Dit het sopas gereën…

Deur Tania Smit

Dit het sopas gereën in die Klein Karoo.

Nie ’n sagte deurdringende reën nie, maar ’n blitsende klappende windwaaiende storm wat my bome tot op die grond laat buig en my diere onder my stoele ingejaag het.

En ek het buite gaan sit, dat die storm haar spoegsels water onder die stoep se dak in kan uitstort en oor my gesig kan kom sproei. Sodat ek elke mergel van die intensiteit daarvan kan beleef, elke druppel se val kan hoor en sien. En net daar kan sit, as ’n dankbare Karoomens.

En toe dit verby is, het ek die bakke reënwater wat ek uitgesit het ingedra, en elke potplant ’n blikbeker reënwater gegee, vir hulle onthou.

Ek het my diere reënwater gegee. Dat hulle weer kan voel hoe ‘n dors regtig geles kan word.
En ek het die dankbaarheid in my lyf gevoel, en daarmee saam die mens se absolute hunkering na reën besef. Na daai uitspattige bless van die aarde en sy skapelinge. Nie net vir die aarde nie, maar vir my siel.

My vel wil dit voel, my ore smag na die hoor daarvan, die ruik daarvan. My voete in die loop daarvan. My vel na die taai daarvan.

Want reën in die Karoo is soos salf vir elke mens wat kies om in hierdie hitte te kom wortels grawe. Dis balsem. En asem. En uithou. Dis genade, en belofte, en hoop. En nodig. En dankbaar.