Die waarheid het nie katnaels nie

Deur Poem Mooney

Ek het vanmôre vroeg met Ousie Roeslyn gepraat. Ek het vir haar gesê dit is ’n moeilike bul wat ek vanmôre aan die horings wil gryp.

“Hier, Ousie,” het ek gesê het ons te doen met iets moeilik waaroor ons moet praat, sonder vrees vir teenspraak. Regte, egte nawelstring geskiedenis.

Ek het so ’n paar weke gelede geskryf oor die ongemak waarin Eskom ons gedompel het met die beurtkrag wat ons op die mees ongeleë tye in die steek gelaat het. Dit was toe dat ek op ’n Facebook-inskrywing lees van die oorstroming op Laingsburg en die kennisgewing dat Laingsburg onder water is.

En net hier het die vrees by my ontstaan toe ek sien hoe die donderwolke by ons opsteek. Sê nou dit gebeur by ons, het ek met ’n sienende onrus in my binneste gedink. Het ons owerhede ’n plan as so ’n ramp ons moet tref? Sê nou ons dorp is onder water soos Laingsburg of steier lank sonder drinkwater, soos ons nou met beurtkrag sukkel.

“Het ons owerhede ’n plan B, Ousie?” het ek gevra.

“Ja, Gert,” het Ousie probeer om die spoke wat ek opgeroep het, te besweer. Beurtkrag is die een euwel, maar ’n ramp soos waternood is iets wat ’n mens nie uit die oog uit moét verloor nie. ’n Skielike droogte ook nie. Jy het al gehoor hoe praat die dorpsbestuur oor hoe spaarsaam ons mense moet werk met water. Wat weet hulle, wat ek en jy nie weet nie?”

Ek het onwillekeurig gedink aan die riviere rondom ons, die Kammanassie- en die Olifantsri-viere wat so droog en sonder water is, aan die Traka- en Toorwaterskloof se waters en die destydse oorstromings wat ons so op hol gehad het in dieselfde tydperk met die Laingsburgvloed. Dit het Calitzdorp Spa groot skade aangedoen.

“Ousie, het ek weer probeer, sê nou ’n waternood tref ons, soos Eskom se beurtkrag, sê nou…”
“Gert,” het Ousie Roeslyn my half ongeduldig in die rede geval. “Moenie wonder nie. Rampe gebeur en jou bekommernis oor ’n noodplan van die plaaslike owerheid is nie moeilikheid soek nie. Julle is te bang om te praat oor goed wat dié mense nie aan dink nie. Julle sien foute wat in die verlede gemaak is, maar julle konfronteer nie die mense wie julle moet beskerm nie.

Julle bly stil, maar agteraf is julle soos die bekkoerante wat sketse maak sonder byskrifte, en oor die foute van die verlede swyg julle. Nie een van julle het al opgestaan om te praat oor die riviere in die Suid-Kaap se baie waters wat opgedam is êrens, die fonteine wat toegesluk is omdat die meeste waterare raakgeboor is. Is dit so?”

“Was dit uit selfsug gedoen, Ousie?” het ek gewaag om haar in die rede te val.

“Natuurlik Gert,” het sy skerp teruggekap. “Natuurlik was dit gedoen tot voordeel van die ryk mense in ons omgewing, en die eie belang. Ek weet die waarheid maak seer,” het sy voortgestorm.

“Onthou net, die waarheid het nie katnaels nie. Dit is daar om te beskerm en te maan.”

Ek het geweet sy praat van vermaan, dit is waarom ek my kop instemmend geknik het.

“Weet jy hoeveel fonteine was op Dysselsdorp in die verre verlede, Gert. Dit was waters wat deur die eerste inheemse vir alle praktiese doeleindes gebruik was, niemand het dit gerespekteer nie.

Daar was allerhande planne in plek gestel en ek vra vir jou, Gert: was dit goeie planne? Het hulle die owerhede vooraf met hierdie naturaliste gekonsulteer?”

Ek het gemaak asof ek nie Ousie gehoor het nie, want ek het onder die gesprek half doelloos deur een van my digbundels geblaai. Ek het Psalm 137 vers 4 raakgelees – by die riviere in die Suid-Kaap.

“Het jy my gehoor, Gert!” het Ousie Roeslyn my uit my stille mymering geruk. “Julle moet wakker raak oor die onreg wat die Khoi-Khoi mense en die San aangedoen is. Hou op om so bedruk te wees. Staan op vir die regte van inheemse mense en hou op met die sitologestiese betoë.

Hierdie onderlinge bekgevegte met opportu-niste wie so in die hande van die owerhede speel, moet end kry. Los die verwaandheid en die egoïsme, praat oor volk en taal en ewewig. Praat oor julle kultuurbesit wat nie van ander bevolkingsgroepe oorgeneem is nie.”

“Sy het ’n verfrommelde bruinsuikerpakkie uit haar handsak gehaal.

“Lees hier,” het sy gebiedend gesê. Ek het gelees en swaar gesluk aan die knop in my keel, toe ek die Engelse spreuk hardop aan Auntie Roeslyn voorlees.

“One cannot be prepared for something while secretly believing it will not happen” – Nelson Mandela 1918-2013. Deur die traannewels het die woorde voor my oë geswem. Dankie, Ousie, het ek saggies geprewel. Dankie vir die volgehoue ondersteuning vir hierdie eerbare volksaak.