Boekrakke sê baie

Deur Johan Strasheim

Ek sit vanmiddag en kyk na my boek­rak in my studeerkamer. My oë gly heen en weer oor die boeke wat ek so goed ken. Dit laat my dadelik terugdink aan my oupa se baie boeke. Ek onthou dit goed … my oupa Johnnie se rye en rye boekrakke.

My pa het net so baie gehad en my ma seker nog meer! Ek het grootgeword met boeke om my, sommer baie boeke. Elkeen se samestelling van titels en onderwerpe was soos ’n mens sal verwag dramaties uiteenlopend en interessant.

Ek dink ’n mens se boekrak sê iets van jou. Ek wens net ek het meer plek gehad, want ek sit met bokse en bokse vol boeke wat nog gestoor word omdat my huidige boekrak hopeloos te klein vir alles is. Omdat my studeerkamer ook my kantoor is, beperk die klomp lêers en ander irriterende papierwerk die waardevolle boekrakspasie nog meer!

Ek kyk die uitgesoekte spulletjie krities deur.

Daar is ’n klomp rugbyboeke, boeke oor tropiese visse, baie boeke oor na­-tuurbewaring, wilde diere en jagsafari’s, boeke oor besigheidsbestuur, boeke oor vlieg en vliegtuie, boeke oor voëls, grasse en bome.

Verhandelings en proefskrifte van vergete navorsings­projekte. Maar hulle sal bly, want dit was uitmergelende werk, al is dit nou heel uitgedien.

Daar is selfs hier en daar ’n storie­boek, maar hulle word eintlik op ’n ander plek gebêre.

Ek tel vinnig ses Bybels, almal op ’n manier erfstukke wat deur die jare aan ’n klomp familielede behoort het. My oupa se Griekse en Hebreeuse Bybels het iewers in die slag gebly. Dis so jammer. Ek kan nie Grieks lees nie, maar hy was bekend daarvoor dat hy met dié Bybels kerk toe is en gesit en volg het waar hy dink die vertalings goed was en waar stukkies anders vertaal kon gewees het soos die dominee dit voorlees. Verbeel jou!

Hier op my rak is selfs ’n kopié van die Qur’an – nogal in Afrikaans. Ek maak dit oop en sien dit was ’n geskenk van AS (Boetie) Dendar, ’n lid van die Indiërfamilie wat die algemene handelaar destyds op Amsterdam in die Oos-Transvaal bedryf het.

“With compliments” staan op die binneblad geskryf. Ek het ’n idee dit het aan my ma behoort.
Ons plaas was anderkant Amsterdam op die grens van Swaziland. Die MA Dendar & Sons, General Dealer was saam met die koöperasiewinkel, drank­winkel en oom Pasman Pienaar se slaghuis eintlik die somtotaal van jou potensiële koop-ervaring op die dorp. Vir ander en meer ernstige goed moes jy maar Ermelo toe.

Die winkel was die tipiese plattelandse algemene handelaar … propvol interessante goed en ’n klomp verskillende reuke – van lampolie en speserye tot die unieke rubberreuk van nuwe fiets­binnebande.

Jy wil half struikel oor die groot driepootpotfamilie langs die nou paadjie en as jy regop kom, stamp jy amper jou kop teen een van die fietse wat van die dak af hang.

Daar was altyd iemand met ’n groot glimlag en ’n welige baard agter die toonbank en op die rak agter hulle sulke groot glasbottels vol gekleurde lekkergoed. Suiglekkers, stringe drop en toffies, alle kleure van die reënboog. En natuurlik kougom – chappies en wicks – beide met allerlei “Did you know”-wyshede binne-in die papier­omhulsels. Die lekkergoedrak was natuurlik ’n klein outjie se fokuspunt.

Daar was ook “creamy toffee” – sulke plat stawe met die lekkerste harde, taai toffie. Die grootmense het dit gehaat, want dit trek die kinders se tandestopsels uit, en dan is dit natuurlik Ermelo toe, tandarts toe en baie uitgawes en tyd wat gemors word.

Terug by my boekrak.

Die geskiedenis, ervaring en sentiment hang swaar daarin – baie erva­-rings en die gesigte van ouers en groot­ouers wat al vooruitgegaan het, is in die boeke vasgelê. Jy lees die boeke nie elke dag nie, inteendeel, jy haal die boeke nie eens elke jaar uit die rak nie. Maar jy weet hulle is daar in ’n kosbare soort stille vennootskap wat oor die jare gesmee is.

Ek leen van die woorde van Regina Spektor (Russies-Amerikaanse liedjieskrywer) wat dieselfde onderwerp aangespreek het.

Sy sê wanneer jy naby boeke is, gebeur wonderlike goed. Hulle kan met jou praat deur sommer net in dieselfde kamer as jy te wees.

Dit kan ’n gevoel wees, die kleur of tekstuur van ’n omslag, of die manier waarop dit ditself onderskei van al die “bure” op die rak en vra dat jy dit oopmaak.

Dan kom die toevallige, of nie-so-toe­vallige bladsy waarop jy dit oopmaak en uiteindelik die verrassende en onverwagte woorde wat jy daarin lees.

Op daardie oomblik is jy die enigste persoon in die hele wêreld wat daardie boek vashou en daardie woorde lees en aan die bladsye vat.

Jy kan vir ’n uur daar staan en lees of dit terugsit en oor begin. Dit kan nie op ’n skerm gebeur nie. Ander wonderlike goed kan, maar nie dit nie.

Sulke oomblikke waar tyd stil staan, is waardevol en skaars in ons hedendaagse gejaag-na-wind-lewens.

Ons moet dit koester en ons boeke oppas. Boeke is die siel van ’n huis.