Vrae oor verhogings van senior personeel
Die redakteursbrief oor lesersdeelname en lesers se briewe oor Oudtshoorn se “rommelstatus” het betrekking.
Oudtshoorn is ’n kategorie 3-munisipaliteit, waar die munisipale bestuurder se salaris ongeveer R1,2 miljoen moet wees en die senior direkteure ongeveer R 960 000. (Gazette no 40118.)
Gedurende die 2017/18-begroting word die lede se salarisse verhoog na ’n kategorie 7-salarisskaal (ek verwys na ’n dokument uit die begroting.) Die munisipale bestuurder se salaris verhoog na R2,1 miljoen en direkteure s’n na R1,6 miljoen.
Om dit in perspektief te stel: George is ’n kategorie 5-munisipaliteit.
Gegewe die situasie in Oudtshoorn met buitensporige hoë tariewe ontstaan die vraag – is dit moreel aanvaarbaar en eties teenoor Oudtshoorn se inwoners?
Ek het sedert April 2017 die vraag aan die raad, mnr Maimane en minister Bredell gevra.
Uit die bloute op 8 Junie na vele burokrasie en rompslomp antwoord die minister my in ’n brief. Die minister verwys na die Government Gazette van 4 Julie 2016 (no 40118 oor salarisse en “upper limits”).
Is die minister onkundig of word hy verkeerd geadviseer? Die Gazette wys dat Oudtshoorn se senior bestuur nie ’n kategorie 3-“upper limit”-salaris gaan ontvang vanaf 1 Julie 2017 nie, maar wel ’n kategorie 7-“upper limit”-salaris.
Ek vra weer – aan die Oudtshoorn inwoners die keer – is dit moreel aanvaarbaar en eties korrek dat Oudtshoorn se senior bestuur dié salarisse kry? Besluit u maar self.
Laastens, die ouens se salarisse spring vier kategorieë, maar die Nasionale Tesourie se opdrag dat herstelwerk 8% van die munisipale begroting sal wees, word gesny na tussen 2 en 4%. Is dit die verandering waarvoor ons gestem het? Nee!
Wat ook opsigtelik is, is minister Bredell se skielike oordrewe betrokkenheid by die Oudtshoorn-bestuur. Waar was hy toe die vorige raad die dorp in “die hel” in gewerp het?
Let wel – die minister antwoord my nie oor hoekom Oudtshoorn se senior bestuur ’n kategorie 7-salaris gaan ontvang nie. Word daar iets gemis? Mag daar buite Government Gazette no 40118 gedateer 4 Julie 2016 opgetree word – veral as die minister dit as ’n verwysingsdokument gebruik om die kategorie 7-skale te regverdig?
– André Barnard, Oudtshoorn
(Die brief is Maandag aan die munisipaliteit gestuur en gevra vir dringende aandag en reaksie omdat Die Hoorn ook ’n berig hieroor wou skryf. Die reaksie is Woensdagoggend ontvang en het ons ongelukkig nie voldoende tyd gebied voordat ons bladsye na die drukker moes gaan, om die reaksie van die munisipaliteit te dra nie. Die reaksie van die Oudtshoorn Munisipaliteit sal volgende week gepubliseer word – Liesel le Roux, redakteur)
Prima facie
Felheid van kritiek oor onreg wat ontwrig
sal gaandeweg verdwerg,
en selfs geheel en al verdwyn
voor die kil oorredingsmag van geld.
Intussen lê die swaarkry ingeweef met leedvermaak se lekkerkry;
en heeltyd knaag die goedgefabriseerde skyn.
Al wat nog oorbly
is die pyn.
– Manuel Santi, Oudtshoorn
Ongeloof oor grafte
Absolute ongeloof – en bitter hartseer – was die emosies waarmee ek verlede Sondagoggend die Oudtshoorn munisipale begraafplaas verlaat het.
Asof die skok en afgryse my van woorde ontneem het, kon ek net oor en oor herhaal: Ek kan dit nie glo nie, ek kan dit nie glo nie…
Ou grafte wat baie jare se verweer deurstaan het, is afgebreek. En nie net hier en daar een nie, maar skokwekkend baie! My oupa en ouma se grafsteen van meer as 60 jaar lê om. Ons het probeer om dit regop te sit, maar kon die graniet nie beweeg nie. Dit wys daarop dat hierdie dade van verwoesting beplan is en die nodige gereedskap daarvoor ingespan is.
Mens stap nie sommer net deur ’n begrafplaas en, oeps!, daar stamp jy ’n grafsteen per ongeluk om nie.
Nou wonder ek wie op dees aarde kan nou soveel genot daaruit put om grafstene te plunder? Dalk iemand sterk, dalk iemand sonder respek, dalk iemand bang vir spoke? ’n Lafaard!!
Die beeld van honderde geskende grafte bly my by.
Het die munisipaliteit raad? Wat kan ons doen om hierdie dom optredes stop te sit?
Dalk ’n groot kennisgewing – Die graf is leeg!
– R.I.P. Oudtshoorn