Deur Tania Smit
In my grootwordjare in Namibië het my pa, destyds huisdokter, nog deur die Kaokoveld gery met die Oshakati Hospitaal se Ford F-250 4×4, en sy Ovambogids Festus agterop om die pad aan te wys, om die rondgaande kliniek te gaan beman.
Hulle twee en my ma (’n suster) het vir ’n week lank op die grond in die veld geslaap langs ’n diere-skrikmaakvuur en ’n geweer, en by al die bekende hospitaalbome gestop waar die wêreld se mense geweet het dis tyd, en al met vaal-vêrstap-kaalvoete en krom rûe in lang rye gewag het as hulle daar aankom.
Na werk het Oshakati se mense gaan afkoel op die tennisbaan, terwyl ons blinkgewaste kindertjies langs die bane gespeel het. En soms, in die reënseisoen, het Fiena, die Ovambovrou, met my en my boetie deur die natgereënde grondstrate geloop, verby donkies wat in poele reënwater wei en daisies vreet van die sypaadjies af.
Ek onthou hoe ons in die Nautedam met oranje life jackets leer kanoe ry het op dankbare bruin water.
En Swakopmund se laundry waar ons later jare gaan pool speel het, sekelduin op oujaar, buite slaap onder regte sterre, duine ry, !nabas uitgrawe, en hoe ons met taai hare agterop plaasbakkies gestaan en deur velde met geel grasvlaktes en altyd perfekte grensdrade gery het.
En hoe ek en my boetie op Keet-manshoop se grondpaaie met brandvoete en swembroek-handdoekrolle- tjies onder die arm dorpswembad toe gestap het. Hy om van die hoë duikplank af te spring, en ek om al gillend en skreeuend van die lae duikplank afgegooi te word deur oom Wynand, my swemonnie.
En dan weer daarna met dieselfde brandvoete na my oupa en ouma se huis toe te hol, om vet-en-stroop-broodjies te eet op wit draadstoele in die suglekker koelte van hulle enigste peperboom.
Ek onthou Namibië in prentjies, en emosies.
Die hitte, die stilte, die sonbesies, die vrede, maar veral die dae. Onopge-smukte, gelukkige kinderdae. Die land wat my leer kettie skiet, klipgooi en soos ’n man leer fluit het. En my geleer het om op die grond onder ’n boom langs ’n vuur te sit, nie op ’n stoel nie.
Daai memories het deel van my bloed geword, en dit vloei elke dag deur my are.
Ek is ’n meisie van Suidwes. ’n Kind van rooi grond en oop vlaktes. En ek verlang na my land.