Elkeen is ’n dief in sy eie nering

Deur Poem Mooney

“Goeiemôre, goeiemôre!” Ek het Ousie Roeslyn se oggendgroet met groot waardering aangeneem. “Môre, Ousie” het ek haar vrolike begroeting ge-ëggo. “Ek het maar ingekom, want die tuinhekkie was oop. Julle moenie so onverskillig wees nie, onthou, Gert, diewe nooi hulleself om by oop deure, oop vensters en hondelose werwe in te stap.”

“Wag nou, Ousie, wag nou,” het ek geantwoord. “Ek het vanmôre vroeg gaan draf en het nie die hek agter my toegetrek nie.”

“Het jy dan van ons koffie-afspraak vergeet, Gert?” Ek het gerusstellend gelag. “Ousie kan maar vir ons skink, die ketel is op die stoof en die skinkbord met die koffiebekers wag vir ons. Bring dit sommer stoep toe, ek gaan solank my drafskoene omruil.”

Ek het heimlik gelag oor Ousie se besorgdheid oor die tuinhekkie wat oopgestaan het, want toe skiet die gedagte my te binne – ’n goeie ou spreekwoord: Die geleentheid maak die dief. Menende – as iets oopgelaat word, lok dit diefstal uit.

“Ag maar die koffie ruik heerlik en dit smaak so lekker!” Ek het geglimlag oor die kompliment en my eie beker volgegooi met die heerlike brou. “Dis moerkoffie, Ousie” het ek gesê na die eerste rondte. “Ek het die pitte self gebrand.”

“Dis mos om dié rede dat ek vir my ’n tweede koppie koffie geskink het.” Ousie het behaaglik geteug aan die tuisgebrande koffie en met ’n veraf blik in haar oë het sy deur die stoepvenster gekyk en toe weet ek hier kom ’n ding.

“Gert,” het sy begin. “Die ding met die tuinhekkie vanmôre, het my ’n bietjie onkant gevang. Ek het mos nie geweet jy het gaan draf nie, want jy is altyd so gesteld daarop om alles te sluit voor jy saans gaan slaap. Dit is toe dat ek sien die kombuislig brand en toe kon ek met verligting in my hart groet.”

Ek het lank stilgebly voordat ek Ousie met ’n sinvolle antwoord kon bedien. Ek het gevoel hoe woes my hart teen my ribbekas bons en eers toe die onrus bedaar kon ek iets sê. “Ousie,” het ek stadig begin kou aan my woorde. “Daar is ook ’n spreekwoord wat sê: Elkeen is ’n dief in sy eie ne-ring… En wat bedoel hierdie spreekwoord, Gert Mooney? En moenie suutjies poep nie, praat, laat ek hoor, waar pas die werf by die nering in?” Ek kon die angstigheid in haar stem hoor.

“Eintlik, Ousie,” het ek versigtig gesê. “Dit beteken elkeen soek sy eie voordeel in sy beroep. Dit is eintlik die verouderde naam vir die beroep wat die mens bedryf. As jy ’n landbouer was, was dit die beroep wat jy bedryf het. Daar is ook ’n spreekwoord wat sê: ’n mens moet jou tering na jou nering sit, en dit beteken jy moet jou uitgawes na jou inkomste reël.”

“Nou, Gert Mooney, het jy my heeltemaal in die dwaal, want waar pas die werf in die nering, ek is nie by nie?”

Ek het ousie Roeslyn diep in die oë gekyk voor ek half versigtig probeer verduidelik het. “Met die skrywe van my jongste, versebundel, Ousie, het ek baie met die ‘muse’ gestoei oor hoe en waaroor ons, ons erfenis moet vier. Ek het geskryf oor elemente soos water, bloed, klip en sand.”

“Oor rotskuns en petrogliewe op spesiale, spi-rituele plekke in die Suid-land en êrens in Afrika. Ek het gestoei oor nagelate bakens, oor sterrebeelde en planete, oor watervalle en fonteine en oor die medisinale kruie en…”

“En wat nog, Gert Mooney, en wat nog?!” het sy my bruusk in die rede geval.

“Nee, ousie, nee” het ek half dof gesê. “Oor nuwe ontdekkings oor die Khoi en San se erflike nalatenskappe.”

“Ek het ook geskryf oor die spiritualiteit en die ‘Sacred Ceremonies en Sacred Sites’ en die rustelose beendere van die Khoi en San se voorsate.”

“En wat nog, Gert?” Ek kon die ongeduld in haar stem hoor en die hortende asemstote.

“En toe skryf ek hierdie gedig oor ’n fantastiese ontdekking waarvan ons die nasate van die eerste inheemse voorsate, eerstehandse getuies was, en dit, Ousie, is die heldere witte waarheid.”

Rustelose Beendere
Ek wonder soms hoe en waar is Khoi en San mense in hierdie land van hul geboorte, begrawe.
Ek was gelukkig toe ons die graf met die gebalsemde liggaam van die Kouga-mummie, gesien en beleef het.
Hierdie belangrike vonds tussen die Kouga-Komme in die Langkloof, tussen die Kammanassie- en Kougaberge in die Noorde,
en die Tsitsikammaberge in die Suide
het ons bestaan in hierdie land verseker.
Daarom is Afrika se son en skoon lug,
deel van ons nagelate erfenis, spesifiek
die grond waarvan ons die bewaarders is.
Ons nawelstring in hierdie land is diep gegrond:

dit het die Khoisan-volk tot eienaarskap verbind.
Ons historie sal ons gedurig tot ontwaking oproep: soos hierdie ‘balsem-wonder’ uit die Kouga; sal dit ons voortdurend oproep tot volksang, en geestelike herlewing.
Wat ons in ’n groter volksverband sal saam-snoer, tot ’n hegte eenheid
.

Ten slotte: Die mummie is tot vandag toe nog nooit herbegrawe nie – dit verklaar die rustelose beendere. (Deur Poem Mooney)