Bedryfsingenieurswese

Deur Johan Strasheim

Oor die jare was ek bevoorreg genoeg om ’n baie uiteenlopende verskeidenheid opleiding te ondergaan.

Die heel eerste hoofstuk na skool was natuurlik my voorgraadse studies om Bedryfsingenieur te word.

Ek word elke jaar deur voornemende studente en ouers wat belangstel uitgevra oor ’n potensiële loopbaan as Bedryfsingenieur. Ek vertrou hierdie inligting sal vir hulle van waarde wees.

Tydens my eerste vier jaar op Tukkies het ons as jongmense nie net ’n groot hoeveelheid basiese wetenskapsbeginsels uit die fisika en wiskunde geleer nie, maar in die senior studentejare ’n hele aantal tegnieke, benaderings en metodes wat staatmaak op beginsels uit veral numeriese metodes, redelik komplekse wiskunde en statistiek in al sy veelvuldige dimensies.

Maar, belangrikste van alles het die professore en dosente via ’n ongedokumenteerde aanbod van beginsels en ’n stelselbenadering ons geleer om analities te dink en te vorm as natuurlike probleemoplossers.

Hierdie onderliggende lewensfilosofie posisioneer natuurlik die Bedryfsingenieur baie goed vir ’n oneindige spektrum van loopbane in alle (ja, alle) industrieë – ondersteunend tot al die funksies van besigheidsbestuur, veral die funksies van ’n meer kwantitatiewe aard. Dit is waarom Bedryfsingenieurs tipies redelik vinnig na bestuursposisies in ondernemings vorder – of as entrepreneurs hulle eie ding doen.

Die graad in Bedryfsingenieurswese is vir alle praktiese doeleindes ’n graad in besigheidsingenieurswese. Ingenieurs is tipies mense wat somme maak – en daar word soms grappenderwys gesê dat Bedryfsingenieurs se somme meestal eindig in Rand en Sent! “So wat doen ’n Bedryfsingenieur nou eintlik?”, wil mense altyd weet.

Dit is nie ’n kort, eenvoudige antwoord nie, want hulle doen baie dinge, soms baie uiteenlopende dinge. Uiteindelik kom dit maar telkens neer op die optimisering van hulpbronne, hoofsaaklik kennis, geld en tyd.

Om dit te vermag steun die Bedryfsingenieur op ’n magdom tegnieke en beginsels uit die Ergonomika, Inligtingstelsels, Projekbestuur, Vervaardigingstelsels, Logistiek, Operasionele Navorsing, Voorraadbestuur, Kwaliteitsbestuur, Simulasie en ander meer generiese- maar belangrike vakgebiede soos Ondernemingsbeleid, Arbeidsreg en Finansiële Bestuur.

Met ander woorde…die Bedryfsingenieur is opgelei om komplekse, geïntegreerde stelsels van mense, materiaal, masjinerie en energie te ontwerp, verbeter en implementeer.

Die beroep bied ’n aantal kwaliteite aan ’n onderneming:

  • Fokus op produktiwiteit en doeltreffendheid – om dinge te verbeter. Dit is ’n inherente sienswyse en filosofie.
  • Analitiese denke – die vaardigheid om te analiseer en wetenskaplike ingenieursbeginsels toe te pas vir probleemoplossing.
  • ’n Stelselbenadering – as deel van probleem-oplossing word sulke “probleme” as deel van ’n groter sisteem in konteks geplaas. Dit vereis na-tuurlik dat sulke komplekse sisteme verstaan moet word en die onderlinge interaksies en invloede van substelsels begryp moet word.
  • Integrasie van die fisiese en sosiale wetenskappe – die mens met al sy kompleksiteite is altyd deel van enige stelsel en moet as sodanig geïntegreer word.
  • Onderliggende finansiële beginsels – kostes, winsgewendheid en finansiële sensitiwiteit bepaal bestuursbesluite en die impak op ondernemings se ekonomiese welstand.
  • Bestuursfokus – die vaardigheid om hulpbronne en projekte doeltreffend te organiseer en om bestuur te adviseer oor die besigheidsprosesse van die onderneming.
  • Projekbestuur – die Bedryfsingenieur met sy wye tegniese- en bestuursagtergrond is die ideale speler in ’n multidisiplinêre professionele span.

Baie studente sit hulle studies nagraads voort en behaal ’n magistergraad in een van hoofsaaklik drie studierigtings; suiwer Bedryfsingenieurswese, Ingenieursbestuur of ’n MBA – en enkeles gaan daarna verder aan om ’n PhD te verwerf.

Waar het die beroep begin? Een van die mense wat as van die vaders van die beroep beskou word, is Henry Ford (1863-1947), die stigter van die Ford Motor Company in die VSA. Hy was bekend vir sy intense strewe na laer kostes en dit het tot allerlei tegniese- en besigheidsinnovasies gelei. Hy was die pionier van massavervaardiging en die monteerlyne so eie aan alle huidige voertuigvervaardigingsaanlegte. In 1911 implementeer hy die eerste monteerlyn en verminder sodoende die vervaardigingstyd van die model T Ford van 12 ure na net 90 minute. Sy model T Ford het die voer-tuigvervaardigingsindustrie en motorvervoer vir altyd verander.

Nader aan die huidige tyd, is daar Tim Allen (1960-), die HUB van Apple. Hy het as Bedryfsingenieur gekwalifiseer by die Auburn Universiteit in 1982. Hy is in 1998 deur Steve Jobs self aangestel, met die aanvanklike opdrag om “om die deurmekaar toestand van Apple se vervaardigingsverspreidings- en verskaffingskanale op te ruim”.

Cook het Apple uit vervaardiging beweeg en fabrieke en pakhuise die wêreld oor gesluit. Dit het die maatskappy gehelp om hulle voorraad te verminder en hulle voorsieningskanale meer effektief te kry.

In Cook se eie woorde: “You kind of want to manage it like you’re in the dairy business. If it gets past its freshness date, you have a problem”.

Onder sy leiding is Apple ’n ongelooflike suksesverhaal en is tans die wêreld se grootste tegnologiemaatskappy met ’n 2022 inkomste van $394,3 miljard. In Maart 2023, word Apple die maatskappy met die grootste markkapitalisasie ter wêreld.

Bedryfsingenieurs is die “Jack of all trades” wat ’n organisasie meer laat doen met minder, wat dit verseker deur besigheidsprosesse te ontleed en te verbeter ongeag die bedryf, gewapen met ’n onderliggende filosofie dat daar altyd ’n beter manier is. Hulle is ’n groot aanwins vir enige onderneming en aanvraag na gekwalifiseerde ingenieurs wêreldwyd bly hoog. In ligte luim het ’n kollega by Tukkies – hy is ’n Metallurgiese ingenieur – eendag gesê “’n Bedryfsingenieur doen enige iets waarvoor jy ’n faktuur kan stuur”. Wat meer wil jy nou hê!