So ’n jaar of twee gelede het saadboere in die Klein Karoo ernstige probleme met bestuiwing gehad terwyl die probleem daardie rondte nie by die bye was nie.
Ek staan op ’n dag en gesels met iemand daaroor en die gesprek raak aan die gruwelike hoë temperature wat daar dié Oktober tydens bestuiwingstyd was. Hy noem toe onder andere dat die proteïn in die stuifmeel sal denatureer wanneer die temperatuur te hoog raak.
Skielik “lui die klokke” vir my… ek ken daai word en wat dit beteken!
Denaturasie van proteïne vind plaas wanneer die struktuur van die DNA in die proteïn verander word, die bekende DNA dubbel-heliks struktuur losbreek en die protein nie meer funksioneel is nie.
Daar is ’n paar faktore wat denaturasie kan veroorsaak – onder ander chemiese redes en te hoë temperatuur. Alledaagse voorbeelde is eiers wat gekook word, vleis wat gaargemaak word en byvoorbeeld die gebruik van alkohol as ontsmettingsmiddel. Dit kan soms omgedraai word, maar oormatige temperatuur is een waar dit nie gaan terugverander nie.
So is dit dan dat kwekers altyd bekommer oor te hoë temperature wat stuifmeel negatief kan affekteer. Die literatuur sê dat dit gebeur teen temperature van 40 grade Celcius af en hoër, eintlik hier van 38 grade af, afhangende van die tipe gewas. Baie faktore het waarskynlik bygedra tot swak oeste, soos hitte en droogte deur die groeiseisoen. Maar een ding word vir wetenskaplikes kommerwekkend duidelik; hitte is ’n stuifmeeldoder. Selfs met voldoende water kan hitte stuifmeel beskadig en sodoende bestuiwing in die wiele ry.
Oormatige hitte meng in met bestuiwerinteraksies met plante wat ongeveer ’n derde van die wêreld se voedselgewasse produseer en wetenskaplikes skarrel rond om die komplekse maniere waarop stygende temperature daardie verhoudings ontwrig, te verstaan. Die produsente – ons, die boere – beur oor die algemeen maar voort met die geloof dat “’n boer se beste jaar is altyd volgende jaar”.
Maar ek wil nie ’n artikel oor denaturasie, bestuiwing, stuifmeel en so aan skryf nie – daardie onderwerp is hopeloos te kompleks!
Hierdie storie gaan eintlik sommer lekker vêr terug…na 1981 toe om die waarheid te sê. Rekenaartegnologie is in sy kinderskoene en mikrorekenaars nog baie beperk en stadig. Ek word aangestel op ’n projek om programme te skryf op ’n PET Commodore rekenaar. Dit het ’n 8-bit 6502 mikroverwerker, 16 kb geheue en twee floppieskywe van so 120 kb gehad en dit was “state of the art” tegnologie. Dis is KLEIN…niks van megabytes en deesdae se gigabytes nie!
Nou ja, dis die tegnologie van die tyd en ek skryf programme in BASIC.
Dis al wat daar was.
By ’n laboratorium van die Mediese Navor-singsraad (MNR) in Pretoria was ’n groepie manne besig met ’n projek om die denaturasie-eienskappe van die berugte E-Coli bakterië te bepaal.
Waarvoor weet ek tot vandag toe nie, want as jong ingenieur was ek net behep met die dataverwerking deel van die projek.
Die rekenaar was aan ’n masjien gekoppel waarbinne die E-Coli monster stadig verwarm is terwyl die masjien basies lig daardeur skyn en soos die bakterië se protein begin denatureer, die intensiteit van die “lig” aan die ander kant verander.
Dit word alles gemeet en uitgestuur na die rekenaar waar my programme dit inlees en stoor om later te verwerk.
Die metery was nie sonder pro-bleme nie en het die data baie “ruis” bevat.
My taak was om die data “skoon te maak” sodat die ware temperatuur/absorpsie kurwe van die bakterië bepaal kon word. Soos aan my verduidelik is, gee die unieke vorm van hierdie grafiek ’n “vingerafdruk” van die bepaalde bakterie wat ondersoek word.
Ek het my hande maar vol gehad met minimale verwerkingskapasiteit, maar uiteindelik ’n paar filters vir die ouens aangebied wat alles staatmaak op tegnieke uit die statistiek. Dit het eenvoudige bewegende gemiddeldes tot baie komplekse aanpasbare eweningsmetodes en selfs ’n paar aangepaste vooruitskattingsmetodes ingesluit. Die span kon hulle grafieke plot en die projek was ’n sukses.
Hier staan ek nou, dekades later, in die Klein Karoo en bespreek denaturasie van die proteïn in die stuifmeel van uie – en verstaan so ewe waaroor gepraat word!
As dit nie vir die programmeringsprojekkie destyds was nie, kon ek net met ’n belangstellende uitdrukking op my gesig intelligent staan en my kop knik het, want kom ons wees eerlik…plantfi-siologie en mikrobiologie is nou nie deel van my gebruiklike leesstof nie!
Die lewe se vele draaie is darem maar interessant. (Deur Johan Strasheim)

’n Mooi bestuifde uiesaadkop. Foto: Johan Strasheim