat eenhede met mekaar verbind en ander wat kommunikasielyne gedra het.

Daar moes ook ondergrondse skui­-lings vir veldhospitale en soldate en offisierskwartiere gegrawe word. Hiervoor het hulle kenners nodig gehad – nie net gesoute myners om die tonnels die grawe nie, maar ook ingenieurs om die beplanning te doen.

Ontmoet tweede luitenant Jack Jo­seph, oud-leerling van Oudtshoorn Boys’ High, gekwalifiseerde siviele ingenieur en lid van die Royal Engineers, 185 Tunneling Company.

Jack, sy twee broers, twee susters en sy ouers, Chiam en Sarah Joseph, was deel van die groep Joodse immigrante wat in die 1800’s uit Litaue hier in die Klein Karoo aangekom het. Hulle was van die dorpie Gorsdz, of Gruzdziai soos dit vandag bekend staan.

Ek kon nie vasstel wat Chiam gedoen het vir ’n inkomste nie, maar ek vermoed dat hy ’n winkel op die dorp gehad het.

Die ouerpaar het al die jare in Van der Rietstraat gewoon. Jack se een sus­ter, Clara, was met ’n Morris Joseph getroud. Hier was dus meer as een Joseph-gesin op die dorp.

Moses, Jack se een broer, was ’n boer, maar het volgens sy sterftekennisgewing op sy oudag en tot met sy dood in die Imperial Hotel, waar Shop­rite vandag is, geloseer. Max, die ander broer, was nooit ge­troud nie en het ’n winkel in die Calitzdorp-omgewing gehad. Annie, die twee­de suster, was met ’n medikus, dr Joel Mann, getroud.

Ek het die grafte van Jack se ouers, sy broers asook sy swaer Morris in Oudtshoorn se Joodse begraafplaas raakgeloop.
Terug by Jack self.

Hy het nooit getrou nie en het ingenieurswese studeer. Dit blyk dat hy onder andere by die King’s College in Londen gestudeer het. Hy moes steeds in Engeland gewees het toe die Groot Oorlog uitgebreek het, want hy het, soos ek vroeër genoem het, dáár by die Royal Engineers aangesluit.
Die Royal Engineers het ’n groot ver­skeidenheid eenhede gehad wat uit­eenlopende take moes verrig. Daar was onder andere eenhede wat moes sorg dat alles rondom kommunikasie op die oorlogsveld vlot verloop, ander vir waar­neming (ook uit die lug met lugbal­lonne), nog ander vir die onderhoud van paaie, spoorweglyne en wapentuig.

Die Royal Engineers moes ook die probleme van chemiese gasaanvalle aanspreek deur die ontwikkeling van gasmaskers, en as teenvoeter, eie che­mie­se wapens.

Die grond in baie van die areas waar oorlog gevoer is, was van diep klei en ideaal vir die grawe van ’n verskeidenheid soorte tonnels. Die Duitsers het die potensiaal raakgesien en met ’n tonneloorlog begin. Dit het daartoe gelei dat die Royal Engineers in 1915 ’n aantal “tunneling”-eenhede gevorm het.
Hulle het met die tyd ’n gepaste bynaam gekry – “the moles”, en Jack het by een van hierdie eenhede aangesluit en ingeskakel – die 185 Tunneling Company.

Die tonnelgrawers het indrukwek­ken­de werk gedoen, en dit boonop on­der uiters moeilike omstandighede. Be­halwe vir ’n tekort aan suurstof daar onder moes hulle ook rekening hou met die vyand wat van hul kant gegrawe het op soek na hierdie tonnels om hulle te verwoes, meestal met dinamiet.

Tonnelgrawers van die twee kante het mekaar soms raakgegrawe en dan was daar man-teen-man-gevegte on­der die grond, tot die dood toe.

Jack se eenheid en nog andere het aan die einde van 1916 opdrag gekry om net noord van ’n dorp met die naam Arras in Frankryk ’n uitgebreide stelsel tonnels te grawe ter voorbereiding van ’n beplande veldslag in 1917.

(Ek vertel volgende keer meer oor hier­die veldslag. Die Springboks het ook daar geveg.)
Die versameling ondergrondse gange was so ’n doolhof dat dit as die “Labyrinth” bekend gestaan het.
Ek kon nie voldoende inligting oor die “Labyrinth” in die hande kry nie, maar kom ek vertel jou van een van die ander indrukwekkende tonnelstelsels waarby Jack se eenheid vroeër betrokke was – dan sien jy wat hulle kon vermag.

By Vauquois naby Verdun het vier eenhede van 500 man elk ’n reeks tonnels tot by die frontlyn gegrawe.
Die eenhede het 18 uur-skofte per dag vir twee maande gewerk om uiteindelik ’n stelsel van 20 km se ondergrondse gange, sowat agt meter onder die oppervlakte, te grawe. Party hiervan was vir voetsoldate, ander het spoorlyne gehad met trollies wat met die hand getrek is.
Die meeste tonnels het elektrisiteit en telefoonkabels gehad.

Kamers is aan die kante van die tonnels oopgegrawe om as hoofkwartiere, eerstehulpstasies en stoorkamers te dien. Dit was uiteindelik ’n effektiewe manier om soldate en toerusting veilig tot reg voor by die gevegsfront te kry en gewondes terug te bring.

Dan was daar natuurlik tonnels tot in niemandsland, wat naby die vyandige loopgrawe ’n opening gehad het.

Die opening was gewoonlik in ’n ou bomkrater en soldate kon dan hier ongesiens uitkruip en so die vyandige loop­grawe van naby aanval.

En laastens was daar die uitgrawings tot reg onder die vyand, met die kamers vol dinamiet wat die loopgrawe opgeblaas het. Oorlog bly wreed.

Jack was op 8 Januarie 1917 by die labarint-stelsel besig toe daar kontak met die vyand was. Was dit ’n skietgeveg?

Of ’n bomaanval van die Duitsers?
Dit weet ek nie, maar hy is gedu­rende hierdie kontak noodlottig ge­wond. Hy was 35 jaar oud.
Sy graf is in die Haute-Avesnes Britse Begraafplaas in die noorde van Frankryk en sy naam is op die gedenk­muur by die CP Nel Museum asook by die King’s College in Londen.

Niemand sal weet of sy seun se dood ’n invloed daarop gehad het nie, maar Chiam, Jack se pa, is net vyf maande later, op 28 Mei 1917 in die ouderdom van 73 jaar oorlede.