Ek en Ousie Roeslyn was besig om koffie te drink op my agterstoep. Die geur van die tuisgebrande koffie en die tuisgebakte brood het die regte atmosfeer geskep vir diep gesprekke tussen siels-genote.
Die reën het geval asof dit met emmers uit die lug gegiet is. Ek was met verwondering gevul toe Ousie Roeslyn my uit die salige mymer oor die gietende reën versteur.
“Gert Mooney, jy wou my nog vertel het van die droom wat jy ’n paar weke gelede in die Kaap gehad het.”
“Ousie,” het ek traag beginne praat. “Ek wil nie op hierdie gewyde oomblik oor die snaakse droom praat nie, want ek voel nou nog so ’n bietjie simpel oor die mymering waaroor ek getob het voor ek gaan slaap het.”
“Watse geweifel is dit met jou, Gert. Moet net nie vir my sê jy is nou bang om oor jou eie droom te praat nie! Of kan jy nie meer die droom onthou nie?”
Ousie Roeslyn se skor gelag het skielik my tong losgemaak.
“Ousie, ek het daardie aand geworstel oor die boosheid wat hand oor hand toeneem in ons gemeenskappie. Oor hoe gierigheid oor geld en gou-rykmaakskemas die mensdom mal gemaak het om die geldduiwel koning te maak.
“Ek was onsteld oor die verspreiding van dwelms in ons gemeenskappe, die dwelmkartelle en hoe ons jongmense dwelmmuile geword het. Ek het selfs in die Bybel gelees hoe Timoteus die ouderling vermaan het in 1 Timoteus 3 vers 3: ’n Ouderling moet onberispelik wees, getrou aan sy vrou, nugter, verstandig, beskaaf en gasvry en bekwaam om te onderrig, hy moenie aan drank verslaaf of ’n rusiemaker wees nie, maar inskiklik, vredeliewend en nie geldgierig nie. Die woord ‘geldgierig’ het my soos ’n donderslag tussen die oë getref.
“Ek het ’n spreekwoord uit my geheue probeer opdiep en dit was toe dat die spreekwoorde soos soldate op aandag voor my kom staan. Die een sê toe vir my ‘geld wat stom is, maak reg wat krom is’, terwyl die ander spottend fluister, ‘geld wat geel is, maak reg wat skeel is’. En jy weet mos wat dit beteken, nê, Ousie?”
“Ja, Gert, ek onthou dit beteken met geld kan ’n mens baie uitrig.”
“Ek weet Ousie. Ek het gelê en wonder oor die spieëlbeeld in die gedig van NP van Wyk Louw. Ek was ontsteld oor die inleiding van die gedig. Onthuts het die naam van die gedig in my kamermuur onder die ronde spieël met die gordynplooie verskyn: Ballade van die bose met die inleiding: Ken jy my nou?”
Het jy in die spieël gesien
en ken jy jou?
Wanneer jy wil vlug
uit die stad wat brand,
dan vlug ek saam
soos ’n vrou aan jou hand.
“Dit is ’n lang gedig, Ousie, dus gaan ek net aanhaal hoe die bose ons gemeenskappe misbruik – oor geld wat stom is en oor geld wat geel is maak reg wat skeel is. Wat my meer geskok het, was die woorde in die vyfde strofe:
Ek is in jou
gevleg gerank
soos ’n wortel, in
die donker bank
en van voor die daeraad
se blank begin
straal ek by albei
jou oë in.
Weet jy genoeg:
wat God vereen het,
hoort saamgevoeg?
Ek is jou wese
se ondergrond
en ek trap in jou spoor
soos ’n goeie hond.
“En dan, liewe Ousie Roeslyn, dan bly die bose in ons hardvogtig. Die bose gee nie op nie. Hy bly besig om jou te verlei. Al is hy ook verslaan aan die voet van die Kruis op Golgota. Hy vra aanhoudend vrae om die mens te verwar. Hy maak ook sy eie voorbarige verklaring.”
Al is julle helder
en slink en vry
moenie dink dat julle
my dood sal kry,
of my strenge gang
op my baan sal stoor:
al is ek die hond
ek hou die spoor.
Ousie Roeslyn het verslae na my gesit en kyk, en toe sê sy saggies: “Ja, Gert, die gesangdigter sê mos, Satan is listig, trots en wreed. Ja, Gert Mooney, boosdoeners is gewetenloos.” (Deur Poem Mooney)
Geld wat stom is, maak reg wat krom is…
Deur Poem Mooney