Ek luister vanaand na RSG Geldsake en ’n somber prentjie word vir die man op straat geskilder. Inkomstebelastingverhogings word in die vooruitsig gestel met die volgende begroting, pryse styg feitlik daagliks ongelooflik in ons winkels en die munisipaliteit sal met die volgende begroting weer eens drastiese verhogings hef om skuld te delg waarvoor ons nie verantwoordelik is nie.
Toe kom nog ’n bomskok. Amptenare skuld die munisipaliteit derduisende rande en moet dit binne ’n paar dae vereffen. Ongelukkig is hierdie “soen en maak op”-aanbod die punt van die ysberg! Kan ons verwag dat daar ’n volledige oudit gedoen gaan word oor wat aangaan?
Dit is duidelik uit mnr Paulse se aankondiging in die pers dat dit nie net skuld van vanjaar is nie. Hoe word uitstaande rekeninge gekontroleer – spesifiek van amptenare – en hoekom is daar nie daadwerklik opgetree soos teenoor ander inwoners nie?
Watter personeel in toesighoudende poste het hulle plig versuim en watter dissiplinêre stappe word teenoor hulle oorweeg? Dit dui tog sekerlik op onbevoegdheid of versuim van personeel wat dit moet kontroleer. Hierdie selfde probleem het die die afgelope paar jaar die huidige skuld van die munisipaliteit veroorsaak en hier ploeg ons nou maar net weer voort.
Ek dink die munisipaliteit skuld die inwoners ’n meer volledige verduideliking – probeer gerus die “name and shame”-taktiek! Wat van voormalige raadslede wat geld skuld en wie se name in die jaarlikse finansiële staat voorkom?
Elke jaar word daar ook miljoene rande in die munisipaliteit se finansiële state gewys as ongemagtigde, vrugtelose en vermorste uitgawes en word nêrens in die state genoem wat daaraan gedoen word nie. Die Ouditeur-Generaal lewer ook geen kommentaar daarop nie. Kan die raad inwoners meedeel wat daaromtrent gedoen word anders as dat die vorige ANC-raad daarvoor verantwoordelik is.
Dankie aan mnr Paulse en amptenare wat hierdie situasie ontbloot het met sy sterk optrede en dat hy die inwoners daarvan op hoogte gebring het.
Laastens is dit duidelik dat die huidige interne ouditeur se kantoor heeltemal onderbeman is en seer sekerlik nie al die klein jakkalsies kan opspoor nie. Gee gerus hieraan aandag – die kool is die sous werd!
– Charles Meyer, Oudtshoorn