Dit is al weer Kersfeestyd!

EK het al oor Kersfees geskryf, maar Kersfees is ’n spesiale tyd en sommer baie stories werd. Dit is ’n tradisionele fa­milietyd van liefde, van emosies, van lekker eet en kuier, geskenkies gee (en kry) en ten spyte van die al die liedjies, takbokke, Kersbome met blink balletjies en blinkertjies wat aan die takke hang en ’n mooi ster heel bo op, ook ’n feestyd met ’n pragtige dieper geestelike betekenis vir Christenmense die wêreld oor.
As ek terugkyk oor die horde Kersfeeste wat ek al ervaar het, is die ver-andering oor die jare tog te duidelik.
Vir ’n klein outjie is twee Kersfeeste oneindig vêr uitmekaar.
Aan die begin was ons altyd op die plaas met ’n reuse Kersboom in die sitkamer waaronder hope toegedraaide geskenke geduldig gelê en wag het vir Oukersaand…
As jou ma en pa dorp toe is, kon jy dit gou waag om joune uit te snuffel en te probeer raai wat daarin is deur dit te bevoel en liggies te skud. Dit was ’n pragtige tyd en ons gesin het dit jaar na jaar getrou op presies dieselfde manier gedoen.
Maar alle goeie dinge kom tot ’n einde en die eerste kraak was toe my oudste suster klaar was met skool en moes werk oor die feestyd. En toe die tweede een. En toe is die plaas verkoop, want die regering wou mos destyds tuislande maak.
Mettertyd is ek ook klaar met skool en Lugmag toe. Nog ’n verandering. En so met die tyd wat onverpoosd verbygaan, verander jou Kersfeeservaring.
Eintlik begin daar maar net ’n nuwe fase, want nie te lank nie en al die kinders het mans en vrouens en dan word Kersfees natuurlik gedeel tussen die ouers en die skoonouers. Die ander word gebel op Kersoggend.
Dit is ook nie 100 jaar nie en jou eie gesin begin gestalte aanneem en Kersfees neem al weer ’n nuwe gestalte aan.
Nou draai dit meesal om die kindertjies en die buitengewone opgewondenheid wat hulle daaruit kry.
Dit is mos so … as jy nog klein is, glo jy absoluut dat Kersvader bestaan, en as jy ouer word, weet jy hy bestaan nie, maar jy speel maar saam.
As jy groot is en ’n pa is, dan is jy Kersvader – kompleet met ’n rooi pak en ’n baard van spierwit watte – wat jy al swetend moet dra tot al die geskenke uitgedeel is en die kleintjies belang verloor in die oom met die rooi pak.
Kersvader kan dan gou wegglip om weer stilletjies terug te kom vir ’n ys­-koue bier en om sy eie geskenkies oop te maak.
As jy klein is, kry jy sulke lekker geskenke en sommer ’n groot hoop van hulle, maar soos jy ouer word word dit minder en meer voorspelbaar – chok­-lits, miskien ’n hemp (wat jy self gekies het) en dalk ’n lekker bottel rooiwyn. ’n Klein hopie goed.
Die goed wat ek die meeste waar­deer is gelukkig verniet!
My ware geskenke is die samesyn met geliefdes, gesondheid en die wys­heid om te besef dat dit nie vir ewig hou nie. As jy in die Kerstyd ’n ou sien sonder ’n glimlag, gee hom maar een van joune. Dit kos mos niks!
Naderhand is jou ouers nie meer daar nie en die bellery op Kersoggend raak minder.
Jy luister maar ewe sentimenteel na die pragtige lirieke van Koos du Plessis se Somerkersfees en kyk na ’n foto’tjie of twee op die yskas en dink terug aan jou ma en pa en die lekker tye saam terwyl jy kerkklokke rustig hoor beier in die verte.
Hierdie sal die 24ste Kersfees wees wat ek nie my ma sal bel nie – ook nie aansit by haar spoggerige Kersete nie.
Mense, kon sy ’n lekker ete voorsit! Jy besef jy is self nou die oupa wat Kersfees moet lekker maak.
So stap die tyd aan en jy besef maar net weer; daar is net twee omblikke in die lewe – nou en te laat!
Jy vee nog ’n keer jou oë uit en jou eens klein kindertjies is nou groot, met hulle eie gesinne – en jy moet ook nou jou beurt afwag elke alternatiewe Kersfees.
Maar dit bly ’n lekker tyd en jy mag weer vir ’n klein rukkie kind wees saam met die kleintjies langs julle Kersboom.
’n Baie gesëende Kersfees aan julle almal!