Die kunsmatigheid van die lewe

Ek het hier op die vooraand van die Nuwejaar met Ousie Roeslyn op ons voorstoep gesit en praat oor ons mense en die toekoms. Ons het gepraat oor hoe kunsmatig ons geword het.

“Ousie”, het ek gevra. “Hoe het ons mense so geraak? Ons is soos ’n klomp wegholstrome.”

“Wat bedoel jy, Gert?” het sy skerp gevra. “Waarheen dwing jy my vanmôre, om wat te sê? Jy moet reguit wees as jy wil hê ek moet jou ’n reg-uit antwoord gee. Moenie al in die rondte loop net soos ’n skaap wat maal nie.”

“Nee, Ousie, ek wonder maar net vanmôre oor hoe kunsmatigheid ons dwing om te wees, nie hoe ons regtig is nie. Kyk hoe dwaal ons deesdae net soos robotte.”

“Gert”, het sy skerp begin. Sy het ver voor haar uitgetuur voordat sy versigtig beginne praat het.

“Hoe is jy dan so diep filosofies vanmôre? Jy praat oor kunsmatigheid en robotte en hoe ons deesdae lewe.

“Ek wil nie vanmôre die kind met die badwater by die deur uitsmyt nie, want ek gewaar hier sit jy met ’n worsteling en dit gaan my niks baat as ek met jou ompaaie loop nie, ek sal jou moet terugvat, op ’n pad waarlangs ons nie altyd langs wil terugloop nie. Ons mense is mos te bang om oor die seermaak van die verlede te praat.

Help my net ’n bietjie meer oor die ding wat jou pla, want ek vang jou tong se skraapsels as jy sê, hoe het ons mense so geraak? Laat ek vanmôre reguit vir jou sê. Hoe, en hoekom het nie ’n kom nie. Wat hinder jou?

Toe, praat, man! Is dit die Feesgety, die kooplustigheid van die mensdom, die kompetisie-gees en die spandabelheid waarmee hulle hulleself uit hulle ellende uit wil koop? Of die ek-wil-graag-leef-soos Miesies Jones-hulle? Wees eerlik met my en spoeg uit die slym waaraan jy wurg?”

“Jy sien, Gert”, het sy voorge-storm, “kunsmatigheid is iets wat nagemaak is, dit is nie soos hoe ons werklik geskape is nie. Dit spruit uit ’n diep ingewortelde gevoel van minderwaardigheid, en nou wil mense hulleself ten alle koste bewys. Jy is beter as die res.

Oorlede Oompie Gawie sou nou vir jou gesê het: “Mannetjie, f..k die res en probeer jou bes om jouself te wees. Dis ook die enigste Engelse vloekwoord wat die ouman sou gesê het. Hy was mos ’n koster in ons kerk.

“Sien, Ousie, wat ek bedoel het, is…”

“Gert,” het sy my waarkuwend in die rede geval. “Mors liewer in my sop. Net nie in my mond nie.”

“Ek het jou klaar gelees nog voor jy, sien, Ousie, wou sê.”

“Kom ek sê vir jou hoe het ons mense so geraak. Hulle het nie so geraak nie, hulle is so gemaak.

Die samelewing het ons gedwing om so te wees. dis hoekom jy ’n gevaarlike stelling gebruik as jy sê, kyk hoe dwaal ons deesdae nes robotte.”

Hierdie siekte waaraan ons mense ly, is post colonial generational trauma. Nee, moenie skrik nie, Gert, ek is nie ’n dokter nie, nee ek is net ’n realistiese mens. Hierdie ‘siekte’ het van ons mense masjienmense gemaak.

“Ons is so gemaak”, het sy voortgetier, jy is reg as jy sê ons is byna soos robotte, soos toestelle wat gemanipuleer word deur ’n gesiglose vyand.”

“Ons is so gemaak deur ’n bose bestel, wat deur wetgewing aangevuur is, en weet jy ek wil jou slaan met jou eie woorde – dit sê ek sonder benadeling van regte…”

“Ousie”, het ek haar vir ’n tweede keer in die rede geval, “is dit hoekom ons mense so deurmekaar is? Is dit hoekom hulle vandag is wat hulle nie regtig wil wees nie?”

“Jy ken mos die antwoord op jou eie vraag, Gert. Jy kan mos sien wat hulle alles doen, reg of verkeerd, hulle wil hulleself ten alle koste bewys. Baie keer tot nadeel van hulleself. Hulle koop allerhande goed vir pryse wat kunsmatig opgejaag word deur gewetenlose magnate. ‘Tycoons’ noem ons hulle sonder om name en vanne te noem.”

“Ousie,” het ek weer probeer om ’n bydrae te maak, “sal ons ooit regkom?”

“Gert,” het sy afgemete gesê. “Moenie dink ek oordeel of veroor-deel mense. My niggie, Sally Morris het altyd gesê: ‘Ons moenie mense judge nie. Onthou die samelewing het ons reeds gepaint soos hulle wou hê ons moes lyk. Allerhande lelike kleure, en weet jy wat, Roeslyn,’ het sy bygevoeg, ‘en ons het nog nooit na ons eie beeld in die spieël van die lewe gekyk nie.’ En weet jy wat sê die woord, Gert? Hy het ons ’n mening minder gemaak as ’n Goddelike wese, en ons met EER EN HEERLIKHEID GEKROON.”

“Het jy gehoor, Gert, wat ek sê: Die Here het ons gemaak. Nie die samelewing nie. Nog minder ’n wrede bestel of die owerhede van hierdie wêreld nie.”

“Julle, Gert, julle jongmense van vandag moet die vloek van die kunsmatigheid afskud. Hy het ons gemaak.”