
EK was verheug toe ek vanmôre Ousie Roeslyn se vrolike gelag hoor. Net daarna het ek gehoor hoe die tuinhekkie toeklap.
Ek was bly om haar te sien, want ek het verlede week vergeet om haar uit te vra oor haar kuier op De Doorns.
“Môre, Gert,” het sy joviaal gegroet. Die koffie ruik te heerlik. “En wannneer het jy hierdie lekker, vars soetsuurdeeg brood gebak?” het sy haar begroeting afgesluit.
“Nee, ousie,”het ek geantwoord. “Ek het dit vanmôre vroeg voorberei.” Ek het die skinkbord voor haar neergesit en vir haar ’n groot beker koffie ingeskink en dit met die soetsuurdeeg brood met botter en marmelade konfyt bedien.
“Ousie,” het ek gevra, terwyl ek aan my koffie geteug het. “Hoe was die kuier op De Doorns?”
Ousie Roeslyn het haar leë koffiekoppie teruggestoot en met ’n veraf blik in haar oë, het sy van haar ses maande lange se gekuier op De Doorns gepraat.
“Gert,” het sy begin. “Jy ken mos die vallei met sy uitgestrekte wingerde, en die plase met die pragtige, karaktervolle Franse name, en jy weet mos hoe die Seisoenwerkers aangery word om te help met die druiwe-oes. Die bedrywighede in die pakstore, asook hoe lekker ek gekuier het by die familie op Orchard en Sand Hills.”
“En is daar nog die gebruik van die dopstelstel op sommige van die plase, Ousie?” het ek haar in die rede geval.
“Ag nee, Gert!”het sy driftig opgemerk. “Kom ons los die dinge van die verlede en kom ons praat eerder van die euwels van vandag! Wat ek wel vir jou kan sê, De Doorns is nie meer dieselfde nie.
Die plek is byna soos ’n Sodom en Gomorra, en dit sê ek sonder benadeling van regte,” het sy met nadruk op die bogenoemde plekke gesê. “Die plek is vol vreemde mense, nee eintlik, vol plakkers wat van heinde en verre uit ander dele van ons land ingekarwei was. Hulle, hierdie vreemdelinge met vreemde voete en vreemde tale, het die dorp oorstroom!”
Ousie het vir ’n wyle stilgebly. En toe driftig voortgesels: “Hulle voorsate het glo voorheen hier gewerk as goedkoop arbeiders en so het hulle soos kokkerotte toegesak op hierdie dorp.” Daar was skielik stilte op die stoep.
“Ons het een môre gaan kyk waar jou oupa-hulle voorheen gewoon het. Die huis was platgeslaan. Die enigste teken was nog net die Peperboom en die ashoop wat ons kon uitken. Ons het darem nog hulle grafte besoek. Jou grootouers se grafte,” het Ousie snikkend vertel, en ewe skielik het sy opgekyk en lank deur die stoepvenster na die Swartberge gekyk en toe vra sy skielik half huiwerig: “Gert, glo jy in spoke, of in hekse, glo jy in toordokters of in towenaars?”
“Hoekom vra jy sulke moeilike vrae, Ousie? Ons het dan nou so lekker oor De Doorns gepraat,” het ek haar ontsteld in die rede geval.
“Gert!” het sy my tot orde geroep. “Jy het my uitgevra oor De Doorns. So, jy moet nie my in mond mors nie. Ek wil jou die storie vertel wat Willem Woekers my vertel het oor die storie van die Hexrivier. Hy het my vertel van ’n verliefde man wat na sy dood geval het, terwyl hy ’n skaars Disa vir sy meisie gepluk het.
Die meisie het glo na die gebeure van haar kop afgeraak en sy het soos ’n heks opgetree. Ek het daardie selfde nag my goed ingepak en huis toe gekom, want na die storie het ek saans nie ’n oog toegemaak nie.”
“Het Ousie vir Willem geglo?”
“Ja, Gert,” het sy gesê. “Hy het dan nog die gedig gelees van ’n man, Mnr Philip Nel. So mooi, Gert, so mooi!” Sy het die briefie uitgehaal en die gedig gelees.
“As newels in die maanlig om rotswande vou,
staan daar bo die afgrond ’n eensame vrou,
en saam met die winde wat huil deur die klowe
roep sy na hom, want haar hart was belowe.”
“Elize, o Elize met die lieflike oë, jou hart wou jy gee
vir die rooi orgideë.”