Die nalatenskap van Oudtshoorn se onbesonge bruin vakmanne

Ek wil baie graag ’n sappige stukkie geskiedenis met u deel uit die jare voor die gedwonge verskuiwings uit Noord-einde, die middedorp (vandag sentraal genoem), Vaaldraai, Wesbank, Suikerbult en Bongolethu (voorheen Klippies­-eiland).

Ek wil ook praat van die “nalatenskap” van die bruin vakmanne en die handlangers se handewerk; nie net met die opbou van plase en kleinhoewes nie, maar ook die dorp.

Ek wil ook die stoute skoene aantrek om die term handlanger te verduidelik.

As ’n handlanger saam met ’n messelaar of ’n skrynwerker gewerk het, kon hy net die gereedskap aangee, of die leer vashou, dagha meng of kruiwa stoot. Handlangers moes ook die stene aanry of oordra aan die messelaar.

Hier praat ons hoofsaaklik van die boubedryf. Let wel: die stelsel (die apartheidstelsel) wou dit so hê .

Ons is wel uit die dorp verskuif, maar die monumente van huise, hotelle, hospitale, inrigtings en besigheidsplekke wat gebou is – die werke van ons mense se hande – pryk nog in Oudtshoorn.
Dit het my laat dink aan die vrae in die gedig van Bertolt Brecht, Questions of a worker reading history:
Who built the seven gates of Thebes?
The books are filled with names of kings.
Was it the kings who hauled the craggy blocks of stone?
And Babylon, so many times destroyed.
Who built the city up each time? In which of Lima’s houses,
That city glittering with gold, lived those who built it?
In the evening when the Chinese wall was finished
Where did the masons go?

Het hulle nooit bygedra tot die finansiële voorspoed van ons dorp nie?

Ek het belowe om oor die bruin sakemanne en -vroue te skryf. Hulle wat ten spyte van Oudtshoorn se veelbewoë geskiedenis, ’n bestaan kon maak.

Bo in Hoogstraat, regoor “Levintjie” se winkel op die hoek van Hoog- en Scheeperstraat, was wyle oom Jack Ri­chards se winkel. Die winkel is vandag nog daar in dieselfde gebou, met nuwe eienaars.
Onder in Hoogstraat waar mnr Ned Skelley se winkel – die Suikerbossie Ka­fee – was, het mister Kafoor en sy seuns die winkel gehad. Hulle het in Oxfordstraat op die ou “tennis court” in ’n staandakhuis gewoon.

Oom Isaac Booysen het die winkel op die hoek van St John- en Oxfordstraat bedryf. Hy was ’n belangrike man in die huurmotorbedryf. ’n Goeie sakeman en ’n legende in Oudtshoorn. Sy seun Robert Booysen het dié na­la­tenskap in die vervoerbedryf voortgesit.

Na oom Isaac Booysen het Steinie Arendse die winkel oorgeneem. Sy het die besigheid bedryf totdat sy verskuif het na die gebou op die hoek van St John- en St Georgestraat waar sy ’n restaurant geopen het (waar die gras­-sny­ersplek vandag is).

Daarna het oom Dan Jacobs sy kleremakerswinkel in dieselfde kafee in Oxfordstraat bedryf. Dit was in ’n tyd toe ons almal snyersklere gedra het.

Oom Phillip Malgas was die welbe­-kende elektrisiën. Die Malgasse het ook in Oxfordstraat gewoon. Sy nalatenskap word deur Godfrey Malgas en sy seun Phillip voorgesit. Die een Malgas-broer, wyle Des­mond Malgas, en sy kleinseun was en is al­mal vaardige elektrisiëns.

’n Ander elektrisiën op die dorp was Virgil Wil­liams. Hierdie vakmanskap loop deur die bloedlyn van die Williams-familie. William (Willy soos hy bekend was), dra hierdie handelsaak suksesvol voort.

Die Wolmaranse het ook in Oxfordstraat gewoon. Oom Henry was die patriarg. Hulle het ’n suksesvolle vervoer- besigheid bedryf. Hy en sy seun Aubrey asook hulle oom, Dennis McDillon, was deel van die bedryf. Vandag nog is sy seun Geoffrey Senior en Geoffrey Junior die pa en seun wat die familiebesigheid met groot trots voortsit.

Oom Hendrik Schoeman, nog ’n Oxfordstrater, het die Blue Star Kafee tot en met sy dood besdryf.
Behalwe die sakemense waarna ek in my vorige rubriek verwys het, was hier talle vakmanne in Oudtshoorn – skrynwerkers, loodgieters, messelaars. As ek moet name noem, sal hierdie rubriek te lank raak. Hierdie onbesonge vakman­ne se handewerk pryk nog vandag soos monumente, waardevolle oorblyfsels en die kuns en wetenskap, van inheemse, onbesonge vakmanne in die vestiging van ons geliefde Oudtshoorn.

Wyle Clive Muller, ’n oud-Oxfordstrater, sy broer, Phillip Muller (alom bekend as Philley), Frank Wesso, Thys Bezuidenhoudt en pastoor Winny Ellman het uitgestaan onder die vakmanne van destyds. Clive was ’n “fitter-en-turner”; Frank Wesso ’n voor­treflike kabinetmaker; Philley Mul­ler en wyle Thys Bezuidenhoudt meesterlike ambagsmanne; en pastoor Winnie Elmar ’n gekwalifiseerde motorwerktuig­kun­dige.

Bo in Noordeinde was Mister Parry, oom Lewies Stuurman en oom Cornelius Stuurman (oom Paai), goeie sakemanne.

Na die gedwonge verskuiwings is al hierdie mense in Bridgton se sentrale sakekern ontplooi. Oom Jan McKenna se slaghuis op die hoek van Aalwyn- en Olifantweg. Oom Piet Adams se hoekwinkel op Springbokweg en Aalwynweg – al die winkels was in ’n ry gebou in Aalwynweg. Mister Schilders se vis- en-chipswinkel. Mrs Lanes en Mrs Khatib se algemene handelaars. Sam Schoeman se barbierwinkel. Almal bekende bakens.

Aan die oorkant van Aalwynhof was Ons Winkel wat deur verskillende ge­meenskapsleiers op die been gebring is. Meester Willie Williams se bioskoop asook die Bliksaal, ’n gemeenskaplike ontspanningsaal waar danse gehou is.

Meeste van hierdie besigheidsplekke moes later die knie buig voor groot besighede en die Alpha Teater. So ook is die Groentemark in Sunrise Avenue ingeneem deur vreemdelinge in ons woonbuurt.

Die nuwe mall wat nou in Springbokweg verrys, staan naby die plek waar die bevrydingstryd deur entoe-siastiese comrades aange­vuur is waar ons jare gelede ’n “Wall of Rememberance” wou aanbring om Oudtshoorn se veelbewoë bruin deelname in die be­vrydigingstryd te gedenk. Hierdie ideaal sal weer eens in ons dorp se geskiedenis versand.