In die warmstoel: Wil jy régtig sê wat jy sê?

Hannes Visser

Iemand het op ’n keer gesê die groot voordeel van Facebook is dat dit ’n openbare stem aan elke mens gee en die groot nadeel van Facebook is dat dit ’n openbare stem aan elke mens gee.

Met ’n aanbieding aan ongeveer 40 onderwysers waarvan 70% jonger as 35 was, het ek gevra dat hulle iets wat hulle onlangs op Facebook of op ’n WhatsApp-groep geplaas het moet neerskryf.

Ek het gevra of hulle dit voor die groep sal lees. Minder as die helfte was bereid om dit te doen. Toe vra ek hulle of hulle dit tydens ’n saalbyeenkoms sal voorlees. Minder as 10 was bereid. Die groot vraag was toe of hulle dit tydens ’n groot skolebyeenkoms oor die mikrofoon sal voorlees. Hulle was almal dood-stil met groot oë.

Om een of ander rede besef ons skynbaar nie dat dit wat ons op sosiale media kwytraak presies dieselfde is as om dit voor duisende mense te sê nie.

Daar is ’n persepsie by ons dat dit wat ek in die veiligheid van my eie ruimte op my foon of rekenaar se skerm uitblaker, nêrens heen gaan nie. ’n Ruk gelede ontvang ek ’n WhatsApp van ’n kennis wat my slegsê en beskuldig dat ek ’n “slegte vriend” is. Ek bel hom toe en vra hy moet verduidelik. Nadat hy klaar gestamel het, was sy antwoord dat dit net ’n “ou grappie” was en dat ek nie so fyngevoelig moet wees nie.

Ek staan dikwels verstom oor verskeie dinge. Selfs my eie optrede verstom my soms en nie altyd om goeie redes nie. Wat my egter die meeste verstom is dat mense nie skroom om hulle eie voor-oordele, onkunde en blatante diskriminasie op sosiale media uit te saai nie. Dit is asof hulle glo dat slegs mense wat soos hulle dink, die goed lees.

Kyk maar hoeveel kommentare daar op plasings is wat niks met die plasing te doen het nie. Op ’n plasing van ’n uitpasseringsparade sal iemand kommentaar lewer oor die gras wat vaal lyk, of by ’n plasing oor ’n swemgala sal iemand niks daarvan dink om ’n persoonlike opmerking oor die deelnemers te maak nie.

Vryheid van spraak is ’n stewige pilaar in ons grondwet, maar om dit te gebruik verg ’n goeie skeut verantwoordelikheid. Ek het die volgende “riglyne” iewers raakgeloop en moet self soms daarna kyk om myself te herrinner om eers te dink en dan te tik en dan nie te stuur nie:

  1. Type to your heart’s content, then delete.
  2. Driving drunk is irresponsible, posting drunk is irrevocable.
  3. If it’s not your platform, don’t start a fight. You’re just the visitor.
  4. If you are ignorant on a subject some people might know, but if you post it, everyone will know.
  5. Don’t argue on Facebook, call the person. If you don’t have his number, you don’t know him well enough to argue.
  6. If you want to comment, count to 20 then decide not to do it.
  7. Artificial intelligence is the ultimate test of people’s natural intelligence.
  8. Having 6 000 Facebook friends is the same as being a millionaire in Monopoly. (HANNES VISSER)