Deur Johan Strasheim
‘Ondersteuners langs skole se rugbyvelde kan maar intens raak. Eintlik soms heeltemal te intens.’
Ons kyk rugby by die skool.
Skolerugby is ’n ernstige besigheid. Daar is altyd ’n raserige bondel vurige ouers en opgewonde ondersteuners wat langs die veld heen en weer beweeg saam met die spel. In die algemeen vind alles in ’n goeie gees plaas, maar soms kan dinge maar pla met veral ouers wat nie weet waar die lyn tussen vurigheid en slegte maniere is nie.
Ek sit hoog en droog in die klubhuis na die wedstryd en kyk en neem maar alles in.
“Jan, ek sê jou, ons skolerugby is in die moeilikheid. Die refs wat hulle vir ons stuur, neuk alles op. Die ouens is beroerd…” hoor ek iemand hier agter my in die klubhuis sê. Dit is maar jaar ná jaar dieselfde ou sêgoed.
Vooraanstaande skole het destyds begin rugbyklubhuise en lapas bou ná eindelose fondsinsamelingsprojekte en al die ander tydrowende bymekaarmaakinisiatiewe waarby skole – veral hoërskole – se gewillige ouers betrek word. Die ironie is dat dit gebruiklik maar altyd dieselfde handvol manne is wat “voor vat” en die spul momentum gee met ure en ure se energie waarby die hele gemeenskap natuurlik baat vind en ewe trots saamry. (Dit is so met alles in die lewe maar kom ons gesels ’n ander dag daaroor!)
“Ag nee, bliksem, dit was vorentoe!” skreeu ’n ander skielik.
“Is so. Ag nee man. Kyk nou weer daar! Die ref haal asem deur sy fluitjie. Daai tackle was nie so erg nie.”
Almal op die pawiljoen en om die veld is natuurlik ervare kenners van die spel.
“Mnr Ref … telefoon!” skreeu ’n ander ou hier agter ons. Sy paar pêlle lag vir die stokou grappie. Almal kyk intens verder.
Skolerugby is ernstige besigheid al is daar eintlik – in die groter prentjie – inderwaarheid niks op die spel nie.
Ondersteuners langs skole se rugbyvelde kan maar intens raak. Eintlik soms heeltemal te intens. Ek weet – ek was by genoeg rugbywedstryde by skole die land oor om te weet. As jou seun speel, is dit ernstige sake en jy raak soms maar angstig en gespanne. Maar ek het my darem meestal goed gedra. My pa het my dit geleer. Hy het by herhaling gesê dat jy nie moet toelaat dat jou emosies langs die veld met jou die loop neem nie – dit is “after all” net ’n “game” en nie ’n saak van lewe en dood nie. Sy honderde kere as die ou met die fluitjie wat alles beheer, soms voor meer as 50000 mense, het hom seker hierdie kalme wysheid gegee.
Wanneer my seun gespeel het, het ek verkies om die wedstryde dop te hou van agter die pale waar niemand op my senuwees gewerk het nie. Dit was stiller daar en ek kon die spel beter dophou en tekortkominge probeer raaksien.
Dié spesifieke dag in Junie sal ek nie sommer vergeet nie. Dit was ’n pragtige wintersdag wat so eie aan Pretoria is. Ek en twee manne het oudergewoonte saam agter die pale gestaan en rugby kyk.
Ons seuns was nog o.14. Een van die skool se “menere” het dus die fluitjie hanteer, soos die gebruik was by die junior spanne.
Die wedstryd was sommer lekker vroeg ook. Agter ons op die grondwal was ’n ouer van die besoe-kende skool wat die een smalende opmerking ná die ander gemaak het oor die skool en die onderwyser wat die fluitjie hanteer. Ons al drie moes gaandeweg al harder op ons tande kners.
Toe my vriend Jan se beker omval, draai hy op die arme niksvermoedende ou en vlieg hom erg in. Soos die Engelsman sou sê … “It wasn’t pretty”.
Hy het laat loop en selfs die wag voor sy mond het laat spaander. As daar nie so ’n steil wal tussen ons was nie, was daar waarskynlik geskeurde klere en ’n dik lip of twee ook, om van gebreekte brille en los krone nie eens te praat nie. Beslis moeilikheid wat kon gebly het!
Jan, wat gewoonlik ’n redelike, bedeesde ou is, se pot het skielik en behoorlik oorgekook. Soveel so, die arme karakter bo-op die wal het maar druipstert die aftog geblaas en ons kon rustig en kalm die game klaar kyk.
Ek kan nie eers onthou wie gewen of verloor het die dag nie. Wat maak dit in elk geval saak? Wat ek wel kan onthou, is dat Jan nie homself was die dag nie. Jan se pa is vroeër daardie week oorlede. Dis seker wat sy lont so kort gemaak het.
Ons almal kry seker maar ’n beurt om Jan te wees.