Sedert president Donald Trump se uitlatings oor Suid-Afrika en sy uitnodiging dat Amerika se deure oopstaan vir (wit) Suid-Afrikaners wat onveilig voel, het veral wit Afrikaners hulself skielik weer in kampe bevind.
En natuurlik is sosiale media weereens die wonderlike fasiliteerder van beledigings, wyshede, pseudo-wyshede, halfgebakte argumente, aannames en nog ʼn swetterjoel woorde wat mens kan gebruik en uitdink.
Daar is nou selfs gespreksgroepe wat die voor- en nadele van emigrasie, die veiligheid en onveiligheid van landsburgers en die blommetjies en duwweltjies van oppak en trek bespreek. Dis ʼn goeie ding vir ʼn skrywer soos Zirk van den Berg, want sy jongste boek, Landuit, want jy wil mos, word nou ʼn bron vir mense wat die groen-gras-sindroom oorweeg.
Solidariteit en Afriforum kry pak aan die een kant en word geloof aan die anderkant. Trump en Musk is helde vir sommiges en rampokkers vir ander. Dalk is ’n patriotiese liedjieskrywer reeds besig met ʼn liedjie wat begin met “Donald Trump, Donald Trump” in plaas van “De la Rey, De la Rey” en dan sal ons dalk eersdaags vuis teen die bors by kunstefeeste staan en dit hardop saam met ’n bekende sanger sing. Ek weet nie – enigiets is moontlik in hierdie vreemde tye.
Iemand het ʼn ruk gelede op Facebook gevra waarheen mense sou wou emigreer as hulle moes. Dit klink na ʼn eenvoudige vraag, maar is dit so eenvoudig? Voordat mens besluit waarheen jy wil emigreer, moet jy seker eers vra hoekom? Maar voordat mens vra hoekom, is daar vir my eers ʼn heelwat belangriker vraag; Wie is ek?
Elkeen van ons ken iemand wat “oorsee” werk. (Selfs Afrikalande is vir talle mense “oorsee”, maar nietemin) Talle van ons ken ook mense wat reeds etlike jare in die buiteland woon en ons ken hulle uitdagings en suksesse, maar ook hulle versugtinge en verlange.
“Waarheen sal jy emigreer?” is vir my nie ʼn eenvoudige vraag soos “Wat is jou gunsteling kos?” of
“Waar hou jy graag vakansie?” nie. Die vraag moet eerder wees: “Wie is jy?”.
Ek is in die gelukkige posisie om 67 te wees en glad nie die energie of die lus het om my tentpenne op te trek, my kameel op te saal en die vreemde in te vaar nie.
Ek is gelukkig waar ek is en met wat ek doen, want ek is eerstens ʼn Suid-Afrikaner voordat ek ʼn Afrikaner is. Hierdie is my plek, hierdie is my mense. Dié plek en dié mense se uitdagings, gekhede, wyshede en verskille is ook myne.
Dit gaan vir my baie moeilik wees om myself uit te leef as Hannes die Afrikaanse Suid-Afrikaner in Viëtnam of Duitsland of Nieu-Seeland of (vader behoede my) die al-hoe-meer- vreemdwordende-U.S of A.
Los my uit en laat my begaan – ek is gelukkig hier. (HANNES VISSER)
In die warmstoel: Bly jy of gly jy?
