Glimlag in jou stem is hoorbaar!

Hannelie Rix skryf oor hande-in-die-hare-oomblik met telefoon-operateur

Die telefoon lui in my oor. Ek druk al die knoppies om by die regte afdeling uit te kom. Maar dan word dit stil. Nie ’n besettoon nie, net stil.

Ek probeer weer. Twee minute is ’n lang tyd om met ’n telefoon teen jou oor te sit wanneer die lysie vir die dag se take lank is.

Ek is verlig toe ’n dame antwoord. “Kontaksentrum,” sê sy. Geen emosie in haar stem nie.

“Goeiemôre, my naam is Hannelie Rix en ek het ’n navraag,” antwoord ek.

“Ja?” sê sy, “Wat wil jy weet?” Ek kan hoor hoe sy aan die ander kant van die lyn sug.

Ek het ’n krisis, daarom vra ek be-sonder mooi. “Ek het gister ’n klomp dokumente ingegee, maar daar was een vermiste bladsy,” verduidelik ek. “Hoe kan ek dit by julle kry?” .

“Kom lewer dit af,” sê sy.

“Hhmm, ek bly op Oudtshoorn en kan ongelukkig nie vandag Kaap toe ry nie,” antwoord ek ewe gedweë, maar besef sy weet dit mos nie.

Ek pleit. “Kan ek dit dalk vir jou e-pos en dan stuur jy dit namens my na die regte afdeling?”

“Nee,” sê sy, “dis nie hoe dit hier werk nie.”

“Kan ek dit dan direk na die afdeling toe e-pos?” vra ek.

“Natuurlik! Het jy hulle e-posadres?”

Ek raak bewerig van opgewondenheid. Dinge begin nou na ’n kant toe beweeg. Ek het nodig om in die volgende twee dae hierdie saak af te handel.

“Nee,” sê ek, “kan jy dit asseblief vir my gee?”

“Nee,” antwoord sy, “ek het dit ook nie.”

Verslaentheid! Verbeel ek my of is daar ’n grinnik in my oor.

Miskien het jy al iets soort-gelyks oorgekom. Die gevoel van magteloosheid wat oor jou spoel. Dis ’n hande-in-die-hare-oomblik. Jou kop werk teen die spoed van wit lig. En dan, die wete dat jy verstaan dat sy net haar werk doen, maar dat jy tog ontevrede is met die manier waarop sy die situasie hanteer het.

Elke besigheid het sy eie beleid. Daar is goeie redes hoekom ’n beleid in plek gestel word. Maar help my as kliënt asseblief om ’n oplossing vir my pro-bleem te kry, want in hierdie oomblik is ek opsieloos.

Jy as telefoonoperateur, het “my storie” al te dikwels gehoor. Jy kan my krisis ligter maak deur ’n glimlag, want al kan ek jou nie sien nie, kan ek dit in jou stem hoor.