In die warmstoel: Salig is die sagmoediges

Hannes Visser

Is dit nie jammer dat mense wat kwaad en vergelding en oorlog en straf verkondig, soveel aan-dag geniet nie?

Natuurlik praat ons oor hulle en oor hulle minagting van ander. Ons luister hoe ’n wêreld-leier ander mense verkleineer en beledig en sy eie ego streel met die mees onsinnige uitlatings denkbaar en dan stry ons onder mekaar of hy Amerika en die wêreld gaan red of oor die afgrond gaan laat stort.

Ons word elke dag blootgestel aan mense se egos en hulle uitsprake en dan kan ons seker nie anders as om te reageer nie. Verlede week sê ʼn vriend vir my hy is kwaad vir alles, sommer net moerig kwaad vir die lewe.

Dis natuurlik om kwaad te raak, ons is nie sonder daardie emosie gebore nie, maar tog is daar mense wat lewe asof hulle vir niemand in die wêreld kwaad is nie. Hulle is waarskynlik ook soms kwaad, maar hulle deel dit nie noodwendig met almal nie.

Hulle is die sagmoediges, die barmhatiges, die wat rein van hart is waarvan die Bybel praat. Hulle wat salig is omdat hulle is soos wat hulle is. Hulle is hier tussen ons en hulle bring elke dag verandering in ons lewens, maar min mense praat oor hulle, want dis nie so opspraakwekkend soos openbare bek-gevegte nie.

Daar is ’n gesegde dat mens moet oppas vir karma, want karma is geneig om om te swaai en jou te byt. Ek onthou vanoggend vroeg ’n voorval jare gelede toe ek en my vrou met va-kansie was. Ons was by ʼn kusdorp en kennisse wat in die omgewing woon, nooi ons om saam met hulle te gaan piekniek hou. Dit kon ’n mooi dag gewees het. Ongelukkig deel ons die piekniekarea met ’n groep vakansiegangers wat kinders het.

Die kinders is uitbundig soos kinders moet wees, maar ons vriendin is skynbaar nie vreeslik kindervriendelik nie en die derde keer dat hulle sokkerbal naby ons land, vlieg sy op, gryp die bal en smyt dit in die rivier terwyl sy die groep luid en duidelik aanspreek oor hulle selfsug.

Nou ja, ons piekniek eindig net daar en terwyl ons oppak om te ry sê my vrou ek moet dalk die mense om verskoning gaan vra vir die vrou se optrede. Ek stem nie saam nie, want ek kan nie namens iemand anders verskoning vra nie en ons gaan die groep mense in elk geval nooit weer sien nie, verduidelik ek.

Daardie aand gaan eet ek en sy by ’n restaurant wat iemand aanbeveel het. Ons is gelukkig om die laaste tafel vir twee te kry en die kelner noem dat die ander tafels deur ’n groep bepreek is. Ons het pas bestel toe die groep instap – dieselfde groep wat by die piekniekarea was.

Ek probeer sover as moontlik om mense soos daardie kennis van ons, te vermy en om die gesels-kap van sagmoediges en nederiges op te soek. Mense soos Gert en Dana en Riku en Reinardt en Lourens – mense wat ek nog nooit hoor kwaadpraat het van ander nie.

Die uitdaging is natuurlik dat ek ook so moet probeer wees as ek hulle geselskap opsoek. Dit is vrek moeilik, want ek is nie heeltmal rein van hart en sagmoedig nie, maar ek werk regtig daaraan.

As alles volgens plan verloop, ry ek volgende Vrydag met die motorfiets Strand toe. Dit is my voorreg om deur Riku en Jackie Latti van Die Wasgoedlyn genooi te wees om ’n opname van gedigte, musiek en gesels by hulle ateljee te doen.

Ek het ’n rit van meer as 400 km soontoe, want ek gaan waarskynlik met ’n ompad ry, om sagmoedigheid te oefen. Ons is nie almal sag en vredeliewend en sonder kwaad nie, maar ons kan regtig harder probeer om so te wees. Daar is meer as genoeg boelies dink ek.