Die Oudtshoorn Rotariërs se krismisprojek skop weer vanjaar af, waar hul skoenbokse pragtig toedraai en versier met geskenke binne-in en aan minderbevoorregte voorskoolse kinders uitdeel.
Verlede jaar het hul meer as 600 krismisbokse uitgedeel aan sowat 20 kleuterskole in die Klein Karoo areas, soos De Rust, Dysselsdorp en Oudtshoorn.
“Elke boks word met liefde gepak en het die volgende items in: ’n Tandeborsel en tandepasta, waslap en seep, inkleurboek, vetkryte of inkleurpotlode, ’n tennisbal of soortgelyke bal en ’n pakkie jellielekkers.” vertel Lézelma Pretorius, een van die projekkoördineerders aan Die Hoorn.
Persone kan ’n boks pak, of van die items skenk of selfs geld in die Rotariërs se krismisboksprojek se rekening inbetaal, wat dan aangewend word om die items te koop. Hulle daag ook besighede, skole en ander instansies uit om deel te wees van hierdie projek.
Bokse of items kan by Baron van Reedestraat 84 afgelaai word voor of op 22 November. Soos in die verlede, gee hulle weer handgemaakte poppies saam met die bokse. Enige persone wat beertjies hekel of brei en skenkings wil maak, kan gerus met die groep kontak maak.
Lede van die publiek wat betrokke wil raak kan kontak maak met Pretorius by 084 582 3514 of Dalia Wilck by 084 620 0977. (ANGELIQUE ERASMUS)