Goeie nuus-oomblikke

Deur Liesel le Roux

Deur Liesel le Roux

DIEGENE wat aktief is op sosiale me­dia, kan gerus die Good Things Guy op Facebook en Twitter volg vir wonderlike, inspirerende en sommer net lek­ker goeie nuus-stories uit Suid-Afrika.
Ja, daar is goeie nuus in Suid-Afrika, en in die Klein Karoo.

Om die waarheid te sê is daar heel dikwels goeie nuus en gebeure om ons en is daar genoeg rede vir ons om nie elke dag met ’n frons rond te loop en te veel te kla nie.
Enkele goeie nuus-oomblikke van die afgelope week vir my :
• Die geesdrif en samewerking waarmee baie mense – talle gratis en as vrywilligers – gewerk het om Oudts­­hoorn se eerste Spay-a-Thon te laat realiseer. Dit was ’n besondere ervaring gister om almal se toewyding te sien tydens die operasies by die kantore van die staatsveearts.
• Die goedheid van inwoners en sakelui wat elkeen op sy eie manier ’n bydrae lewer om die brandslagoffers – Nathan Oktober, sy dogter Mentolene (7) ) en vrou Mina Goliath – by te staan om weer op hul bene te kom en ’n leefbare blyplek in te rig. Die gesin het nog heelwat hulp nodig, maar dankie aan almal wat Die Hoorn hiermee help.
• ’n Besoek aan die Oudtshoorn Riool­plaas wat behoorlik ’n gedaanteverwisseling ondergaan het sedert Die Hoorn oor die verval daarvan in Februarie 2015 berig het. Dit het my as Oudtshoorniet sommer weer moed gegee vir die toekoms van ons dorp.
• En dan: Die Klein Karoo wat met ’n geel en roesrooi herfskleed spog vir almal wat die moeite doen om om hulle rond te kyk. Ons is bevoorreg om hier te kan woon en werk.
– Liesel le Roux, redakteur