Oudtshoorn se besigheidseienaars neem behoorlik die voortou en raap toekennings in ’n streep op.
Yolandi Schoeman, van LashXtend SA, het met die 1ste prys weggestap by die 2024 Woman and Home SA Beauty Awards in die Best Lash Kit kategorie. Sewe beoordelaars was dit eens dat haar reeks aanplakwimpers die beste produk in die land is.
Schoeman vertel dat die maatskappy op 1 Oktober 2022 gestig is. As ‘n skoonheidsdeskundige en eienaar van ’n skoonheidsalon het sy ondersoek ingestel na alternatiewe opsies vir aanplakwimpers.
“Ek is allergies vir die gom waarmee wimpers aangeplak word aangesien dit die produk, cryoacrylayes, bevat. Toe het ek navorsing gedoen oor alternatiewe metodes en opsies op die mark,” sê Schoeman.
Sy was ook haar eie proefkonyn en het vir maande lank verskillende opsies op haarself getoets.
Uit hierdie toetslopies is die wonderlike LashXtend-reeks gebore.
Dit is duidelik dat duisende verbruikers bevestig dat die produk se aanwysing as wenner welverdiend is.
“Dit was die beste nuus wat ek gekry het, ek het nie geweet of ek moet lag of huil of albei nie,” vertel sy.
Om hierdie groot mylpaal te vier, bied Yolandi aan alle kliënte ’n 10% afslag aan wat die uitknipstrokie saambring wat in dié week se uitgawe van Die Hoorn verskyn.
Daar is nog opwindende produkte in hierdie reeks op die horison vir LashXtend. Besoek gerus hul webtuiste by www.lashxtend.co.za of maak ’n draai by Feathers Body and Face Centre in Kerkstraat 135, waar die produkte ook te koop aangebied word.
LashXtend wen beste in SA
Yolandi Schoeman, eienaar van LashXtend, aanplakwimpers. Foto verskaf