In die warmstoel: Soms is feesvier net die regte ding

Hannes Visser

Hierdie is nie juis ’n rubriek nie; eerder ʼn dankbetuiging.

Verlede week se KKNK het soos ʼn warrelwind oor ’n Karoo-vlakte opgeskiet en verbygejaag. Maar hierdie was ’n heerlike verfrissende warrelwind van mense en dinge en smake en kleure.

Vir my was dit nog ’n groter vreugde omdat ons (of dalk net ek) besluit het om tydens die KKNK net eenvoudig die fees te geniet en niemand se week met swaarmoedige en ernstige nuus te bederf nie. Dit was nogal vreemd om sirenes te hoor en niemand te moet bel om te vra wie het vir wie waar raakgery of wie het wat aan die brand gesteek nie. Selfs ʼn ministeriële besoek met loeiende sirenes, tromme, tamboeryne en trompette het ons as nuusspan stil-stil verbygegaan.

Vir ʼn hele week kon ek soggens opstaan en besluit om iets te doen, iets groots nie te doen nie of net rond te hang. Ek het met baie mense gesels en ek kan nie dink dat ek een negatiewe siel ontmoet het nie. Hulle was waarskynlik hier, maar hulle het my seker maar vermy.

Ek is sedert geboorte nie iemand wat vir langer as ’n uur tjoepstil op een plek kan sit nie. Dit beteken natuurlik dat ek gereeld uitmuntende produksies misloop, maar ek wil letterlik na 45 minute in dieselfde sitplek opvlieg en net eenkeer op en af spring of hardop iets sê. Ek vermoed dit sal ander teatergangers ontstig.

Ek kan dus nie my feeservaring op enige verhoogstuk baseer nie, maar dit wat ek wel ervaar het, was puik.

Die terrein was goed uitgelê, sekuriteit was goed, die rye by die kroeë was soms lank maar vinnig, die musiekverhoë het gedreun en die klankmanne was puik. Ek het kuns gekyk, gesprekke beluister, boeke deurgeblaai en selfs op die RSG-verhoog ’n kort draai gemaak en oor boeke gesels.
My hoed lig ek vir die KKNK-span.

Oudtshoorn het weer, soos een van die kosmense gesê het, “gelewe soos voor Covid”. Julle het goed gedoen en ek kan nie wag om te kyk wat julle vir die 30ste een gaan opdis nie.

Ek het so lekker gefees dat ek hierdie naweek by die Buffalo Rally in Hartenbos sal moet gaan rustig raak en asemskep. (Deur Hannes Visser)

Be the first to comment on "In die warmstoel: Soms is feesvier net die regte ding"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*