’n Gesprek sonder benadeling van regte
Ek het die stoeplig aangeskakel toe ek die tuinhek hoor toeklap. Die gesing van die koffieketel, saam met die klank van die deurklok en die vrolike stem van Ousie Roeslyn, was soos musiek in my ore.
“Môre, Gert,” het sy gegroet. “Ek het amper gedink jy het ons koffie-afspraak vergeet?” Sy het die koffiebekers, die melk en die suiker op die skinkbord uitgepak en vir ons elkeen ’n stomende beker koffie aangebied. Ek het gesien hoe flink sy die ritueel afgehandel het en my beker koffie met hare geklink. “Môre, Ousie,” het ek haar met ’n breë glimlag gegroet.
Ons het ons koffie in stilte gedrink, terwyl ek na Ousie gekyk het, ek het die veraf blik in haar oë gesien, gewonder wat in haar gedagte omgegaan het en toe praat sy skielik. “Gert, die rede hoekom ek jou gisteraand gebel het, het my die hele nag wakker gehou. Ek kon nie slaap nie, want die onversetlikheid van die mensdom het my die hele nag gepla. Om te dink ons het so hard gebid.”
Ek het diep geteug aan my koffie en Ousie se woordevloed gestuit: “wat is dit wat jou so gepla het, Ousie? Praat met my, miskien is dit iets waarmee ek jou kan help.”
“Nee, Gert,” het Ousie ferm gesê. “Nie jy of ek kan enigiets aan die verslegtende situasie en die agteruitgang in ons dorp doen nie. Ek het jou dan gisteraand vertel van Lena Pretorius wat haar heup gebreek het toe sy geval het in een van ons dorp se strate, en dit nogal nie ver van ons dorp se hoofstraat nie en net daarna het Arrie Tieties se bakkie se as gebreek, by een van die slegte spoedhobbels in ons woonbuurte. Dit het my geweldig ontstel, want ons het so kliphard gebid vir die verbetering na die afgelope verkiesing. In plaas van verbeterde dienslewering, moet jy sien hoe vol gate is ons strate! En praat jy daaroor, is jy die vark in die verhaal.”
Ousie het vir haar ’n tweede koppie koffie geskink en die koffieketel driftig na my kant toe gestoot.
“En hoe gaan dit met Lena, Ousie?” het ek probeer om die gesprek in ’n ander rigting te stuur. “Jy moenie my bloed laat kook nie, Gert!” het sy my kru in die rede geval. “Sy het nie net haar heup gebreek nie, sy het haar gesig stukkend geval. Dit is hoekom ek vanmôre so vroeg hier by jou is, want ek wil jou gaan wys hoe lyk die strate in ons dorp, vol gate en die sypaadjies…! Dis ’n skande voor die Here…”
“Maar ousie, ek sien dan hoe hard werk die mense om die gate toe te maak.”
“Stop net daar, Gert! Toemaak is nie toestop nie.”
Ek het opgestaan en buite toe gestap, ek wou nie hê Ousie moes sien hoe ek lag nie, want ek self het die vorige dag gevoel ek ry soos ’n dronk man om die slaggate in die strate te vermy. Ek het gedink aan Arrie Tieties se bakkie met die gebreekte as, gewonder of hy ’n eis kan instel teen die munisipaliteit en Lena Pretorius, ek het gewonder hoe sy haar situasie gaan hanteer.
Ek het weer binne toe gestap, my motor se sleutels van die sleutelrak afgehaal en gesien hoe Ousie
vir haar ’n derde koppie koffie skink.
“Kom Ousie,” het ek gesê, “kom wys vir my die gate in die strate en die stukkende sypaadjie waar Lena geval het.”
Ek het die motor in trurat gesit en straat-af gery. Ek het na Ousie se ontstelde gesig gekyk toe ons
oor die ongemerkte spoedhobbels gery het en die gate in die meeste strate vermy het. Sy het my ook die erge stukkende sypaadjie in die dorp gewys.
“Sodra ons al die strate gelys het en die gate aangemeld het, Gert, moet jy my na die munisipaliteit
toe vat, ek soek ’n dringende gesprek, en ek wil hê jy moet saamgaan. As ek en jy nie gaan praat
nie, wie anders sal?”
“Gert!” roep sy skielik. “Kyk hoe swenk, swenk ry daai munisipale bakkie om die gate te vermy. Soete bloed! Praat hulle nooit met die owerhede nie?!”
Die gate in ons strate
Deur Poem Mooney