Deur Liesel le Roux
Op ’n dag het die doodgewone vrou wat op ’n dorp tussen die berge woon, die besige man in sy winkel raakgeloop.
“Het jy gesien hoe mooi is die wolke op die berge?” het die doodgewone vrou vir die besige man gevra.
Die besige man se oë het net ’n oomblik lank treurig geword, maar sy woorde daarna was baie haastig: “Nee. Ek het nie tyd om na die berge te kyk nie.”
Die doodgewone vrou het weer probeer, want sy het onthou dat die besige man toe hulle skoolmaats was, graag na bome en water en wolke gekyk het.
“Jy moet kyk,” het sy gesê. “Dit lyk partykeer net soos ’n waterval.”
“Ek gaan eers donker huis toe,” het hy gesê. “Ek ry al donker soggens werk toe. Ek kan nie na wolke kyk nie.”
Die doodgewone vrou het daarna lank treurig gevoel omdat die besige man nie meer na bome en water en wolke kan kyk nie.
Op ’n dag ’n hele paar jaar later het die doodgewone vrou ’n wyse vrou met ’n verfkwas in haar hand raakgeloop. By die wyse vrou was twee vriendelike vroue.
“Ons leer om te kyk,” het die eerste vriendelike vrou vir die doodgewone vrou gesê.
“Die wyse vrou kan ons nie leer verf voordat ons kan kyk nie,” het die tweede vriendelike vrou vir die doodgewone vrou gesê.
Die tweede vriendelike vrou se oë het ’n oomblik treurig geword, maar toe sy weer praat, het dit begin blink.
“Ek sien deesdae altyd die wolke. En water, en bome. Ek kan nie glo ek het dit nooit raakgesien nie. Ek kan dit nie meer miskyk nie,” het sy gesê.
Die doodgewone vrou se hart het bly geword. Sy het haar kop gedraai en na die berge gekyk.
Daar was die dag nie ’n waterval nie, maar ’n paar baldadige kwasstrepe bo die rug van die berg.