Deur ’n skoon bril

EK weet nie van julle nie, maar vir my is dit die afgelope twee weke heerlik om deur die dorp te ry en die gewerskaf en voorbereiding vir die KKNK te sien. Sedert 1995 is dit al so. Alles word mooi-gemaak en so moet dit ook wees.

Ek lees op Oudtshoorn se aanlyn-universiteit, Facebook, daar is mense wat mor en sê “maar dit moet elke dag so wees”. Hulle het seker ’n punt beet. Alles behoort altyd mooi en reg te wees – in ’n perfekte wêreld.

Ongelukkig leef ons nie in ’n perfekte wêreld nie. Inteendeel, ons sit in ’n land wat besig is om in sy tjops in te gaan as die landsburgers nie self begin ingryp en goed begin regmaak nie.

Om voor te berei vir besoekers is nie ’n nuwe ding nie, inteendeel dit is ’n basiese menslike reaksie.

Toe ek in die weermag was, was weeklikse inspeksies ’n pyn op ’n plek waaroor mens nie voor kinders praat nie, maar elke week was alles perfek – of so het ons gedink.

Totdat die basis besoekers kry. Daardie jare was dit nie vreemd vir die hoof van die leër of selfs die minister van verdediging of die eerste minister om basisse te besoek nie. Met hulle op pad het alles gestop, alles behalwe poets en spoeg en optel en knip en snoei en vee. Dit was waansinnig.

Selfs die rakke en kaste in die bevelvoerder se kantoor is met Mr Min bygekom en in elke toilet in die basis was ’n splinternuwe rol toiletpapier en elke toiletbak, wasbak en kraan het geskitter. Selfs die kompaniebevelvoerders, peletonbevelvoerders en ander offisiere het meer geblink en was gladder geskeer en gestryk as gewoonlik.

Dis hoe dit moes wees, want daar kom besoekers.

Hierdie week begin die KKNK. Dit sal nooit weer die KKNK van 20 jaar gelede wees toe elke sportgrond ’n volgepakte kampeerterrein was en mens nie eens doer in Adderleystraat parkeerplek kon kry nie. Dit was toe en nou is nou. Tye het ver-ander. Mense het verander. Regerings het verander. Die ekonomie het verander.

Die KKNK is lankal ook nie meer die enigste Afrikaanse fees nie – omtrent elke vyfde dorp het nou een en daar is selfs ’n fees op ’n boot, maar elke jaar kom duisende mense steeds Oudtshoorn toe om te kom feesvier. Die manier van feesvier het verander, maar die tradisie van mooimaak en regmaak is steeds hier.

Die twee jaar van Covid-19 was aaklig en ek onthou die geweldige teleurstelling en moerigheid van mense toe die KKNK op die nippertjie in 2020 gekanselleer moes word.

Nou is die fees vir die derde jaar na Covid-19 terug en ons moet afstof, omspit, verf, snoei, voorraad aankoop, ons arms wyd oop gooi en ons besoekers verwelkom. Dis wat ons doen, dis wat ons dorp se leiers moet doen. Vir my is daar net twee opsies in hierdie land en in my dorp waar ek gewortel is en gaan bly:

Ek kan elke oggend opstaan, kyk wat is verkeerd en daaroor baklei of ek kan elke dag opstaan, sien wat is verkeerd en kyk wat ek kan doen om iets beter te maak – al is dit hoe klein.
(Die volgende week gaan ek niks beter maak nie, ek gaan net feesvier en ek hoop die hele dorp doen dit ook.) (Deur Gielie Goedvoel)