Die naelstring is afgesny

Deur Poem Mooney

Ons moet, so glo ek, oor ons eie waar­devolle erflatings (dit wat reeds platgeslaan is en dit wat nog staan), skryf. Ek praat nou van geboue soos Coronation Memorial, wat afgebreek is tot op die grond. Die marmersteen met die inskripsie To the people of Oudtshoorn, from the people of London, is nou nog soek. Die afbreek was gemagtig deur ’n “voorsteller en sekondant”, wie se name ek om etiese redes nie sal noem nie. Maar dis ’n storie vir ’n ander dag.

Die Gebou van die OKSK (Oplei­­-dings­kollege Suid-Kaapland), veral die hostel – ’n erflike baken, word tans stuk-stuk weggedra en grootskaals ge­plunder. Wat gaan ons gemeenskap doen om die gebou tot sy vroeëre glorie te herstel?

Hier is wel ’n stuk sentiment onderliggend, maar almal weet dat die onderwyskollege onmisbare, waardevolle boustene gebak het in mense se lewens wat hoë hoogtes bereik het. Nie net hier nie, maar landwyd.

Onderwysers wat hier afstudeer het, het vele dokters, regs­lui, opvoeders, tandartse, burgemees­ters en predikante opgelei en gebou aan hoëprofiel-mense se lewens. Ons moet dus praat oor die geskiedenis en die herstel van dié vervalle gebou.

Wanneer ’n volk sy erfenis minag, word die gemeenskap geminag en hy skeur willens en wetens die naelstring van ons komvandaan. ’n Universiteit of kollege of skool wat deur die mense gebou is, moet geëer word. Ons mag die bydraes van die bouers en vakmanne van Oudtshoorn nie minag nie. Die herstel van OKSK kan die begin wees van die bewaring van die “People’s History”.

My vriend, ds Andre Boezak, stel dit duidelik en mooi oor rotskuns – ’n erf­like nalatenskap, ons kultuurgeskiedenis met die enkeles wat opgeteken is, wat gedoen is deur navorsers met ’n akademiese bril. Of dit word weer “gekoloniseer” deur “kultuurimperia­liste” wat sonder emosie, sonder ’n historiese band met ons erfenis smous. Met ’n “toerisme-sous”.

Tans breek mense in die wêreld standbeelde van “koloniste met ’n rasse- en verdrukkende verbintenis” af.

Ons nalatenskap is al deur mense met skewe agendas platgeslaan.

Waar is die kleurryke sandsteen­kerke van Oudtshoorn vandag? Platgeslaan.

Nou wil ons weer, op eie houtjie, die laaste oorblyfsels van ons gemeenskap se trots, steen vir steen wegdra.

OKSK was nie ’n imperialis of kolonis nie. OKSK het ons nie ons mens­heid ontneem nie, maar midde die seer van apartheid, ons in onsself laat glo.
Kom ek gaan Bybel toe. Die profeet Nehemia sê mos. “Julle het geen histo­riese band met die stad nie, ons Sy dienaars gaan bou.” Kom ons bou dan en herstel wat ons s’n is.