Graag wil ek dit onder die aandag van mede-Oudtshoorniete bring dat ons nog trots kan wees op ons polisielede – dit terwyl ons meestal met nét kritiek en sonder waardering (soms geregverdig) na hulle kyk.
Op Sondagmiddag, 13 Oktober 2024, is ek deur twee mans, een met ’n panga, op my staproete in Voortrekkerweg voorgekeer. Ek is van my selfoon en die sakkie, waarin die foon was, beroof. Die een man het daarmee oor die muur van die brug gespring en in die rivier tussen die riete in verdwyn. Ek het maar vrede daarmee gemaak dat dit die laaste sien van my selfoon sou wees.
Op pad polisiestasie toe, in Baron van Reedestreet, het daar toevallig ’n polisievoertuig by die robot naaste aan die kant van die Landdroskantoor stilgehou. Die twee konstabels het onderneem om my te help deur na die twee mans in die rivier te gaan soek. My verklaring by die polisiestasie is deur ’n gawe AO Swart afgeneem.
Die uitblinkers van die middag was egter Konstabels Sylvester, Damons, Arries, Booysen, Malgas, Adams en Mei van die CPU-A. Hierdie manne het uit hulle pad gegaan om binne die bestek van ’n uur die twee mans op te spoor, my te ondersteun met hulle uitkenning en my selfoon en sakkie, wat die mans op hulle gehad het, te kry.
Letterlik het hierdie konstabels bygedra tot meer as een wonderwerk vir die middag.
Ek kan hulle nie genoeg loof vir hoe mooi hulle my behandel het nie, hoe besorgd en hoe vriendelik hulle was nie.
Hulle is ware manne van inbors! Ek wens so ek kon iets meer doen om hulle puik dienslewering onder mense se aandag te bring.
Die medemenslikheid, wat hulle teenoor my uitgestraal het, kan ek nie in woorde omskryf nie. Al wat ek kan sê, is: “Sjoe! Tydens hierdie slegte ervaring is ek ryklik geseën met die teenwoordigheid van hierdie konstabels!”.
– Helene Schoeman